Koringkriek vir die fynproewer
Koringkriek vir die fynproewer

Koringkriek vir die fynproewer

Tanja Bause
Tanja Bause – Onthou julle jul kinderjare en hoe ongelooflik dit was?

Ons het as kinders buite in die modder en sand gespeel sonder dat ons ma's 'n hartaanval gekry het. Vandag se kinders mag nie meer nie, want hulle kan siek word. Hulle kan ook nie alles in hul monde prop soos ons gedoen het nie, want daar is ongelooflik baie kieme wat rondswerf en hulle kan vernietig, of só dink vandag se ma's.

Ons het as kinders baie saam met ons ouers en hul vriende gaan kamp. Oral die land verken. Daar was altyd 'n spul kinders van omtrent dieselfde ouderdom.

Ek onthou die een seun, kom ons noem hom André, het kort-kort verdwyn as ons in die somer gaan kamp het.

André was seker so 10 jaar oud.

Elke keer as hy weer by ons aangesluit het, was sy mond geel. Hy het 'n geel sous reg rondom sy mond gehad, wat niemand kon verstaan nie. Tot ons een dag besluit het om ondersoek te gaan instel.

André het weer verdwyn en ons het hom op 'n veilige afstand gevolg. Hy het in die grasse en bosse iets gesoek en ná 'n lang ruk gevind wat hy so soek. 'n Dik, vet koringkriek.

André het die koringkriek gevang soos net 'n professionele koringkriekvanger kan, en 'n groot hap uit die agterkant gevat.

Die sous het behoorlik gespat en André se gesig het 'n uitdrukking van pure plesier op gehad. Dit het gelyk of hy besig is om die wêreld se beste fynkos te eet. Van ons ander kinders het vir 'n oomblik oorweeg om ons eie een te vang – 'n idee wat ons vinnig weer laat vaar het toe ons die diertjie in die hande kry en sien hoe loer dit vir ons.

André het dan altyd die kop en bene laat val en sy volgende maaltyd gaan soek.

Vandag is hy die pa van twee mooi kinders en is 'n baie suksesvolle sakeman. Ja, André leef nog en dit gaan goed – al het hy as kind elke somer koringkrieke by die dosyne verslind.

Ons het soveel meer vryheid as kinders gehad.

Dit is nie dat ons ma's nie omgegee het nie – inteendeel – hulle het ons toegelaat om kinders te wees.

Kinders wat kan seerkry, want só leer hulle, kinders wat alles in hul monde druk en dan besluit of hulle daarvan hou of nie.

Kinders wat mekaar met kleilatte of koeimis gegooi het.

As ons weer ná so 'n koeimisgeveg met die buurplaas se kinders by die huis aangekom het, het my pa ons buite op die grasperk laat staan en ons met die tuinslang skoongespuit.

Watter kind van vandag kan nou nog sê die beste mis is as jy agter die koei aanloop en wag? Dan is dit vars, warm en nie hard nie, so niemand se oog kan uitgegooi word nie.

Ons het met ons fietse deur die hele buurt gery en ons pa het vir ons 'n hindernisbaan uit ou planke en bakstene in die erf gebou.

Ons het dit gedoen sonder 'n helm en hier is ons steeds.

Ek besef kinders kan vandag nie eenvoudig in die buurt met hul fietse rondry nie, en dit maak my baie hartseer, want ek voel kinders van vandag loop soveel avontuur en pret mis.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!