Krisis dreig by howe landwyd

Sukses neem af

07 February 2019 | Howe
Denver Kisting – Namibiese howe staar ’n krisis in die gesig.

Só sê hoofregter Peter Shivute.

Shivute het gister tydens die amptelike begin van die 2019-regsjaar gesê die hoërhof se werklading “bly teen ’n kommerwekkende koers groei”.

Volgens hom is die slakkepas waarteen die hoërhof sake afhandel die gevolg van verskeie faktore.

Die hoërhowe het verlede jaar 22% van die sake op sy rol afgehandel.

In die eerste plek, sê Shivute, pleit baie min beskuldigdes skuldig, wat meebring dat bykans alle geregistreerde sake tot volledige verhore lei.

“Daar is nie genoeg hofsale nie, omdat die bestaandes aan die behoeftes van straf- en siviele sake moet voldoen.”

Hiernaas, sê Shivute, is daar ’n baie hoë voorkoms van onvoltooitde sake weens prokureurs se dagboeke, wat deurgaans vol is of beskuldigdes, wat hul regsverteenwoordigers in die pad steek. Hy sê dit duur tussen ses en agt maande vir ’n opgeskorte verhoor om te hervat.

Aan die begin van 2019 kon ses strafverhore nie begin nie nadat regspraktisyns, wat vroeër aangedui het hulle sou beskikbaar wees, “om een of ander rede nie gereed was nie”, het hy gesê.

In ander sake kon prokureurs nie optree nie, omdat hul sake nie in orde was by die Regsvereniging nie en in een geval het ’n prokureur ’n dubbele bespreking gehad, het hy gesê.

“Dié neiging is steurend, omdat waarnemende regters in sommige van die gevalle spesifiek aangestel word om daardie sake aan te hoor. Wanneer verhore nie voortgaan nie, word openbare hulpbronne verkwis.”

’n Ander faktor wat vordering teëwerk, is ’n gebrek aan geriewe by die psigiatriese saal vir die evaluering van beskuldigdes se geskiktheid om verhoor te word, sê Shivute.

“Van die 86 beddens beskikbaar by die psigiatriese saal is net 16 toegewys aan die evaluering van beskuldigdes, wat deur die howe verwys word.”

Volgens hom lei dit tot ’n lang wagtydperk, wat die howe se vermoë om strafsake te begin en af te handel, raak.

Shivute het voorts gesê ’n opvatting dat die hoërhof stadig of huiwerig is om met korrupsie- en kinderhandelsake om te gaan, is verkeerd.

Sewe regters hanteer strafgedinge, het hy gesê.

Die hoërhowe het 114 sake oorgedra van 2017, 43 nuwes ontvang en uiteindelik 34 afgehandel.

’n Totaal van 28 sake is deur die Windhoekse hoërhof voltooi, terwyl ses op Oshakati afgehandel is.

In 2017 en 2016 is 21 en 22 strafverhore onderskeidelik afgehandel.

Op die appèlfront is 177 sake afgehandel. Dít verteenwoordig 44% van die totale sake.

Verlede jaar is 132 appèlsake by die hoërhowe aanhangig gemaak, terwyl 272 uit die vorige jaar dateer.

Wat hersienings betref in strafgedinge in die hoërhof is 145 oorgedra, 2 452 nuwes geregistreer en 2 116 – of 86% –afgehandel.

Shivute het gister eweneens kommer uitgespreek oor die landdroshofprentjie.

Hy is veral besorg oor die aantal uitstelle en onvoltooide verhore, wat “kommerwekkend hoog is”.

Hy het ’n beroep op die landdrostekommissie gedoen om vinnig die vakature van die hooflanddros te vul. Hy sê iemand word benodig wat die landdroskantoor kan herontwerp, dissipline toepas en die werketiek verander.

Namibië se landdroshowe het verlede jaar 134 minder sake tussen Januarie en September, as tydens die ooreenstemmende tydperk in die vorige jaar, afgehandel.

