Koos, Koos en Casper bied nuwe luistergenot in Afrikaans

Lloyd Zandberg
Droom Martha Droom – Koos van der Merwe

Die titel van ’n album is net so belangrik soos die eerste lied. Daar lê waarskynlik baie wik en weeg in wat aandag gaan trek nog voordat ’n mens na ’n album geluister het.

Hoewel baie mense ’n album van Koos van der Merwe sal koop, al sing hy kleuterliedjies, tref die titel van sy jongste album, Droom Martha Droom, die oog. Die eerste lied, Hart van Afrikaans, is eweneens ’n wip wat jou vashou sodat jy eenvoudig verder moet luister.

Nie lank gelede nie het Van der Merwe jou verstom met sy nommerpas-vertalings van Leonard Cohen en Bob Dylan se lirieke in Afrikaans. Vier van die liedjies op die album kom van daardie albums, maar die res is sy eie digkuns, sy eie musiek en sy eiesoortige vertolkings van liedjies wat tot die hart spreek.

Die een oomblik wil emosie jou oorweldig oor hoe presies hy die liefde en die lewe kan vasvat. Dan volg hy dit op met die stouterige en humoristiese Katoen oor die oorbodigheid van die lap tussen vel en vel.

Die dansritmes wissel van ’n tango tot ’n wals of twee. Daar is blues, Gert Vlok Nel wat help sing aan Op die hoek van 1998 en Derde Straat, Anna Davel en klavier wat bydra tot die skoonheid in Steek aan die kerse en die musiek van mondfluitjie, viool, klavier, trekklavier, kitaar en musiekverwerkings wat ’n welluidende, vol en ryk klank verskaf.

Die laaste lied, Tevredenheid, is heel gepas die gevoel wat die album by jou laat.

Langpad na lekkersing – Koos Kombuis

Waantoe gaan ons nou?, die eerste lied op Koos Kombuis se nuwe album, laat jou dink aan ’n kerklied wat iewers by die derde vers vra: “Heer, waar dan heen? Tot U alleen!”

’n Kort draffie deur Suid-Afrika se geskiedenis tot by die hier en nou en die vraag: Wat nou gedaan?

Langpad na lekkersing is Koos Kombuis se 14de album en is opgedra aan die musieklegende David Kramer. Kramer sing saam op Ek wil net huis toe gaan.

Die album wemel van nostalgie, herinneringe aan tye en dinge wat hy besing, maar waarby vele aanklank sal vind.

Veral die lied Alleen, met minimale begeleiding, laat jou dink aan die toestand ectopia cordis waar die hart buite die liggaam klop.

Hier en daar blom bitterheid, maskers word afgehaal en ’n mes word in ’n wond gedraai. Huis, berusting, eensaamheid, nostalgie en waarheid sonder doekies omdraai en al die dinge waaraan elkeen ouer as 60 dink, kom ter sprake. Die res wat nog nie daar is nie, kan ook maar luister, veral na die lied Wag hier tot die son opkom.

Ja, daar is Die trots Suid-Afrikaanse fokkol song waarsonder ’n mens dalk sou kon glo Koos Kombuis is gemuilband of dalk net ontnugter omdat daar toe nié ’n pot goud aan die eindpunt van die reënboog is nie.

Saam – Casper Ace

Daar word soms ligtelik gespot met iemand wat só diplomaties is dat hy iemand kan hel toe stuur dat hy daarna sal uitsien.

Casper Ace kry dit reg om ernstige vrae te vra en maatskaplike en omgewingskwessies aan te pak op die maat van polsende musiek wat jou laat lus kry om jou hare los te skud en jou lyf aan die ritme oor te gee. ’n Goeie voorbeeld is die lied Dans. Die koperblasers se rol op die album verdien vermelding, so ook die viool wat saamsing in die lied Hartomkeer.

Draalnoot is deur Henry Jack Cloete se roman Draalnoot vir ’n janfiskaal geïnspireer. Hier is ’n goeie voorbeeld van kruisbestuiwing tussen verskillende kunsvorme.

Ace vertel stories waarna ’n mens kan luister, maar die meeste van hulle is baie lank. Soms kry ’n mens lus om na die volgende lied te spring. Maar wie is ’n kriewelrige luisteraar om met ’n ander man se storie in te meng?

Ace het voor sy sololoopbaan saam met onder meer Valiant Swart en Koos Kombuis opgetree en hy was ook vir ’n jaar lank by die komponis Pierre-Henri Wicomb se jazzgroep, Die Wilde Olywe, betrokke. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!