Kim gooi gewig rond

Na buite lyk dit of die oorlogswolke oor die Koreaanse skiereiland saampak. Gaan Noord-Korea en Amerika mekaar aan die keel gryp? Leopold Scholtz soek na ’n antwoord.
Ronelle Rademeyer
Leopold Scholtz - Oderint, dum metuant – vry vertaal: “Laat hulle my maar haat, solank hulle my vrees.”

Dié woorde van die Romeinse keiser Caligula (12-41 nC) is sowat ’n eeu later deur die geskiedskrywer Suetonius opgeteken. Caligula het weliswaar nie al sy varkies op hok gehad nie – hy het selfs sy perd tot konsul bevorder – maar hy was buitengewoon wreed, onvoorspelbaar en gevaarlik.

Dié aanhaling sou net so goed uit die mond van die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong Un, kon gekom het. Op televisie lyk hy na ’n goedige diksak wat te veel van die aangename lewe hou, maar dis die man wat al die helfte van sy familie en naaste medewerkers laat vermoor het omdat hy paranoïes meen hulle hou ’n gevaar in vir hom.

Dís die man wat sy landgenote, wat dikwels die slagoffers van hongersnood is, verder soos ’n lemoen uitpers om kernwapens en missiele te ontwikkel. Dís die man wie se regering gereeld die ergste dreigemente maak teenoor Amerika, Suid-Korea, Japan en enige ander land wat as ’n struikelblok beskou word.

Noord-Korea het reeds ’n hele reeks missiele ontwikkel waarmee Suid-Korea, Japan en dele van China en Rusland getref kan word. Daar word tans gewerk aan ’n langafstandmissiel wat Berlyn en Moskou in die weste kan bereik, en die Amerikaanse weskus aan die ander kant.

Missiele

Kenners meen die diktatuur is nog nie so ver dat hy kernwapens op die missiele kan plaas nie. Maar hy vorder stelselmatig. Die dag dat hy in staat kan wees om Amerikaanse stede soos Los Angeles en San Francisco in ’n rokende puinhoop te verander, is miskien vier of vyf jaar in die toekoms.

Wat is Kim se strategiese doel hiermee? Behalwe vir diegene in sy onmiddellike omgewing, weet niemand werklik nie. Alles wat daaroor geskryf word, is ingeligte raaiwerk.

Die probleem is dat niemand weet in welke mate Kim sy eie propaganda glo en watter greep hy nog op die werklikheid het nie. As hy nog – al is dit maar net gedeeltelik – ’n sin vir die werklikheid het, is dit logies om aan te neem hy weet Amerika gaan onmiddellik en oorweldigend terugslaan as hy kernwapens teen enigiemand buite sy grense gebruik.

Hy weet (of behoort te weet) dat dit outomatiese selfdood is. En niemand by sy volle verstand pleeg graag selfdood nie.

As bogenoemde redenasie klop, is die volgende logiese afleiding dat die najaag van ’n langafstand-kernwapenvermoë en oorlogsugtige taal deel is van ’n strategie om die internasionale gemeenskap af te pers. Iemand wat bekend staan as ’n mal diktator aan die roer van sake in Pjongjang kan dalk in staat wees om die wêreld tot allerlei toegewings te dwing, soos mildelike gawes van geld, kos en selfs wapens.

Dit sou Noord-Korea in staat stel om sy gewig rond te gooi op ’n manier waarop hy andersins nie sou kon nie, vermoed ’n mens.

Die volgende vraag is: Kan veral Amerika, Suid-Korea, Japan, Rusland en China die kans waag dat Kim rasioneel nadink? Dat sy strategie min of meer dieselfde as dié van Caligula is – dat hy bowenal gevrees wil word?

Kan veral Amerika leef met die moontlikheid dat die stede aan sy weskus blootgestel word aan die vraag of die mal diktator in Pjongjang by wyse van spreke die oggend met tandpyn wakker geword het? Moet Amerika wag tot die Noord-Koreane die wapens het, of moet hy ’n voorsprongaanval doen om te kéér dat hulle die wapens kry?

In teorie lyk die antwoord eenvoudig. Natuurlik moet hulle toeslaan, eerder vroeër as later.

Gereed

Die Amerikaners het reeds die ysterware gereed. Hulle wag net op pres. Donald Trump se toestemming.

In Suid-Korea staan vier lugmag­eskaders met vegterbomwerpers gereed. Op die Japanse eiland Okinawa nog twee. Op die Amerikaanse eiland Guam is tientalle swaar bomwerpers in ’n staat van paraatheid.

’n Vliegdekskip vaar langs die Koreaanse kus. En by hul tuisbasis in Missouri staan die Amerikaners se hele mag Stealth-bomwerpers klaar gereed. Met herbunkering in die lug kan hulle die hele pad na Korea vlieg en terug.

