Kry jou eie stukkie Oranjemund

Eerste 10 titelaktes oorhandig

30 July 2019 | Plaaslik
Augetto Graig - Die eerste 10 titelaktes vir private eiendom op Oranjemund is gister oorgedra.

Hierdie geskiedkundige geleentheid is deur Oranjemund se dorpsraad en Namdeb, die mynbouvennootskap tussen die regering en die diamantreus De Beers, gevier.

Inwoners van die dorp en ander Namibiërs kan vir die eerste keer hul eie blyplek op Oranjemund besit.

Tot 18 maande gelede het die dorp aan die myn behoort.

Me. Shangelao Ndadi, Namdeb se woordvoerder, sê die betrokke huise het tot nou toe aan die myn behoort.

“Ná die loonooreenkoms wat verlede week onderteken is, kan Namdeb-werknemers huise teen afslag koop. Die aankoop van Namdeb-eiendomme is egter gebaseer op die huidige inwoners se eerste reg op weiering,” sê sy.

Die Namdeb-eiendomme wat te koop is, behels 1 037 huise, 42 kommersiële geboue en 20 algemene woonkomplekse en kantore.

Die mynboumaatskappy beoog om die meeste van hierdie eiendomme vir private eienaarskap aan sy werknemers, dorpsbewoners en die algemene publiek te verkoop.

Namdeb behou slegs die eiendomme wat vir sy werksaamhede nodig is, sê Ndadi.

Ndadi sê die oordrag van die aktes is die eindresultaat van ’n jare lange proses.

“Met die proklamasie van Oranjemund tot ’n ope dorp in 2012 het Namdeb die dorp begin normaliseer in terme van eiendomseienaarskap en die voorsiening van munisipale dienste,” sê sy.

Saam met ander belanghebbendes word na die diversifisering van die myndorp se ekonomie gekyk om dit meer volhoubaar te maak, sê sy.

Namdeb se uitvoerende hoof, mnr. Riaan Burger, het gesê hy is opgewonde oor die bereiking van dié mylpaal danksy noue samewerking met die dorpsraad.

Volgens hom is private eienaarskap die sleutel tot die dorp se suksesvolle toekoms.

“As belanghebbers soos Namdeb, die dorpsraad en Oranjemund se gemeenskap saamwerk, het ons die vermoë om geleenthede te benut en ekonomiese groei en welvaart te skep,” sê hy.

Volgens Burger kan ekonomiese diversiteit net bereik word as mense hul eie woonplekke besit.

Mnr. Henry Coetzee, Oranjemund se burgemeester, sê Oranjemund se transformasie na ’n “normale” dorp is nou onomkeerbaar.

Ná verskeie vergaderings en baie harde werk is privaat eienaarskap op Oranjemund ’n werklikheid, sê hy.

“Vandag verteenwoordig nog ’n mylpaal sedert die dorp se amptelike opening in Oktober 2017,” sê hy.

Oranjemund is in 1936 deur Sir Ernest Oppenheimer se diamantmaatskappy, Consolidated Diamond Mines of South West Africa (CDM), gestig.

In 1994 het dié maatskappy ’n vennootskap met die Namibiese regering gesluit en Namdeb het tot stand gekom.

Omdat die dorp in die Sperrgebiet (of verbode diamantgebied) geleë is, kon mense van buite dit voorheen net besoek as hulle vooraf om ’n permit aansoek gedoen het.

Sedert Oktober 2017 het die dorp, met sy sowat 10 000 inwoners, sy isolasie verbreek toe sy toegangshek vir die buitewêreld oopgeswaai het.

Die toestroming van mense van buite plaas druk op die dorpsraad om in behuisingsbehoeftes te voorsien.

Mnr. Shali Akwaanyenga, uitvoerende hoof van die dorp, het vroeër vanjaar gesê hulle wil verhoed dat plakkerskampe opskiet, maar is bewus van die toenemende behoefte aan laekostebehuising.

Daarom is 100 gedienste erwe aan die Build Together-skema beskikbaar gestel, 50 gedienste erwe is vir die Shack Dwellers-verenging gegee en ’n verdere 150 aan soortgelyke skemas.

“Die gedienste erwe is in uitbreiding 10 geleë,” het hy toe gesê.

“Ons plan is om nog 300 erwe soos dié in uitbreiding 11 te diens en beskikbaar te stel,” sê hy.

Soortgelyk

 

Ministerie skors dokter ná skokkende bevalling

4 ure gelede | Plaaslik

Henriette Lamprecht Die dokter wat aan diens was tydens 'n normale bevalling in die Windhoek Sentrale ­Hospitaal toe 'n babadogtertjie onthoof is, is met onmiddellike...

Water-erosie dalk oorsaak van grondskeur

4 ure gelede | Plaaslik

Elvira HattinghDie skeur in die grond van sowat 20 km lank wat oos van Waterberg ná goeie reënneerslae verskyn het, is waarskynlik deur water-erosie veroorsaak....

Vyf damme nie meer dolleeg

4 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh Vyf damme wat dolleeg was, het ná goeie neerslae verlede week water gekry. Dit beteken altesaam is daar nou 2,654 miljoen kubieke meter...

STEMFEITE: NOORDE EN NOORD-OOSTE

4 ure gelede | Politiek

Die infografiek wys in hoeveel van sy tradisionele vestings die regerende party 80%, 90% of meer van alle stemme verower het.

Moratorium op uitvoer van hout opgehef

4 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - Nagenoeg 100 000 stukke hout van bome wat wettig op plase in die twee Kavangostreke en Zambezi afgekap en opgesaag is, mag...

Sioka as verleentheid beskou

4 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting – Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, is in die pekel oor opmerkings wat sy Dinsdag in die openbaar gemaak...

Vakansieganger vind lyk van seun op strand

4 ure gelede | Plaaslik

Die seun wat Sondag by Hentiesbaai verdrink het, se lyk is gevind. Dit is gisteroggend deur 'n Windhoeker gewaar wat op die strand by dié...

Beampte, wag in skietvoorvalle

4 ure gelede | Misdaad

Saterdag om 04:30 is 'n 18-jarige man by 'n kroeg in Donkerhoek in Katutura glo deur 'n veiligheidswag raakgeskiet en beseer. Die slagoffer het na...

Geslagsgeweld kán getem word

4 ure gelede | Misdaad

Dit is moontlik om die voorkoms van geslagsgeweld met die helfte te verminder. Dit vereis egter die toepassing van goed nagevorsde ingrypings, langtermyntoewyding en voldoende...