Kandjii en kie kom voor

Staat sê nee vir borgtog

11 January 2017 | Howe
Jacqueline Louw - Lede van die Gobabis-gemeenskap het gister hul ondersteuning vir die stryd om die oorlewing van renosters betoon deur die eerste hofverskyning van drie vermeende stropers op dié dorp by te woon.

Die voormalige spandokter van die Brave Warriors, dr. Gerson Kandjii, het vandag saam met medebeskuldigdes mnre. Domingo Justice Moma en Erwin Tjiteere sy eerste verskyning in die landdroshof op Gobabis gemaak. Dit spruit uit die skiet van vier renosters op 22 Desember verlede jaar op ’n plaas naby dié dorp.

’n Stoetbul en ’n dragtige koei wat besig was om te kalf, is na bewering deur die mans vrekgeskiet. Die diere is dood gevind, met hul horings afgekap en gesteel. Nog twee renosters is op die plaas geskiet en het oorleef, maar een is nog in ’n kritieke toestand. Die kommersiële waarde van een renoster is nagenoeg N$1,25 miljoen.

Die eienaar van die diere, mnr. Walter Kinnear, het Republikein meegedeel dat die twee diere wat vrekgeskiet is met die hand grootgemaak is en vir hom soos kinders was. “Hulle moet toegesluit word en die sleutel moet weggegooi word,” het hy gesê. Hy is ook van mening dat die drie professionele misdadigers is.

Kandjii is op die oomblik uit op borgtog van N$20 000 en moes reeds in September in hegtenis geneem gewees het toe hy versuim het om op te daag vir sy hofsaak in die landdroshof op Okahao, óók op klagte wat verband hou met renosterstropery.

Lede van die Gobabis-gemeenskap het buite die hof hul misnoeë met renosterstropery getoon in 'n poging om die saak teen die stropers deur hul openbare protes te versterk.

Die drie mans staan op ’n klag van die onregmatige en onwettige skiet van ’n spesiaal beskermde wildspesie tereg, wat ’n oortreding van artikel 26(1) van die natuurbewaringsordonnansie is. Indien hul skuldig bevind word, mag hulle ’n boete van tot N$200 000 of tronkstraf van tot 20 jaar opgelê word.

Die staatsaanklaer, mnr. Salomon Kanyemba, het landdros Godwin Chizhande meegedeel die staat sal die toestaan van borgtog sterk teenstaan. Die rede hiervoor is dat die drie mans deur die Kalkrand-landdroshof op borgtog vrygelaat is in ’n moord- en roofsaak waarin ’n plaaseienaar, mnr. Reinhard Schmidt, in Febuarie 2015 vermoor is.

Kandjii was na bewering by die Kalkrand-moordsaak betrokke nadat hy op borgtog van N$20 000 vrygelaat is in ’n saak van stropery van kritiek bedreigde swartrenosters in die Etosha Nasionale Park. ’n Lasbrief vir sy inhegtenisneming is in Augustus 2015 uitgereik toe hy nie vir ’n hofverskyning opgedaag het nie.

Kandjii, Moma en Tjiteere het nou opnuut ’n misdaad gepleeg terwyl hulle op borgtog vrygelaat is, word beweer. Dit dui daarop dat dit nie in die belang van die publiek en geregtigheid sal wees indien borgtog weer aan hulle toegestaan word nie, het Kanyemba gesê.

Hy het ook betoog dat borgtog nie toepaslik sou wees nie weens die erns van die misdaad en die feit dat die polisieondersoek nog nie afgehandel is nie.

Kinnear het lede van die media ná die hofverrigtinge na sy plaas geneem en gewys waar die renosters vrekgeskiet is pas nadat hulle gevoer is. Die verbrande as van die renosterbul se karkas was nog te siene. Kinnear is van mening dat lede van sy personeel moontlik met die stropers saamgewerk het om die slagting uit te voer.

Die saak is tot 31 Maart uitgestel sodat die polisieondersoek voltooi kan word en die twee stropers wat nog op vrye voet en in besit van twee renosterhorings is, in hegtenis geneem kan word.

Soortgelyk

 

'n Lewe gekenmerk deur vaste beginsels

2 dae gelede | Mense

Estelle de Bruyn - 'n Ryk en vol lewe, 'n lewe wat gekenmerk is deur vaste beginsels, iemand wat hom nooit laat voorskryf het deur...

Ya Toivo: Tyd vir groet breek aan

2 dae gelede | Mense

Roubeklaers en hoëlui het hulle plekke ingeneem by die Onafhanklikheidstadion in Olympia waar die gedenkdiens vir die vryheidstrydikoon mnr. Herman Andimba Toivo ya Toivo nou...

Lloyd Zandberg: Midas-Hofnar

2 dae gelede | Kuns en vermaak

BL3: Die Ventertjies en Heidi kom kuierBL8: Sit vonkel in jou strompel

Jooste: 'SOE's se wittebrood is verby'

2 dae gelede | Vervoer

Francoise Steynberg - Die minister van staatsondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het dit gistermiddag duidelik gestel dat korrupsie by regeringsmaatskappye nie geduld sal word nie....

Resessie wurg Namibië

2 dae gelede | Maatskaplik

Jo-Maré Duddy - Die ekonomie wat in die eerste kwartaal vanjaar sowat N$750 miljoen armer was as in dieselfde drie maande in 2016, het Namibië...

Kalender 23 Junie

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Pak vandag ’n piekniekmandjie en raak deel van die eerste WINE ON TAP by die MegaCentre in Windhoek. Daar gaan onbeperkte...

Kabinet besluit teen invoer van gevaarlike afval

2 dae gelede | Regering

Augetto Graig - Die kabinet het tydens hul onlangse vergadering besluit om die invoer van gevaarlike afval van ontwikkelde lande teen te staan.Dít deur die...

Weer vir 23 Junie

2 dae gelede | Weer

BINNELAND: Aanvanklik gedeeltelik bewolk en koud in die oggend oor die //Kharasstreek, maar later sonnig en matig. Elders sal dit sonnig en matig tot warm...

Namibië groet geliefde Ya Toivo

2 dae gelede | Gebeure

‘n Roudiens vir die ontslape bevrydingstrydheld en oudpolitikus, mnr. Andimba Herman Toivo ya Toivo, word vandag van 12:00 af by Onafhanklikheidstadion in Windhoek gehou. Die...