Klimaatskuiwe ‘n uitklophou vir ‘woestyn se baas’?

Blik op Namibië se endemiese duinlewerik

02 August 2019 | Omgewing
Elvira Hattingh - Plaaslike navorsing dui aan dat temperature in Suider-Afrika besig is om te styg en navorsers meen dit kan ‘n impak hê op byvoorbeeld voëlspesies wat reeds in uiterste habitatte soos die Namibwoestyn moet oorleef.

Juis hieroor is me. Jessica Roberts van Gobabeb Namib Navorsingsinstituut in die Namib-Naukluft Park besig om haar meestersgraadstudie te doen oor Namibië se unieke duinlewerik, ‘n voël wat sy ontstaan in die Namib het en slegs hier voorkom.

Haar studie vorm deel van wêreldwye navorsing genaamd die “Hot Birds”-projek, waaraan verskeie universiteite onder leiding van die Universiteit van Pretoria se dierkundedepartement, asook die FitzPatrick Instituut vir Afrika-ornitologie by die Universiteit van Kaapstad deelneem.

Roberts sê navorsing toon dat temperature in Suider-Afrika inderdaad besig is om te verhoog.

“By Gobabeb self het ons reeds ‘n 1°C-toename in die daaglikse gemiddelde maksimum temperatuur oor die afgelope 50 jaar gesien. Temperature in die Kalahari verhoog vinniger en het na verwagting met 6 °C oor dieselfde tydperk gestyg.

“Ons glo die warmer weer sal die kwaaiste in die sentrale en westelike dele van Suider-Afrika gevoel word,” het Roberts gesê.

Waarom is dit ‘n probleem?

“Soos die lug warmer word, verhoog dit sy vermoë om meer vog te hou. Dit beteken die lug sal meer water vanuit die grond se oppervlak opsuig, en verdampingskoerse uit damme en plante verhoog. Dit sal droogtes vererger.

“Dit beteken ook dat wanneer dit wel reën, sal die neerslag sterker en hard wees, wat vloede en modderstortings kan vererger en gewasse kan beskadig.

“Reeds uiterste toestande word dus vererger en dit sal sake veral moeilk maak vir spesies wat in harde omgewings soos woestyne moet leef,” het Roberts verduidelik.

STUDIE

Roberts sal dienooreenkomstig bestudeer hoe duinlewerikke hul gedrag verander om hitte tydens die dag te reguleer.

“Dit behels drie dinge.

“Eerstens, die tyd wanneer hulle kos soek en teen watter temperatuur hulle tekens van hittestres begin toon deur te hyg, hul vlerke te laat hang en na skaduwee begin soek.

“Tweedens, watter mikro-habitatte hulle gebruik en hoeveel hiervan tot hul beskikking is – met ander woorde, gebiede in hul groter habitat wat verskillende temperature het, soos bevoorbeeld skadugebiede onder plante.

“Derdens monitor ek hul massa elke oggend en aand,” het Roberts gesê.

Volgens Roberts kan stygende temperature weens klimaatsverandering ‘n baie nadelige uitwerking op byvoorbeeld duinlewerikke hê.

Sy sê klein endotermiese diertjies, oftewel diere wat interne liggaamshitte kan produseer, verloor sowat 5% van hul massa snags deur te probeer warm bly.

“Dit kom neer op ‘n verlies van 1,2 tot 1,3 gram vir ‘n voël wat 25 tot 27 gram weeg,” het Roberts gesê.

Volgens haar moet die voëls hiervoor opmaak sodat hulle nie hul ligaamskondisie inboet nie. As hulle nie genoeg in die dag kan eet nie omdat dit te warm is en hulle in die skaduwee moes rus, kan hul algemene massa dieselfde bly of verminder.

“As dit vir te lank aanhou, sal dit die voël se gesondheid en broeisukses beïnvloed.

“In my studie gaan ek probeer vasstel watter temperature duinlewerikke by Gobabeb kan verdra. Uiteindelik gaan dié inligting gebruik word om ‘n model te skep van die huidige asook toekomstige verspreiding van duinlewerikke,” het Roberts gesê.

