Kerkbouer en -stigter groet

Past. Henry Routh het gemeentes in Concordia in Suid-Afrika asook op Rehoboth, Keetmanshoop, Katutura gestig.
Tanja Bause
Tanja Bause - Saterdag is past. Henry Routh van die Pinkster Protestante Kerk (PPK) in Khomasdal op 81-jarige ouderdom oorlede.

In 1966 was hy een van die stigterslede van die PPK in Namibië ná die kerk nege jaar tevore in die Kaap in Suid-Afrika gestig is.

Routh was ’n messelaar van beroep en het in 1963, terwyl hy vir die destydse munisipaliteit gewerk het, die eerste huise in Khomasdal begin bou.

Volgens sy vrou, Elizabeth, met wie hy 50 jaar getroud was, was hy ook vir die siersteenwerk by die Windhoek Sentrale Hospitaal en Katutura-hospitaal in Windhoek verantwoordelik.

“Hy het die PPK 48 jaar gelede in Khomasdal gebou. Hy het ook sy eie huis gebou,” sê sy.

In 1973 het hy voltyds in die bediening getree en was tot sy dood Khomasdal-gemeente se pastoor.

Routh het gemeentes in Concordia naby Springbok in Suid-Afrika asook op Rehoboth, Keetmanshoop, Katutura en op ’n plaas by Rietoog gestig.

“Hy het gehelp om die fondasie vir die kerke in Hochland Park en op Rehoboth en Oshakati te lê,” sê Elizabeth.

Volgens sy seun Derek was Routh ook ’n pionier wat verskillende bevolkingsgroepe in Namibië verenig het.

“Almal was in sy kerk welkom en hy het nooit ’n onderskeid tussen die bevolkingsgroepe of mense getref nie. Hy het die Angolese vlugtelinge van die sewentigerjare in sy kerk gehuisves en hulle Afrikaans geleer.

“Dit is daai saad wat hy gesaai het wat hy nou maai, want een van die Angolese pastore gaan sy teraardebestelling Sondag behartig,” sê Derek.

Routh het in die 46 jaar wat hy die pastoor van sy gemeente was, geen vaste salaris verdien nie.

“Hy het in diens van die gemeenskap geleef. Hy het kollektegeld ontvang, maar wanneer die gemeente klein was of dit swaar gegaan het, het hy min ontvang. En as hy baie ontvang het, het hy iewers met die bou van ’n kerk gehelp,” sê Elizabeth.

“My pa was baie reguit en het nie doekies omgedraai nie. Maar hy was ook ’n baie nederige mens wat nooit erkenning gesoek het vir dit wat hy gedoen het nie,” sê Derek.

Hy was ’n ywerige tuinier wat talle vrugtebome en rose by sy huis aangeplant het.

“My man was mal oor rose en het altyd vir my ’n rooi roos gegee,” sê Elizabeth.

Routh was nooit sieklik nie en het eers in Februarie vanjaar bedlêend geword.

“Die laaste paar maande was hy baie siek. Maar hy het sy gemeente laas maand steeds met nagmaal bedien,” het sy gesê.

“My pa het tot op sy sterfbed versoek dat kerk by hom gehou word. Ons was tot die einde by hom en het gesien en gebid. Hy het vir ons gesê wat ons moet sing en ons het gesing,” sê sy seun.

Routh was pa vir drie van sy eie kinders en ses familiekinders.

Hy laat sy vrou, suster, kinders, kleinkinders, agterkleinkinders, familie, gemeente en vriende agter.

Die begrafnis vind Sondag om 08:00 van die huis af plaas en om 08:30 vanaf die Pinkster Protestante Kerk op die hoek van Roos- en Ranonkelstraat in Khomasdal.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!