Kaptein wou terugdraai voor 157 sterf
Ronelle Rademeyer
Die kaptein van Ethiopian Airlines se vlug ET302 het toestemming gehad om die vliegtuig terug te draai na die Internasionale Lughawe Bole by Addis Abeba voor dit geval het, aangesien hy probleme ondervind het.
Benewens dít was daar teen druktyd gister geen verdere inligting bekend oor wat tot hierdie vliegramp om 08:44 gister by die dorp Bishoftu sowat 60 suidoos van die Ethiopiese hoofstad gelei het nie.
Die BBC het met 'n ooggetuie gepraat wat die ongeluk gesien gebeur het. “Die brand was so sterk, ons kon nie naby die vliegtuig kom nie. Alles het uitgebrand. Die brandweermanne het om 11:00 op die toneel aangekom. Die ongeluk was rondom 08:00. Daar is tans vier helikopters op die toneel. Niemand sal dit oorleef nie,” het mnr. Bekele Gutema vertel.
Mense uit 35 lande, asook werknemers van die Verenigde Nasies (VN) was onder die 157 mense wat in die ramp omgekom het – 149 van hulle was passasiers en agt was bemanningslede.
Volgens die inligting wat tydens 'n nuuskonferensie deur mnr. Tewolde Gebremariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, bekend gemaak is, was daar geen Namibiërs op die vlug nie.
'n Mosambieker was die enigste passasier uit suidelike Afrika op die vliegtuig.
Gebremariam, wat die toneel gisteroggend besoek het, sê die kaptein het goedkeuring van die beheertoring by die Bole-lughawe gehad om die vliegtuig terug te draai toe dit neergestort het.
“Die vliegtuig was meer as drie ure op die grond nadat dit vroeg Sondagoggend vanuit Suid-Afrika in Addis Abeba aangekom het,” het hy aan joernaliste gesê.
Hy het sy opregte medelye met die families en geliefdes van die oorledenes betuig.
Nuusagentskappe het kort nadat die nuus oor die vliegtuigongeluk bekend geword het, foto's geplaas van verslae en geskokte familielede wat op die lughawe by Nairobi op antwoorde wag.
“Ons wag vir ons ma. Ons hoop net sy het 'n ander vlug geneem. Sy tel nie haar foon op nie,” het me. Wendy Otieno by dié lughawe aan Reuters gesê.
Die Ethiopiese eerste minister, mnr. Abiy Ahmed, het ook die toneel van die ongeluk besoek en 'n volledige ondersoek na die ongeluk en alle moontlike steun aan die families gelas.
Hy het gesê hy is diep hartseer oor wat gebeur het.
Die staatsbeheerde Ethiopian Airlines word allerweë as die beste lugredery in Afrika beskou.
Dié redery vlieg ook na die Internasionale Lughawe Hosea Kutako by Windhoek.
– Saamgestel uit inligting deur Reuters, AFP, BBC en Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie