Klimaat kan lei tot meer honger in SA
Sowat 29 miljoen mense in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) ervaar in die 2018-'19-landboujaar voedselonsekerheid.
Vida Booysen
Ná jare waarin hongersnood wêreldwyd stadig maar seker afgeneem het, is daar kommer dat dit weer in Suider-Afrika opvlam.
Klimaatsverandering, peste en plae wat grense oorsteek en die voorkoms van MIV/vigs en weerstandige tuberkulose is enkele faktore wat voedselonsekerheid in dié weerlose streek aanblaas.
Die aantal mense wat voedselonsekerheid in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) beleef, word op 29 miljoen geraam vir die 2018-'19-landboujaar. (Sien grafika.)
Dít is 14% van die bevolking, volgens navorsing wat die SAOG Dinsdag bekend gemaak het.
In die verslag “State of Food and Nutrition Insecurity and Vulnerability in Southern Africa” is ontledings van 11 lidlande van die SAOG vervat.
“Die situasie bly onstabiel en onvoorspelbaar. Wat kommerwekkend is, is dat die persentasie voedselonseker lede van die bevolking met 13% gestyg het teenoor 'n jaar gelede,” lui die verslag. Die toename keer die verbeterings van 2017-'18 om, toe die getal tot 27 miljoen gedaal het.
Dít is as 'n groot deurbraak beskou ná die droogtegeteisterde 2016-'17 se syfer van 38 miljoen mense in Suider-Afrika wat uitgelewer was aan honger en wanvoeding.
Oor die afgelope dekade het die gemiddelde getal voedselonseker mense in die streek egter hardnekkig bokant 22,7 miljoen gebly.
Die verslag meld ook dat voedselonsekerheid die sukses van antiretrovirale middels en middels teen weerstandige tuberkulose ondermyn, wat 'n bose kringloop word.
Peste soos die herfskommandowurm en voëlgriep het ook oor landsgrense heen verwoesting gesaai.
Tesame met hierdie faktore gaan klimaatsverandering daartoe bydra dat kospryse styg en hongersnood onder die streek se armstes toeneem.
“Met al meer klimaatskokke wat die streek tref, moet dringend opgetree word en volhoubare veerkragtigheid hierteen moet ingebou word, anders sal dié syfer net aanhou styg,” lui die verslag.
Die lidlande van die SAOG is veral kwesbaar vir klimaatsverandering omdat die landboubedryf hier baie afhanklik is van reën. Tot 70% van die bevolking in die streek maak staat op bestaanslandbou vir hul voedselbehoeftes.
“Die verslag beklemtoon die dringende noodsaak vir regerings om beleggings te doen in ingrypings wat dadelik 'n impak maak om chroniese voedselonsekerheid te beveg,” sê Panduleni Elago, hoof van die SAOG se eenheid vir voedselsekerheid.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie