Kashihakumwa nuwe teenstropery-hoof
Kashihakumwa nuwe teenstropery-hoof

Kashihakumwa nuwe teenstropery-hoof

Die minister van die omgewing en toerisme sê die gesoute nuwe hoof van die teenstropery-eenheid gaan stropers vasvat.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - Afgetrede polisiekommissaris Ndahangwapo Kashihakumwa is van 1 Augustus af die nuwe hoof van die wildbeskermingsdienste-afdeling in die ministerie van die omgewing en toerisme wat die stryd teen stropery gaan takel.

Dié aankondiging is Woensdag deur die minister van die omgewing en toerisme, mnr. Pohamba Shifeta, in Windhoek gemaak.

“Kashihakumwa is 'n opgeleide soldaat met ervaring in militêre aangeleenthede. Hy is 'n opgeleide polisiebeampte, kommandeur en leier. Hy het ook opleiding in die versameling van intelligensie,” het Shifeta gesê.

“Met renoster- en olifantstropery wat sedert 2013 die hoogte ingeskiet het, het die kabinet goedgekeur dat die ministerie 'n toegewyde teenstropery-eenheid vestig. Dié eenheid, met 405 personeellede, is onder die direktoraat van wildlewe en parke in die ministerie gestig.”

Opleiding word reeds aan 25 lede by die nuwe opleidingsentrum by Waterberg gegee.

Die eenheid, wat bekend staan as die wildbeskermingsdienste-afdeling, sal nou werk saam met die Namibiese polisie en weermag, die sentrale intelligensiediens, die kantoor van die aanklaer-generaal en die gemeenskappe se wildwagterstelsel in kommunale bewaringsgebiede.



STROPINGSYFERS

Shifeta sê tot dusver is nog net 17 olifante in die land gestroop, waarvan 16 in die Bwabwata Nasionale Park en een in Omusati.

“Dit is baie minder as verlede jaar se 101 olifante wat gestroop is. Dit lyk of olifantstropery van Namibië na Botswana verskuif het. Een van die 16 olifante is eintlik in Botswana gekwes, het oor die rivier geswem en in Bwabwata gevrek,” het hy gesê.

Vanjaar is 24 renosters in Namibië gestroop, waarvan 14 in die Etosha Nasionale Park, sewe witrenosters op private wildplase en drie in kommunale bewaringsgebiede.

“Tien verdagtes is in Etosha in hegtenis geneem, van wie vyf gewapende mans verlede week aan die oostekant van die park. Renosterstropery kom meestal aan die westekant van die park voor. Die sindikaat het dalk na die oostekant van die park ver­skuif,” het die minister gesê.

“Die eenheid gaan op strategiese plekke oral binne én buite parke ontplooi word. Etosha en ander parke gaan nou ten volle beveilig word. Dinge het nou verander.”

Shifeta het ook gemaan dat besoekers aan parke slegs by die hekke mag ingaan. As daar by ander plekke ingegaan word, is dit 'n oortreding, het hy gewaarsku.

LUGPATROLLIES

Shifeta het bevestig die lugvleuel gaan ook uitgebrei word en patrollies op die grond en uit die lug gaan versterk word.

“'n Helikopter en vastevlerkvliegtuig is in Etosha gestasioneer, asook 'n vliegtuig in Bwabwata. Ons kan dit gebruik soos nodig en gereelde lugpatrollies doen, maar ons het meer ondersteuning uit die lug nodig.”

Shifeta meen dit is duur om 'n helikopter te gebruik, maar daar is finansiering van ander bronne as die staatskoffers af gekry.

“As daar gestroop is, moet ons dadelik met lugpatrollies reageer, want dit is hoe ons verdagtes in hegtenis geneem het.”

Die minister sê hommeltuie word ook nou ingespan wat meer koste-effektief is en 24 uur per dag gebruik kan word - selfs snags.

Volgens Shifeta is die hooffunksies van die nuwe eenheid om wild, hoofsaaklik renosters en olifante, van stropery te beskerm, asook om die toepassing van wildwette in die land te verseker en samewerking met buurlande te bevorder.

Wetstoepassing sal ook versterk word en keer dat sindikate die land inval. Die eenheid sal bewyse op 'n misdaadtoneel versamel en inhegtenisnemings in samewerking met ander owerhede uitvoer.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!