In die eerste nege maande in 2017 het dié howe 51% van sake op sy rol voltooi. Die syfer beloop 49% vir 2018.

Die hooggeregshof het verlede jaar minder appèlsake afgehandel as in 2017 en 2016.

Verlede jaar het dié syfer op 37 sake gestaan vergeleke met 45 in 2017 en 38 in 2016.

’n Totaal van 72 appèlsake is verlede jaar by die land se hoogste hof, die hooggeregshof, geregistreer.

Dit is minder as die 81 van 2017 en die 88 van 2016.

Pres. Hage Geingob het gister gesê die regering bejeën die oppergesag van die reg met erns.

Hy sê die administrasie van geregtigheid speel ’n rol in elke Namibiër se lewe.

“Die howe is die beskermers van ons demokratiese manier van lewe en menseregte soos deur die Grondwet gewaarborg.”

Geingob het opnuut klem geplaas op die onafhanklikheid van die regbank soos vereis deur die skeiding van magte.

Hy het onlangs onder skoot beland weens sy beweerde inmengery by die Windhoekse stadsraad (CoW) se bedrywighede, wat deur sommige as ’n verontagsaming van die skeiding van magte beskou is.

Die staatshoof het voorts gevra dat wette gemaak word om ’n aantal maatskaplike euwels, wat sosioëkonomiese vooruitgang in die wiele ry, te probeer hokslaan. Die president sê hy is veral bekommerd oor die voorkoms van geslagsgegronde geweld.

“Dit is ’n bron van reusekommer dat ons deurlopend onskuldige lewens verloor, veral van vroue en meisies, as gevolg van geslagsgegronde geweld, wat meestal deur mans gepleeg word.”

Soortgelyk

 

Wilde perde: Jongste vul reeds aangeval

4 ure gelede | Ministeries

Tanja Bause - Enige hoop op oorlewing van die Namib se wilde perde krimp al meer, terwyl die ministerie van die omgewing en toerisme na...

Leerlingdokters 'van swakker gehalte'

4 ure gelede | Onderwys

Henriette Lamprecht - Namibië bestee al ses jaar lank geld aan die opleiding van mediese studente in die buiteland.Volgens mnr. Cornelius Weyulu, registrateur van die...

Regulasies vir loterye en dobbel kom

4 ure gelede | Toerisme

font face="Verdana" >Francoise Steynberg - Alle rolspelers in die lotery- en dobbelbedryf moet landswye openbare werkwinkels bywoon sodat regulasies volgens nuwe wetgewing opgestel kan...

Gesondheidsmanne vas oor hospitaaltender

4 ure gelede | Ministeries

Twee administratiewe beamptes van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste se kantoor op Otjiwarongo is op borgtog van N$5 000 elk vrygelaat ná hulle...

Weer, Woensdag 20 Februarie 2019

4 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en baie warm in die verre noordooste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele reënbuie in die...

Twee kinders met stok doodgeslaan

4 ure gelede | Misdaad

’n Angolese burger is in hegtenis geneem ná hy twee minderjarige kinders na bewering doodgeslaan het en hul ouma ernstig gewond het. Die voorval het...

Weerwaak teen hitte uitgereik

4 ure gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor sê die kanse op reën is besig om te verbeter in die noordwestelike dele van die land, asook in die Khomasstreek, waar...

Duister SA bekommer NamPower nie

4 ure gelede | Energie

Augetto Graig - Namibië se nasionale kragverskaffer, NamPower, sê Suid-Afrika se kragverskaffer, Eskom, is nie die enigste bron waarmee plaaslike krag aangevul word nie. “Namibië...

Pack Safari open toergids-akademie

4 ure gelede | Toerisme

Pack Safari het amptelik die deure van sy toergids-akademie in Windhoek oopgemaak. Die akademie bied gratis beroepsopleiding aan plaaslike, Duitssprekende toergidse met FGASA Veldgids vlak...