Knellende koorddans

Bestedingsrieme in die nuwe begroting is nie so dun as verwag gesny nie, want die minister van finansies sê die ekonomie moet gestimuleer word.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – Ontwikkeling, spesifiek die plaaslike konstruksiebedryf, moes die onderspit delf sodat mnr. Calle Schlettwein, die minister van finansies, die regering se bestedingskerf in die nuwe begroting met "net" N$1 miljard kon oorskry.

“Volhoubare ontwikkeling beteken ontwikkeling sonder om jou hulpbronne uit te put. Soos vir alle nasionale hulpbronne geld dit ook vir openbare geldbronne,” het Schlettwein gistermiddag gesê toe hy sy 2017-’18-begroting in die parlement ter tafel gelê het.

Die begroting maak voorsiening vir totale besteding van N$62,5 miljard. Dit is 1,7% hoër as wat hy in sy halfjaar-begrotingshersiening in Oktober verwag het. Lopende uitgawes van bykans N$55,9 miljard - 89% van totale besteding – is 2,4% meer as in die hersiende begroting.

Om sy somme te help klop, het Schlettwein die ontwikkelingsbegroting met bykans 3% gesny. Vergeleke met die bedrag wat hy verlede Februarie in sy bestedingsraamwerk vir die medium-termyn (MTEF) vir ontwikkeling opsygesit het, is die nuwe ontwikkelingsbegroting egter sowat N$4 miljard of 38% minder.

Die fokus in die nuwe ontwikkelingsbegroting is die opknapping van die spoornetwerk, die voortgesette uitbreiding van die hawe op Walvisbaai, nasionale paaie, waterinfrastruktuur en die diens van erwe vir die massabehuisingsprojek.

Volgens Schlettwein sal die begroting onder meer die ekonomie stimuleer en impak van die reuse-besnoeiïngs in die hersiende begroting versag. Terselfdertyd sal dit regeringsbesteding in ooreenstemming met nasionale ontwikkelingsprioriteite bring. Dié balanseertoertjie is ‘n uitdaging, sê hy.

Die tema van die nuwe begroting is voortgesette bestedingskonsolidasie wat groei aanwakker en ‘n impak maak waar dit nodig is. Dit is nou meer as ooit ter sake, sê Schlettwein.

UITGAWES

Deel van Schlettwein se hoër as verwagte uitgawes is N$1,8 miljard wat die regering nou vir uitstaande rekeninge van 2016-’17 aan die private sektor moet opdok.

Uit die N$4,6 miljard waarmee die belastingbetaler ondernemings in staatsbesit (SOE’s) in die nuwe begrotingsjaar gaan subsidieer, is sowat N$1,85 miljard vir lopende uitgawes.

Die totale vergoedingspakket van die staat se 90 650 amptenare is 15% meer as verlede jaar, beloop N$28,1 miljard en is 45% van totale besteding.

“Ja, dit is onvolhoubaar hoog,” het Schlettwein in sy begrotingsrede erken. Dié risiko is nou ‘n “werklike bedreiging” vir gehalte en tydige dienslewering aan Namibiërs, het hy gesê.

Verskeie ingrypings word oorweeg om dié situasie te beredder: Die vries van poste, ‘n heroorweging van bonusse en toelaes, asook die hersiening van die mediesefondsvoordele van Psemas. Die regering se Psemas-bydraes vir 2017-’18 gaan met 19% tot meer as N$2,5 miljard styg, terwyl amptenare se salarisse wat byna 15% hoër is, amper N$24 miljard gaan kos.

Reis- en verblyftoelaes, asook uitgawes op voertuie en kantoortoerusting is drasties gesny. Reis- en verblyftoelaes vir 2017-’18 is 41% minder as in die huidige begrotingsjaar, terwyl besteding op voertuie met 71% gesny is en 46% minder op kantoormeubels en –toerusting bestee gaan word.

SACU

Danksy ‘n verwagte inspuiting van bykans N$19,6 miljard uit die inkomstepoel van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu), 39% meer as in 2016-’17, behoort die begrotingstekort met bykans N$3,9 miljard tot N$6,1 miljard te krimp. Waar dit in die huidige boekjaar 6,3% % van die bruto binnelandse produk (BBP) beloop, sal dit na verwagting nou 3,6% wees.

Die regering se totale skuldlas gaan met sowat 7% tot meer as N$71 miljard styg. Teen ‘n verwagte 42% van die BBP, is dit steeds aansienlik hoër as die regering se drumpel van 35%.

Sowat 60% van die totale skuldlas sal deur die Namibiese mark gefinansier word. Dié bykans N$43,3 miljard is 3,7% hoër as in 2016-’17. Buitelandse skuld sal met 11,8% tot sowat N$28,4 miljard styg. Die rente wat die regering op sy totale skuld moet betaal, beloop sowat N$5 miljard, 28% meer.

JAN TAKS

Ondanks binnelandse inkomstebronne wat onder druk is, het Schlettwein besluit om geen belasting te verhoog óf nuwe belastings af te kondig nie. Hervormings aan belastingadministrasie en ‘n nuwe belastingbeleid word wel oorweeg.

Sowat N$10,7 miljard uit inkomstebelasting sal na raming in 2017-’18 die staatskoffers vul, bykans een persent minder as in die huidige begrotingsjaar. Maatskappybelasting sal na verwagting met 4,5% tot sowat N$7,8 miljard daal.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!