Katrina reeds geoffer: Swartbooi

President veroordeel glo minister

10 January 2019 | Politiek
Denver Kisting – “Dit is interessant om te sien hoe Geingob reeds vir Katrina geoffer het.”

Só sê die leier van die Landless People’s Movement (LPM), mnr. Bernadus Swartbooi, oor pres. Hage Geingob se beweerde hantering van me. Katrina Hanse-Himarwa, die minister van onderwys, kuns en kultuur.

Swartbooi het die afgelope week beweer daar word allerweë aanvaar een sin in die president se vyf bladsy lange Nuwejaarsboodskap verwys spesifiek na Hanse-Himarwa.

Met verwysing tot hoe ernstig die regering is om verkwisting van hulpbronne in die staatsektor te takel, het die staatshoof in sy Nuwejaarsrede onder meer gesê: “Ons het ook besluit om verskeie sake van beweerde korrupsie te ondersoek. Ministers wat na bewering korrup is, is ondervra en daardie sake is tans by die Teenkorrupsiekommissie (ACC).”

Pres. Geingob het voorts gesê: “As ’n land wat deur regsreëls regeer word, glo ons in behoorlike prosesse en ons sal wag op die ondersoeke om afgehandel te word voor ons enige oordele vel.”

Maar, het Swartbooi Dinsdagoggend in Windhoek aangevoer, “ons verstaan daar is baie ernstige kommer oor daardie stelling (wat op Hanse-Himarwa sinspeel)”.

Hanse-Himarwa staan tans in die hoërhof tereg op een klag van korrupsie.

Dié klag spruit uit haar omstrede ampstermyn as goewerneur van die Hardapstreek.

Sy skuif weer oor twee maande in die beskuldigdebank in die Windhoekse hoërhof in.

Dit kom nadat regter Christie Liebenberg laat verlede jaar haar korrupsieverhoor tot Maart vanjaar verdaag het.

Die verhoor het reeds twee weke geduur, waartydens die staat nege getuies geroep het.

Hanse-Himarwa se waarskuwing is tot haar volgende hofverskyning verleng.

Sy staan alleen tereg op die klag van die korrupte gebruik van haar mag nadat sy glo aan ’n lys van begunstigdes van die regering se massabehuisingskema laat peuter het.

Die staat voer aan die minister het glo gesorg dat twee van haar familielede voorkeur kry toe die eerste besending van 19 huisies in Desember 2014 nuwe eienaars gekry het.

Twee mense, wat aanvanklik daardie dag hul huisies sou ontvang, het gevolglik eers later ’n dak oor hul koppe gekry.

Hanse-Himarwa het aan die begin van haar verhoor onskuldig gepleit.

Sy het ’n omvattende pleitverduideliking ingedien waarin sy groot gewag daaroor maak dat haar kantoor nie die mag gehad het om ’n lys van begunstigdes te wysig nie.

Hiernaas voer sy aan amptenare van die ACC was op ’n besliste en doelgerigte sending om bewyse te vind om haar te inkrimineer.

Sy word deur die bekende prokureur mnr. Sisa Namandje verteenwoordig.

Adjunk-aanklaer-generaal Ed Marondedze en mnr. Salomon Kanyemba tree namens die staat op.

Soortgelyk

 

Ethiopiese vliegtuig met 157 aan boord stort neer

1 uur gelede | Ongelukke

‘n Boeing 737 van Ethiopian Airlines het vanoggend onderwegvanaf Addis Ababa na Nairobi in Kenia neergestort.Die Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed, het in ‘n verklaring...

Geingob: Gelukkig Vrouedag, vroue

2 dae gelede | Regering

President Hage Geingob sê hy erken die dapper pogings van vroue om beter gemeenskappe te skep en tot die voorspoed van die mensdom by te...

Verkrygingsraad presteer

2 dae gelede | Regering

Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se raadsvoorsitter, mnr. Patrick Swartz, en administratiewe hoof, me. Lischen Ramakhutla, het vanoggend lig gewerp op uitdagings wat die...

Namibië topbestemming by ITB

2 dae gelede | Toerisme

Namibië is gisteraand as beste safari en wildbestemming by die Internasionale Toerismeskou in Berlyn (ITB) in Duitsland aangewys.Die minister van die omgewing en toerisme, mnr....

Wet slaan toe op wapenlisensies

2 dae gelede | Ministeries

Denver Kisting – Op die oomblik hoef iemand wat om ’n wapenlisensie aansoek doen, nie bewys te lewer dat hulle in staat is om ’n...

Reënweer vertoef langer

2 dae gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor voorspel sonnige en baie warm weer vir vandag in die verre weste en suidweste van die land, terwyl dit elders gedeeltelik bewolk...

Water: Verligting ná hemelhoë rekeninge

2 dae gelede | Regering

Elvira Hattingh - Windhoekers wat vandeesmaand uitsonderlike hoë waterrekeninge ontvang het, kan ‘n sug van verligting slaak omdat die droogtetarief vir huishoudings net tot Januarie...

Kalender 8 Maart

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Tapz is 'n meester van die bira en die Wes-Afrikaanse djembe. Dit kan op sy debuutalbum, Awaited Wait, wat in Desember...

Jeuggeweld ruk Outjo

2 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting Drie jongelinge van Outjo is steeds agter tralies nadat hulle glo sowat 'n maand gelede twee ander jong mans binne 43 minute doodgesteek...