Volgens haar is dié metode vantevore in verskillende Hot Birds-projekte gebruik, maar dit sal die eerste keer wees dat hulle tesame gebruik word, asook die eerste keer in die Namib.

“My studie is ook een van min op ‘n voëlspesie wat ‘n geografies-beperkte verspreidingsgebied het,” het sy gesê.

“Ek is van die min wat vrylopende, wilde voëls in my studie bestudeer. Ons sal slegs voëls naby Gobabeb hanteer wanneer ons hulle identifikasiekleurringe asook Safring-ringe gee en hul mates neem.

“Sommige hiervan is reeds afgehandel deur die professionele Swakopmundse Safring-voëlringers, mnre. Mark Boorman en Hartmut Kolb.

“Ná my studies sal Safring voortgaan om hierdie voëls te monitor om te sien hoe oud hulle word.

“Die benadering om die voëls so min as moontlik te hanteer, verminder hul stres en laat toe dat die dier se natuurlike drag bestudeer kan word,” het Roberts gesê.

UNIEKE DUINLEWERIK

“Die duinlewerik is spesiaal omdat dit Namibië se enigste ware endemiese voël is en in ‘n beperkte gebied voorkom, vanaf die Namib Duinesee waar dit Walvisbaai bereik tot by Lüderitz.”

Endemies beteken dit is inheems en kom nie elders voor nie.

Roberts sê die duinlewerik is die enigste voël wat voltyds in die Namib Duinesee voorkom en die bestudering daarvan sal wetenskaplikes help om te verstaan hoe voëls binne ‘n habitat van uiterstes aanpas.

Roberts se veldwerk vir haar studie begin volgende maand en sal teen April volgende jaar afgehandel wees.

“Ek hoop om my finale projek teen September 2020 in te handig en so my meestersgraad te voltooi. Ek wil die studie in beide wetenskaplike joernale en die media publiseer,” het sy gesê.

Roberts sê die duinlewerik is deel van die Karoo-lewerikkompleks – ‘n nou verwante spesie wat in die suidelike Namib en die Karoo voorkom.

“Dit sluit ook die Karoolewerik, die rooilewerik en Barlow se lewerik in.

“Elke spesie het sy eie spesifieke verspreidingspatroon en habitat. Die duinlewerik het ‘n valer rug as die ander lewerikke, met fyn strepies op sy voorste wit dele asook ‘n wit wenkbroustreep.

“Dit is kleiner as die ander lewerikke en weeg gemiddeld 27g. Dit het ook langer bene en ‘n langer treelengte sodat dit vinniger oor warm sand kan hardloop.

“Dit eet meestal sade en insekte en maak nes aan die onderkant van lang duingras. Dit maak ‘n koepelvormige sodat sy holgeskraapte nes skaduwee kan hê. Die nessie word met sagte gras en vere uitgelê,” het sy gesê.

Roberts sê sy verwag om tydens haar veldstudie te ontdek dat die voëls in die skaduwee gaan skuil wanneer die sand ‘n temperatuur van sowat 50 °C bereik.

“Ek verwag dat ‘n lugtemperatuur van 35 °C ‘n belangrike keerpunt vir die duinlewerik gaan wees omdat dit die geval vir ander lewerikke in die Kalahari was. Ek glo ook dat vog van die kus af ‘n invloed op die voëls se kossoekgedrag sal hê omdat dit skaduwee bied. Dit is egter steeds net raaiskote,” het sy gesê.

HOT BIRDS-PROJEK

Roberts het verduidelik die Hot Birds-navorsingsgroep, waarvan haar studie deel vorm, ‘n samewerkingsprojek deur verskeie universiteite is. Dit is gebaseer by die Universiteit van Pretoria se dierkundedepartement asook die FitzPatrick Instituut vir Afrika-ornitologie by die Universiteit van Kaapstad.

“Dit is in 2009 deur wyle prof. Phil Hockey, toe die FitzPatrick-direkteur, asook prof. Andrew McKechnie van die Universiteit van Pretoria gestig. Die doel hiervan is om die gedrag en fisiologie te bestudeer van woestynvoëls wat hittestres ervaar en om sodoende vroeë tekens van klimaatsverandering waar te neem.