Wat dit veral belangrik maak, is dat dié tipe bomwerper ook die berugte swaar “Moeder van alle bomme” (met ’n plofkrag van 11 ton TNT) kan dra.

Dit is dié bom wat verlede week ongekende verwoesting in Afghanistan aan ’n tonnelstelsel van die terreurbeweging Isis veroorsaak en 94 vegters laat sneuwel het.

Dié bombardement was tegelyk ’n operasionele toets van die wapen én ’n boodskap aan Noord-Korea: Kyk wat ons aan julle kan doen as julle nie in jul spoor trap nie.

Opsies

Trump het verskeie opsies. Die verkieslikste is dat China die probleem diplomaties hanteer, maar dis twyfelagtig of Pjongjang hom aan Beijing se druk steur.

Die tweede – uiters problematiese – opsie is om chirurgiese lugaanvalle te doen om Noord-Korea se kernwapenvermoë te vernietig.

Daarin sal China en Japan ten minste geken en Suid-Korea se toestemming verkry moet word. Laasgenoemde sal die spit moet afbyt as Noord-Korea terugslaan.

Die Noorde het ’n gróót arsenaal. Sy weermag het 1,2 miljoen man – op drie na die sterkste ter wêreld – onder die wapen en meer as ’n duisend missiele wat op die Suide kan neerreën. Sy toerusting is weliswaar verouderd.

Amerika en Suid-Korea het wel talle Patriot-missielafweerstelsels, maar dis ’n ope vraag of hulle so ’n tsoenami missiele voldoende kan keer.

Die idee van massale burgerlike ongevalle in die hoofstad, Seoel – net 50 km van die grens – is dalk te veel, selfs vir ’n impulsiewe leier soos Trump.

Tog, die idee dat stede soos Seattle, Portland, Los Angeles, San Francisco en San Diego met die verlies van miljoene Amerikaanse lewens in puin gelê kan word, kan Trump se alternatiewe uitermate beperk.



Hy kan vind dat hy uiteindelik geen ander keuse het as om aan te val nie.

Luidens ’n berig in die Londense Sunday Times het Amerikaanse militêre bronne glo aan hul Britse eweknieë laat weet Amerika het genoeg vuurkrag gereed om die Noord-Koreaanse kernprogram heeltemal te verwoes.

Nietemin, goeie alternatiewe is daar eenvoudig nie. Slegs slegtes en nog minder slegtes.

Dit maak in só ’n geval nie veel saak wie in die Withuis sit nie – Trump, Barack Obama of selfs Hillary Clinton. Die dilemma is presies dieselfde.

Die oggend voor sy inhuldiging, toe Obama Trump in die Withuis ontvang het, het die nuwe man sy voorganger gevra wat na sy mening die grootste bedreiging was waarmee hy te make sou kry. Obama het nie geaarsel nie: Noord-Korea, was sy antwoord.

Obama se voorspelling, so lyk dit, het veel vinniger werklikheid geword as wat hy selfs vermoed het.

Caligula is lewend en gesond, en hy woon in Pjongjang.

*Scholtz is ’n joernalis en skrywer.

KASSIE

Só het sake vanjaar ontvou

Januarie

· Op 19 Januarie het Amerikaanse intelligensie-satelliete tekens van aktiwiteite by Noord-Korea se Chamjin-missielfabriek suidoos van Pjongjang waargeneem. Dit het gedui op voorbereidings vir ‘n toets van interkontinentale ballistiese missiele (IKBM’e).

· Tien dae later, op 29 Januarie, berig 38 North, ‘n organisasie wat aktiwiteite in Noord-Korea moniteer, dat Noord-Korea voorberei het om sy plutonium-reaktor by die Jongbjon-kernaanleg weer te begin.

Februarie

· Die Amerikaanse minister van verdediging, James Mattis, land op 2 Februarie by die Osan-lugmagbasis buite Seoel in Suid-Korea. Bo aan sy agenda was ‘n kernkomponent van Suid-Korea se verdediging teen sy noordelike bure se aggressie, die THAAD-missielonderskeppingstelsel.

· Drie dae later, op 5 Februarie, bring Amerika en Japan met welslae ‘n toets mediumafstand ballistiese missiel grond toe met behulp van ‘n nuwe onderskepper wat van ‘n geleide-missielvernietiger afgevuur is.

· Op 11 Februarie berig Noord-Korea dat hulle met welslae ‘n nuwe ballistiese missiel, die Pukguksong-2, lanseer het. Dis is die eerste missieltoets in die era van pres. Donald Trump.

· Op 14 Februarie vermoor beweerde Noord-Koreaanse agente Kim Jong Un se halfbroer, Kim Jong Nam, op Kuala Lumpur se internasionale lughawe met VX-gif.

· Kort ná die missieltoets verbied China die invoer van Noord-Koreaanse steenkool vir die res van die jaar. Dit is ter nakoming van ‘n resolusie van die Verenigde Nasies (VN) wat in November 2016 aanvaar is.

