Kahimise kap kwaai terug
Kahimise kap kwaai terug

Kahimise kap kwaai terug

Die baas van die Windhoekse stadsraad sê sommige amptenare tree op asof hul salarisse nie deur inwoners betaal word nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise, het Vrydag gesê daar was geen bondgenootskap wat hom destyds die pos help kry het nie.

Boonop het hy die betrekking losgeslaan ondanks politieke voorbrand wat gemaak is vir kandidate wat swakker as hy gevaar het, sê hy.

Volgens hom het sy aanstelling gespruit uit ’n besluit deur “’n onafhanklike werwingspaneel”.

Geen raadslid was by sy aanstelling meer as twee jaar gelede betrokke nie, het Kahimise gesê. Enige raadslede wat tydens sy onderhoud teenwoordig was, was daar as waarnemers, het hy gesê.

Nadat die paneel ’n aanbeveling aan die raad gemaak het, is ’n besluit met die goedkeuring van die tersaaklike minister geneem, het hy gesê. “Dít het gelei tot my aankoms as die nuwe uitvoerende hoof van die stad.”

Sy eie skorskings en die beweringe van wangedrag hou direk verband met sy skorsing van die stadspolisiehoof, mnr. Abraham Kanime, sê Kahimise.

Volgens hom het sy optrede teenoor Kanime verdeeldheid in die raad gesaai.

Kahimise is glo sedertdien in onguns by sommige raadslede, ontevrede bestuurslui en vakbondverteenwoordigers.

Dié mense se desperate pogings om van hom ontslae te raak, het daartoe gelei dat hulle ’n stortvloed foute begaan het, voer hy aan.

Gevolglik moes hy kort-kort weer aangestel word kort nadat hy geskors is, sê hy.

Kahimise ontken hy het enige openbare geld wanbestee of sy posisie misbruik.

Van die aanvullende klagtes wat glo met die misbruik van N$700 000 verband hou, het hy in die media gelees.

Dit is volgens hom roekelose beriggewing en ’n blinknuwe poging om sy naam skade te berokken, sê hy.

Kanime se skorsing is onlangs ná langer as ’n jaar opgehef.

Hy en Kahimise word albei steeds deur tugstappe in die gesig gestaar.

Omkeerplan glo op dreef

Volgens Kahimise het CoW sedert sy aanstelling geskiedenis gemaak deur twee geoktrooieerde rekenmeesters terselfdertyd aan te stel om wag te hou oor die instelling se finansiële bestuur.

“Omdat die stad ’n miljarddollarinstelling is, het ons gereken dit is tyd om hierdie openbare geld toe te vertrou aan personeel met geskikte kwalifikasies.”

Hy het voorts ’n strategie- en prestasiebestuurseenheid gestig as deel van die strukturele veranderinge om die stad te help met strategieontwikkeling, monitering en beoordeling van organisatoriese prestasie, sê hy.

Hoewel die meeste senior beamptes die veranderinge omarm, is enkeles steeds gegrief, sê hy.

Van dié ongelukkige mense is agter die heksejag om van hom ontslae te raak, sê hy.

Kahimise sê hy het intussen ook ongeoorloofde grondtoekennings stopgesit.

Hiernaas, sê hy, kon hulle ook daarin slaag om hul vastebateregister te voltooi. Die waarde van dié bates beloop N$19 miljard, sê hy.

Hoewel sekere amptenare nog omkoopgeld by lede van die publiek aanvaar, spook die raad glo hard om dié en ander onetiese gedrag uit te roei, sê hy.

Volgens hom tree sommige amptenare steeds op asof hul salarisse nie deur inwoners betaal word nie.

Hy bly egter toegewy aan dienslewering.

Kahimise het toegegee CoW sukkel steeds met kontantvloeiprobleme.

Volgens hom is hul grootste uitgawes – meer as 50% van bedryfsuitgawes – vir water- en kraggebruik.

Hulle moet hul kragrekening, byvoorbeeld, binne twee weke vereffen terwyl dit hulle 60 dae neem om die geld te in wat vir daardie doel gebruik moet word, sê hy.

“Hierdie twee tydperke is nie in ooreenstemming met mekaar nie. Dit veroorsaak ’n reuse- kontantvloeitekort.”

Ondanks die geraas oor hul beweerde hoë salarisse, verteenwoordig dié bedrae kragtens ’n ministeriële maatstaf minder as 35% van bedryfsuitgawes.

Kahimise het die media Vrydag toegespreek om sy kant te stel.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Celta Vigo 4 vs 1 Las Palmas | Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio European Championships Qualifying: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion English Championship: Leicester City 2 vs 1 West Bromwich Albion Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!