“Wat oorlewing betref, word woestynspesies dikwels reeds tot die uiterste beproef, spesifiek hul toleransiegrense. Daarom is hulle ideaal om as vroeë waarskuwing te dien van wat die impak van klimaatsverandering is.

“Deur hul termiese fisiologie en gedrag in verband met temperatuur op beide gemeenskaps- maar ook spesievlakke te bestudeer, verstaan ons hoe en hoekom die voëls met klimaatsverandering aanpas, of ook nie gaan aanpas nie.

“Die huidige span bestaan uit ‘n span professors, dosente, post-doktorale en ander studente, asook navorsingassistente van die Universiteite van Australië, Frankryk, Engeland, Kanada, Amerika en Suid-Afrika,” het Roberts gesê.

OOR DIE NAVORSER

Roberts sê sy het in Windhoek grootgeword, maar was bevoorreg om oraloor die land te kon gaan kamp tydens die meeste vakansies omdat beide haar ouers bioloë was.

“Ek was ook al by baie voël- en wildtellings betrokke en het reeds baie ure bestee om net na die wêreld te sit en te kyk hoe selfs die kleinste miertjie en by besluite neem.

“Ek kan nie onthou dat ek ooit nié in diere belangestel het en hoe hulle met mekaar en hul omgewing interaksie het nie.”

Roberts sê sy het die eerste jaar nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het eers ‘n rusjaar geneem en as ‘n aktiwiteitsinstrukteur in Skotland gewerk. Hier het sy mense geleer hoe om 4x4’e in modder te bestuur, te kayak en met ‘n luggeweer, pistool, en pyl en boog te skiet.

“Ek het besef dat ek dit geniet om my kennis met klein groepe mense te deel en het die jaar werklik geniet.

“Ek het teruggekeer en by die Universiteit van Kaapstad aangesluit vir voorgraadse studies in ekologie en evolusie, asook toegepaste biologie. Daarna het ek my honneursgraad in biologie ook gedoen.

“Ek het besluit om ‘n weer ‘n rusjaar te neem en ‘n bietjie ervaring in die ‘werklike lewe’ te kry. Ek het dus aansoek gedoen vir verskeie ekologiese internskappe en junior navorsingsposisies in beide Namibië en Suid-Afrika.

Só het Roberts by Gobabeb beland.

“My pligte as junior navorser het ingesluit om te help met langtermynmonitorprojekte in die sentrum, wat behels het die maak van daaglikse opnames van die weer, die aanteken en vrylating van kewers wat in valpitte beland en maandelikse navorsing te doen oor die !Nara en welwitschia se groei.

Roberts sê sy het ook gehelp om besoekende groepe op toere te neem en skoolgroepe oor ekologie en die woestyn te leer, asook oor hoe om hul eie mini-wetenskapprojekte te doen.

Sy sê tydens die jaar het wetenskaplikes van oraloor die wêreld by Gobabeb kom bly en sommige van hulle sou voorleggings oor hul studies lewer.

“Een van die gaste was McKechnie van die Hot Bird-navorsingsprojek. Ná sy voorlegging het ek hom gevra of hy nie na ‘n meesterstudent soek nie en hoe ek daarvoor kan aansoek doen.

Hy het daarin belang gestel om dié projek se navorsing na die Namib uit te brei en het gemeen ‘n Namibiese student sal goed te pas kom, veral omdat ek reeds by Gobabeb gestasioneer is.

“Ek het by die Universiteit van Pretoria aan die begin van hierdie jaar registreer. Danksy McKechnie word my studies ten volle deur die Nasionale Navorsingsfonds van Suid-Afrika deur middel van die Sentrum vir Uitnemendheid by die FitzPatrick-instituut gefinansier.

JY KAN HELP

Roberts sê Namibiërs wat wil help, kan dit doen deur die bekende drie r’e toe te pas - reduce, reuse, recycle.

“Gebruik minder water, verminder jou afhanklikheid van fossielbrandstowwe, beweeg na sonkrag – veral in ons sonnige hoek in Afrika.

“Rus jou huis toe met ‘n tenk wat reënwater opvang en sonkrag-elektriese hibriede geisers. Hou die termostaat op 60 °C. Koop minder produkte – veral dié wat ingevoer word – en hergebruik items so veel as moontlik.