Maart

· Op 6 Maart vuur Noord-Korea vier ballistiese missiele oor die See van Japan (ook bekend as die Oos-See) af in, wat Japan se eerste minister, Shinzo Abe, as “uiters gevaarlike optrede” bestempel.

· Die missiele, waarvan drie binne 200 myl van Japan se kuslyn binne sy eksklusiewe ekonomiese sone land, is volgens Noord-Koreaanse staatsmedia deel van ‘n dril wat Amerikaanse militêre bates in Japan teiken.

· Suid-Korea se Amerikaans-geboude THAAD-missielverdedigingstelsel, waarteen China erg gekant is, kom in die skiereiland aan. China se minister van buitelandse sake, Wang Yi, waarsku dat Amerika en Noord-Korea op pad is na ‘n “tromp-op botsing” met niemand wat terug wil staan nie.

· Op 14 Maart ontplooi Amerika en sy bondgenote Suid-Korea en Japan hoë tegnologie missielverdedigingskepe in dieselfde gebied waar Pjongjang vroeër die vier missiele afgevuur het. Die Aegis-oorlogskepe begin met oefeninge om hul vermoë te verbeter om vyandige missiele af te skiet.

· Op 20 Maart bring Pjongjang nuwe spanning teweeg deur ‘n vuurpylenjin te toets. Dit toon volgens Suid-Koreaanse beamptes “betekenisvolle tekens van vordering”.

· Enkele dae later lanseer Noord-Korea nog ‘n missiel maar dit ontplof “sekondes ná lansering,” berig Amerika se Stille-Oseaan-bevel. Aan die einde van Maart keer Noord-Korea terug na sy enjintoetse, tegnologie wat moontlik in ‘n IKBM gebruik kan word.

· Amerika kondig aan dat sy vloot vir die eerste keer F-35B vliegtuie in Suid-Korea as deel van ‘n oefening ontplooi het.

April

· Pres. Donald Trump kondig op 2 April aan dat Amerika op sy eie sal optree om Noord-Korea se kernprogram aan bande te lê indien China nie daarin slaag om die situasie te verander nie.

· Op 4 April vuur Noord-Korea nog ‘n ballistiese missiel aan die kus van die Koreaanse skiereiland af.

· Tydens China se pres. Xi Jinping se besoek aan Amerika, besluit Trump op ‘n missielaanval in Sirië, wat ‘n aanduiding van sy voorneme vir Noord-Korea is.

· Amerika ontplooi sy vlootaanvalsmag, insluitende die 97 000 ton USS Carl Vinson, op 10 April in die streek. Noord-Korea sê dit sal “onbesonne dade van aggressie teenstaan”.

· Dae later berig 38 North dat ontleders saamstem dat Noord-Korea se Punggye-ri-kernaanleg “gereed” is vir ‘n sesde kerntoets.

· Premier Abe van Japan sê op 13 April Noord-Korea mag reeds die vermoë hê om missiele af te vuur wat met Sarin-senugifstof bewapen is.

· Ondertussen bult Amerika weer sy militêre spiere deur ‘n GBU-43/B Massiewe Ordonnans Lugaanval Bom (MOAB), die land se grootste nie-kernwapen, op ‘n skuilplek van die Islamitiese Staat-groep (IS) in Afghanistan af te gooi.

· Twee dae later, tydens die jaarlikse militêre parade in Pjongjang, vertoon Noord-Korea ‘n verskeidenheid nuwe missiele en lanseerders.

· Op 16 April misluk nog ‘n missiellansering deur die Kim-bewind.

· Ná die toets besoek Amerika se visepresident, Mike Pence, op 17 April die Suid-Koreaanse kant van die gedemilitariseerde sone en waarsku Noord-Korea om nie Amerika se vasberadenheid of “die krag van ons militêre magte” te toets nie.

· Noord-Korea se adjunk VN-verteenwoordiger, Kim In Ryong, waarsku op sy beurt dat Amerika se optrede en retoriek “’n gevaarlike situasie skep waarin ‘n termo-kernoorlog enige oomblik in die skiereiland kan uitbreek wat ‘n ernstige bedreiging vir wêreldvrede en veiligheid inhou.”

· Ná ‘n gespog dat die USS Carl Vinson-aanvalsgroep onderweg is na die Koreaanse skiereiland as deel van ‘n kragvertoon, word Amerika gedwing om dit terug te trek nadat dit aan die lig kom dat die betrokke skepe inderdaad onderweg is na militêre oefeninge in die Indiese Oseaan, ongeveer 3 500 myl in die teenoorgestelde rigting. Die aanvalsgroep sal eers teen die einde van April aan die kus van die Koreaanse skiereiland aankom.

· Op 19 April probeer die VN se veiligheidsraad ‘n verklaring aanvaar waarin Noord-Korea se jongste missieltoetse veroordeel word, maar dit word deur Rusland geveto. Bron CNN

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!