Kind struikel, val tussen renosters
’n Kleuter is Dinsdag beseer nadat sy in ’n renosterkamp by ’n dieretuin in die Amerikaanse deelstaat Florida beland het.
Sky News berig dat die voorval gebeur het toe die twee-jarige meisie die Brevard-dieretuin naby Orlando saam met haar gesin besoek het.
Volgens ’n woordvoerder van die dieretuin het die kind gestruikel en deur staalpype geval wat besoekers van die renosters skei. “Die snoet van ten minste een renoster het die kind geraak,” het die woordvoerder gesê. Die meisie is ná die voorval na ’n hospitaal in Orlando geneem. Die aard van haar beserings is nie onmiddellik bekend gemaak nie.
Volgens The Sun is die beseerde meisie per helikopter na die hospitaal geneem. Die voorval het gedurende ’n opvoedkundige sessie met renosters gebeur. Toe die kind tussen die renosters beland, het haar ouers dadelik agterna gespring om haar uit te trek. Die meisie het ’n besering aan haar gesig opgedoen toe een van die renosters omdraai en met sy snoet teen haar stamp. Die ma van die kind is ook vir ’n besering by die hospitaal behandel, maar is later ontslaan.
Volgens die Daily Mail het die Brevard-dieretuin in ’n verklaring bekendgemaak dat dit die heel eerste keer was dat besoekers by die renosterkamp beseer is sedert opvoedkundige sessies met die diere in 2009 begin is. Die gewilde sessies is intussen opgeskort om die veiligheidsmaatreëls te hersien. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie