Klavierspelende, skilderende lodgebestuurder

Nadine Downing volg in die voetspore van haar kunstenaarouers, Peter en Connie.
Tanja Bause
Tanja Bause – “Ek het op sesjarige ouderdom die grootste steenbras van my lewe gevang ... altans dis hoe dit daai tyd vir my gevoel het. Die vis was beslis groter en langer as wat ek was. Nie dat ek die langste kind was nie, maar dit was 'n hengse groot vis.

“Die ervaring het in my kop bly vassteek en vandag is ek 'n hengelaar met Namibiese nasionale kleure,” vertel Nadine Downing.

Sy is egter nie net 'n uitmuntende hengelaar nie, sy is ook 'n klavierspeler, kunstenaar en lodgebestuurder.

Nadine is in Suid-Afrika gebore, maar haar ouers, Connie en Peter Downing, was Namibiërs en toe sy ses maande oud was, het hulle terug huis toe getrek.

“Ek was op Swakopmund op skool en ná skool het ek tekstielontwerp in Kaapstad gaan studeer. Ná my studies is ek terug Swakopmund toe waar ek 'n bietjie gewerk het. Ek het onder meer illustrasies vir die akwarium gedoen en aan my kuns begin aandag skenk. Ek wou hê die buitewêreld moet my oë bietjie laat oopmaak en ek het besluit om oorsee te gaan en in Engeland te gaan werk. Ek het die kultuur ingeneem en gekyk hoe alles daar buite werk. Ná sowat 'n jaar het ek terug huis toe begin verlang. My land is my land en my mense my mense.”

Met haar terugkoms het sy begin om in die Strand Hotel se portaal klavier te speel. “Dit was my eerste werk.”

Sy het nog by 'n ander hotel klavier gespeel voordat sy in die kombuis begin werk het.

“Rondom 2000 het ek en my broer die Tiger Reef-strandkroeg en -restaurant op Swakopmund begin wat ons vir 'n hele paar jaar besit het. Ek het ook as sjef in 'n restaurant by die Rössmund-gholfbaan gewerk voordat ek in 2006 met die Raw Talent-kunsskool begin het.”

Vir die volgende sewe jaar het sy die kunsskool by haar huis gehad en was haar jongste student vier jaar oud en die oudste een 70.

“Ek het ook met mense wat onder meer geen geduld gehad het nie of kinders met leerprobleme gewerk. Kuns leer jou 'n ander dissipline en dit kan mense help. Ek het ook baie met herwinbare materiale gewerk en probeer om mense deur hul eie kuns bewus te maak oor hoe om hulle omgewing en die aarde te bewaar.”

Nadine het agt jaar gelede Kaap Kruis toe getrek om die lodge te bestuur.



KUNS

Nadine se ouers, Peter en Connie, is bekende Namibiese kunstenaars.

“My pa het in die era van Koos van Ellinckhuijzen en Archie en Isabel van der Ploeg geskep. Hulle was almal vriende en fantastiese kunstenaars.”

“Ek het van kleins af van my pa geleer om die natuur waar te neem en 'n liefde vir die natuur te ontwikkel. Ek het van hom geleer om deur my kuns 'n oomblik in die natuur vas te vang om dit vir ander mense te kan wys en bewaar. Sodat hulle kan sien hoe wonderlik en mooi ons landskappe en hoe uniek ons diere en mense is.”

Haar pa is in 1988 oorlede en haar ma het die studio en verfkwasse oorgeneem.

“Nadat ek klaar was met skool het ek in hulle voetspore begin volg en in 1994 my eerste solo-uitstalling gehad.”

Nadine is meer 'n diere- en wildlewekunstenaar terwyl haar ma meer daarvan hou om landskappe te skilder.

“Saam beeld ons Namibië en al sy skoonhede en wonders uit.”

Nadine het al aan 20 groep-uitstallings en vyf solo-uitstallings deelgeneem en Connie aan 24 groep-uitstallings en 12 solo-uitstallings.

“Met werk en die alledaagse lewe is die tyd vir skilder bietjie beperk en skilder ek maar tussen 02:00 en 05:00,” het sy laggend gesê.



NAVORSING

'n Student van die Namibiese Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) en haar professor het Nadine 'n paar jaar gelede gekontak.

“Hulle het ons genader en gevra of ons met die opstel van navorsingskameras in die veld kan help. Hulle was in Windhoek gebaseer en die lodge het die projek as 'n bewaringsprojek van stapel gestuur en twee-en-'n-half jaar later is ek nog steeds betrokke en baie passievol oor die bruinhiëna.

“Ek het 'n groot passie vir dié unieke diere ontwikkel wat baie skaars is en glad nie so luid of sigbaar soos hulle neefs, die gevlekte hiënas, is nie.

“Bruinhiënas is eintlik baie skaam en sku. Hulle is egter só belangrik vir die omgewing, omdat hulle aasdiere is en die strand en woestyn skoon hou, net soos die jakkalse.”

Volgens Nadine is daar 'n groot behoefte aan inligting oor die strandwolf aangesien daar tans baie min of amper niks inligting van dié diere in die spesifieke gebied beskikbaar is.

“Ek het tien individue wat ek al vir die laaste sowat twee jaar volg en dophou. Ek het ook een familie waarvan die ma op die oomblik kleintjies het. Ek kyk na hulle kondisie en hou dop in watter gebied hulle voorkom en hoe hulle rond beweeg. Ek is nou besig om te probeer om elke hiëna se gebied te bepaal. Ek stuur al die inligting vir Emsie Verwey wat deel is van die bruin hiëna-projek van die Desert Lion Conservation Project.”



VISVANG

Eers vyf jaar gelede het Nadine werklik geleer hoe om te hengel.

“Ek het nog altyd die passie daarvoor gehad, veral wanneer ek terugdink aan toe my pa nog deel was van natuurbewaring en ons familie na Rocky Point in die Skedelkus-park gegaan het. Daar het ons vis op 'n vang-en-vrylaat-basis gevang.

“Ek was ses jaar oud en het 'n hengse groot steenbras gevang. Hy was langer en groter as ek en die ervaring het in my kop vasgesit.”

Die linkshandige Nadine het dit baie moeilik gevind om iemand te kry wat bereid was om haar te leer hengel aangesien meeste mense regshandig is.

“Ek het toe uiteindelik iemand gevind en ek wil nie sê die gogga het my gebyt nie, maar visvang het wel. Vyf jaar later hengel ek vir Namibië en kan my land verteenwoordig en die passie is sterker as ooit. Ek is ook in die gelukkige posisie dat ek die see letterlik op my voorstoep het en dus kan oefen en hengel soos my hart begeer.”
[email protected]

FOTO
Nadine Downing se skilderye. Foto’s verskaf
Nadine Downing met ’n stewige botterkopgaljoen.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Southampton 3 vs 0 Preston North End English Championship: Southampton 3 vs 0 Preston North End Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 26km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:25, High tide: 13:40, Low Tide: 19:24, High tide: 01:48 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:38, Low Tide: 19:22, High tide: 01:46 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 36km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:23, High tide: 13:37, Low Tide: 19:22, High tide: 01:45 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!