• Tuisblad
  • Sport
  • Junius raap eerste titel vir 2019 naby Gobabis op

Junius raap eerste titel vir 2019 naby Gobabis op

Die terrein was maar rof en het 'n geweldige uitdaging vir die deelnemers gebied.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Die Gobabis-motorklub het die afgelope Saterdag sy eerste 2019 veldren (off-road) vir motorfietse, kwads en soortgelyke gevaartes op vier wiele by die plaas Suryas suidoos van die dorp aangebied.

Die byeenkoms wat ongeveer 100 kilometer buite die dorp gehou is, se aksie het om 09:00 in 'n feestelike atmosfeer weggespring. Sewe in­skrywings is vir die voertuigafdeling ontvang, terwyl agt motorfietse en een vierwielmotorfiets (kwad) hul opwagting gemaak het.

Plaaslike jaers van Gobabis soos Bertie Smit, Niekie Swart en die Labuschagne-broers het nie die kans laat verbyglip om deel te neem nie. Ongelukkig was die spesiale sneldeel (SS) ongenadiglik hard op die karre en net een deelnemer was gelukkig om die drie rondtes van 60 km elk te kon voltooi.

Franco Junius, wat in sy enkelkajuit-spinnekop met 'n 1.6 liter Golf-enjin vir die spesiale klas ingeskryf het, het ook soos die ander jaers teë­spoed opgetel op die rowwe roete wat meestal uit sand, los klippe en bosse bestaan het.

Stefan Labuschagne, een van die organiseerders van die Gobabis-motorklub, vertel van die manne se teëspoed wat hulle in klas A gepootjie het.

“Ek en Lappies (sy jonger broer en navigator) het die eerste twee rondtes lekker gejaag en goed voorgeloop teen die res van die veld. Maar in die derde rondte het die verandering wat ons aan die lugvloei na ons A-klas 4x4 Landy se V8-enjin gemaak het, ons aan die hakskeen gebyt.

“Toe ek sien die Landy raak warm, het ek onmiddellik stilgehou om die enjin te laat afkoel. Ons wou nie kanse waag om die enjin seer te maak nie. Voor die kompetisie was daar nie genoeg tyd om te kon toets of die verandering na die lugverkoeler wel 'n verbetering is nie. Dus is dit terug na die tekenbord vir ons,” het hy verduidelik.

Eben en Nerina Smith, Niekie Swart en Piet Retief, asook Danie Retief en Nico van Zyl het vir die spesiale klas ingeskryf. Beide Smith en Swart kon nie die eerste spesiale sneldeel klaarmaak nie. Retief het wel die eerste rondte in 'n goeie tyd voltooi, maar moes vanweë'n gebreekte sy-as die handdoek ingooi.

Smith breek 'n koeëlgewrig (ball joint) en Swarts se koppelaar gee die gees, terwyl Bertie en Nicoline Smith se kragtige 4x2 klas C V8-Mazda binne die eerste ses kilometer van hul deelname die dryfas onder Bertie se swaar regtervoet breek.

Jan Liebenberg en navigator Renier Koorts was die ander inskrywing in klas A met 'n 4x4 Isuzu-bakkie wat met 'n V8-kragbron toegerus was.

Ongelukkig loop dinge skeef vir Liebenberg met die Isuzu se enjin wat gedurende die eerste rondte oorverhit.

Die algehele wenner van die motorfietsafdeling was: 1 Duard Wiese, 2 Pierre Cronjé, 3 Samuel Barnard. Ope klas wenners (vierslagenjins van 250 cc en groter): 1 Duard Wiese, 2 Pierre Cronjé, 3 Ruan de Lange, 4 Willem Beukes. 250cc-tweeslagklas: 1 Samuel Barnard, 2 Louis Burger.

Pieter en Koos van Helsdingen het onderskeidelik in die ope afdelings vir die motorfietse en kwads inge­skryf, maar kon weens tegniese probleme nie die tydren klaarmaak nie.

Danksy die borge uit die plaaslike gemeenskap was die byeenkoms 'n reuse-sukses, vertel Labuschagne.

“Ons het veel minder inskrywings gehad as waarop ons gereken het, maar as mens na die groter prentjie kyk, was dit lekker om meer as 100 mense op die terrein te hê.

“Dit is nie net 'n dag vir die ouens wat jaag nie, maar ook die ideale geleentheid vir mense om van Windhoek of elders deur te ry om lekker vir die naweek te kamp en die natuur te geniet.

“Die datum vir die byeenkoms was nie ideaal nie, met die Paasnaweek waar baie mense see toe gaan en daar was ook 'n horde ander bedrywighede op die sportkalender. Ek moet erken die roete was rof en het sy tol op die karre en motorfietse geëis, maar geen ongeluk het gebeur nie en almal het dit geweldig baie geniet.

“Namens die Gobabis-motorklub bedank ek die volgende borge en individue wat die byeenkoms moont­lik gemaak het: On Time Couriers, Bertie Smith Contractor Services, Gobabis Auto Truck & Tractor, Auas Delta, Plastic Packaging, MegaSave, Niekie en Karin Swart, Hennie van Niekerk, Lappies Labuschagne, Gobabis Toyota, Dewald Venter, Willem Beukes, Johan en Allice Bergh, Namib Mills Gobabis, Koekoes van Zyl, Leon Human, Welmie Kühn, Omateko Lodge, Marius Labuchagne, Hennie Odendaal en Faan Beukes,” het Labuschagne gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!