Kombatters betoog teen Katti
Kombatters betoog teen Katti

Kombatters betoog teen Katti

Inwoners van huise dring aan op dokumentêre bewyse van nuwe eienaarskap.
Catherine Sasman
Catherine Sasman



Inwoners van Kombat het Saterdag op dié nedersetting teen die verhoogde huurbedrae op hul huise betoog.

Dit is deur die eiendombestuursmaatskappy, Kombat Village Properties, namens mnr. Knowledge Katti ingestel.

Inwoners sê hulle word nou gedwing om die huise waarin hulle woon, te huur ofskoon baie van hulle die huise al sedert die vroeër 2000's afbetaal en onder die indruk verkeer dit behoort aan hulle.

Hulle voer aan dit is die geval nadat Katti die nedersetting sowat drie jaar gelede gekoop het.

Van hulle was verlede week in Windhoek om met prokureurs te konsulteer oor die huise wat hulle sê hulle die titelaktes kan toon. Hulle het dit by die vorige eienaar, Ongopolo Mining and Processing, gekoop.

Dié gebeure volg nadat Kombat Village Properties die inwoners in Oktober verlede jaar in kennis gestel het die nuwe huurooreenkomste sal ingestel word “in pas met die voorneme om Kombat in 'n volhoubare dorp te omskep”.

Die ooreenkomste het in November verlede jaar in werking getree en die bedrag beloop N$2 750, water en elektrisiteit uitgesluit.

Baie van die inwoners weier om die ooreenkomste te onderteken en voer aan die verhoging is “reus­agtig”.

Kombat Village Properties sê diegene wat nie in staat is om die huur te betaal nie, sal genoodsaak wees om alternatiewe blyplek te soek.

“Hulle dreig en beledig ons. Hulle gryp ons huise. Ons is nie gelukkig nie en wys ons is woedend,” sê een van die inwoners, me. Magdalena Petrus. Sy sê baie voorvalle van intimidasie is reeds by die polisie op Kombat aangemeld, maar niks het daarvan gekom nie.

'n Ander inwoner, me. Johanna Shilongo, sê sy en omtrent 50 ander mense betaal sedert 2002 hul huise af. Sy sê sy het in 1995 by Tsumeb Corporation Limited (TCL) se ­kopermyn begin werk, wat in 1999 deur Ongopolo gekoop is.

In daardie tyd het werknemers net huur en elektrisiteit betaal, water was gratis, sê sy.

In 2001 het Ongopolo 'n kennisgewing uitgereik en werknemers ingelig die huise word verkoop en hulle het eerste opsie.

Shilongo sê in daardie stadium is die transaksies nie beklink nie, want die voormalige goewerneur van Otjozondjupa, mnr. Theophelus Eiseb en die Otavi-streekraadslid, mnr. Bartholomeus Shagheta, het aanbeveel Kombat moet eers geproklameer word.

Dit is toe in Mei 2006 tot 'n woonbuurt verklaar wat uit 279 erwe bestaan waarvan sommige as staatseiendom gereserveer is. In Augustus daardie jaar is dit tot 'n ­nedersetting onder die bestuur van die Otjozondjupa-streekraad verklaar.

Weatherly International Plc het Kombat in daardie jaar oorgeneem, met sake wat sedertdien weer verander het.

“Ons betaal nou die mense wat vir Katti werk. Ons is nie gelukkg nie, want hy het in 2015 of 2016 gekom en gesê hy het die dorp gekoop. Ons betwis dit,” sê Shilongo.

Katti se prokureur, mnr. Elia Shikongo, het by navraag gesê die oordrag het sowat drie tot vier jaar gelede geskied.

Hy kon nie sê hoeveel Katti vir Kombat betaal het nie, behalwe om te noem dit was 'n “rug-aan-rug- transaksie waarin die waarde in natura (in goedere) uitgereik is”.

­Shilongo meen die gerugte dat Katti Kombat gekoop het, is verwarrend en voeg by die gemeenskap dring aan op dokumentêre bewyse van dié transaksie.

“Ons verstaan nie hoe kon Kombat aan 'n privaat persoon verkoop word as ander mense hier woon nie. Ons wil van die regering weet hoe dit gebeur het,” sê die bejaarde mnr. Ernst Mburuu.

Hy sê inwoners het reeds talle briewe aan die huidige goewerneur, mnr. Otto Iipinge, en raads­lede gestuur om in te gryp, maar dit was sonder enige sukses.

“Hoekom raak die regering nie betrokke nie? Hulle hoor wat besig is om op Kombat te gebeur, maar traak nie 'n duit nie. Niemand kom om na ons te luister nie,” sê Mburuu.

Shikongo sê net twee of drie mense het verkoopsooreenkomste vir die huise waarin hulle woon. Die ander het nog altyd net huur betaal.Hy sê baie weier om huur te betaal en moedig ander aan om hul voorbeeld te volg.

Volgens Shikongo is die bewys van nuwe eienaarskap van die nedersetting aan hulle getoon, en voeg by dié kwessie word as verskoning aangevoer vir waarom hulle nie huur betaal nie. Hy sê 15 uitsettings­bevele is reeds uitgereik, terwyl ander kennis­gewings ontvang het om te betaal, of ook uitgesit te word.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!