Die duinlewerik se habitat word as ‘n wêrelderfenisgebied bewaar en word nie in ‘n groot mate deur mense bedreig nie, maar veel meer deur klimaatsverandering.

“Bly op gemerkte paaie en moenie in ons woestyne of op strande rondry nie, dit sal help om verskeie spesiale diere te beskerm wat in hierdie moeilike omstandighede moet oorleef. Baie van hulle grou hulleself in die dag onder die sand in en kan misgekyk word.

SIMPOSIUM OP GOBABEB

Gobabeb het vanaf 22 tot 26 Julie ‘n simposium oor die Hot Birds-projek aangebied.

“Die doel van die geleentheid was dat navorsers van die projek byeenkom om te gesels oor die vordering wat hulle oor die afgelope dekade gemaak het.

“Daar was meer as 20 aanbiedings binne die eerste drie dae, waarin vorderingsverslagte en huidige projekte bespreek is. Dit sal opgevolg word deur ‘n beplanningsessie oor wat ons in die toekoms wil navors. Ons het ook die sentrale Namib verken,” het Roberts gesê.

Volgens haar fokus die Hot Birds-navorsingswerk op die Kalahari-gebied in Suider-Afrika, asook op Amerika se Sonoraanse woestyn en die woestyne van Australië.

“Prof. Andrew McKechnie van die Universiteit van Pretoria is aan stuur van die fisiologie-kant van die navorsing, terwyl navorsing oor die gedragsaspekte deur dr. Susie Cunninghan van die Universiteit van Kaapstad gelei word.

“Dr. Ben Smit by die Rhodes Universiteit is ‘n groot medewerker en fokus op voëls van die fynbosgebied. Prof. Blair Wolf van die Universiteit van New Mexico en prof. Michael Kearney van die Unvirsiteit van Melbourne het ook by die simposium aangesluit.”

Soortgelyk

 

14 'wildmisdadigers' vas

4 ure gelede | Misdaad

Altesaam 14 vermeende wildmisdadigers is verlede weke in hegtenis geneem, van wie vier elk in verband met renoster- en olifantstropery of horing- of ivoorsmokkelary of...

Verklaar raad nietig, sê Itula

21 ure gelede | Politiek

Henriette Lamprecht - Dr. Panduleni Itula, tandarts van beroep en onafhanklike presidentskandidaat in die pas afgelope verkiesings, wil hê die aanstelling van nuwe lede van...

Makalani’s se voete in die water

21 ure gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor het gister wéér ’n weerwaak vir wydverspreide donderstorms uitgereik, wat na verwagting in die Ohangwena-, Otjozondjupa-, Khomas- en Omahekestreek sal voorkom. Daar...

Opposisie, Itula gaan hof toe oor verkiesings

21 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het gister by monde van sy leier, mnr. McHenry Venaani, gesê hulle gaan ook...

Noa kap na ‘leunstoel-kritici’

21 ure gelede | Misdaad

Ronelle Rademeyer - Die Teenkorrupsiekommissie (ACC) se uitvoerende direkteur, mnr. Paulus Noa, het teruggekap na wat hy “leunstoel-kritici” noem en sê pleks dat hulle dié...

STEMFEITE: OSHANA

21 ure gelede | Politiek

Die infografiek lig Ondangwa se verkiesingsuitslae uit. In 2014 het Swapo 86% van alle stemme in die kiesafdeling gewen.

Weer vir 5 Desember 2019

21 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Donderstorms van 50 mm en meer oor 24 uur kan kitsvloede in Ohangwena, Otjozondjupa, Khomas en Omaheke veroorsaak.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm...

PDM steek skadukabinet aan die werk

21 ure gelede | Politiek

Denver Kisting – Mnr. McHenry Venaani, leier van die amptelike opposisie, die Popular Democratic Movement (PDM), het gister die party se skadukabinet aangekondig.Volgens hom gaan...

Vervoerpionier se roudiens Saterdag

21 ure gelede | Mense

Francoise Steynberg - Die roudiens van ’n pionier en legende in die Namibiese vervoer- en toerismebedryf, wyle mnr. Willie du Toit (68), vind Saterdag om...