“Jou tyd sal kom”

01 February 2019 | Kuns en vermaak
Lloyd Zandberg - Die bekroonde en begaafde pianis Rocco de Villiers is terug met ’n splinternuwe pop-album, Kortbroek, Langkouse.

Vir die eerste keer spog een van sy albums met ’n Afrikaanse titel, en dit beloof om die voete te laat jeuk.

Rocco besoek Namibië binnekort weer, waar hy Kortbroek, Langkouse landswyd bekend gaan stel.

Glo dit of nie, maar Rocco het aanvanklik nie ‘n loopbaan in die musiekbedryf beoog nie.

“Ek wou graag ‘n apteker word. In my wildste drome sou ek nooit kon dink mense sal betaal om na my konserte te kom kyk nie, en dat dit elke jaar net beter en voller word nie!” sê hy.

As jy vir Rocco vra of hy homself as ‘n hipster beskou, anwtoord hy baie beslis: “Nee. Ek’t heeltemal te veel styl! En boonop is ek gans te oud vir sulke dinge.”

Kortbroek, Langkouse is die musikant se 14de instrumentele album en bou voort op die unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekend geword het.

Die nuwe vrystelling spog met 10 splinternuwe oorspronklike werke uit sy eie pen, asook vier van sy gewildste treffers van vorige albums, wat “Kla 2 Kla 3 Kla 4”, “Anna Aeroplane”, “Roccobilly” en “Escape from the Ordinary Life” (die temamusiek van RSG se weeklikse kunsprogram op Dinsdagaande) insluit.

Met titels soos “Goeie gevoel”, “Vanaand kan ek dans”, “Reën kan jy nie koop nie” en “Nooit te laat (om lief te hê)” is dit duidelik dié nuwe album gaan luisteraars op ’n opwindende reis neem.



Oor die jare is hierdie talentvolle musikant se werk met verskeie pryse bekroon, wat SAMA-, Huisgenoot Tempo-, Ghoema-, Vonk- en Cape Theatre-toekennings insluit.

Sy geestelike album, Beautiful Beautiful Hymns, wat in 2015 uitgereik is, het ook goue status bereik.

Hoewel hy al jare in die bedryf is, onthou hy steeds sy eerste verhoogverskyning.

“My eerste optrede ooit was op die ouderdom van vier, toe ek die Kardoefie-orkes van die kleuterskool gedirigeer het. Ek was gespanne, soos ek steeds vandag voor ‘n vertoning is, altyd bang die gehoor gaan dink ek is simpel. Maar sodra die musiek begin, is alles oukei,” sê Rocco.

Buiten verskeie verhoogproduksies spog Rocco ook met twee mengeldrankieboeke, ’n regstreekse DVD-opname en ’n boek met bladmusiek vir klavier.

Hy was ook by die klankbaan van die Amerikaanse fliek Brewsie & Willie betrokke en het temamusiek vir nege TV-reekse geskryf, is die vervaardiger van twee TV-reekse en dokumentêre programme vir M-Net oor die geskiedenis van musiek, en het sy lyf ook al aanbieder van drie kykNET-programme, Kook en Klavier, Rocco, en Klop die Klawers, gehou.

Van 28 Junie af is hy ook op SABC2 as gasaanbieder van die tweede reeks van die speletjieprogram Beter Assie Bure te sien.

Vanjaar vier Rocco twee dekades in die bedryf. Hy tree ongeveer 100 keer per jaar op.

“Aanvanklik was dit natuurlik baie moeilik om mens se plek in die bedryf te vind, maar nou is dit makliker. Ek doen ongeveer 100 konserte ‘n jaar oraloor die land en in Namibië, en my konserte bestaan meestal uit my eie musiek, geïnspireer deur stories en voorvalle uit my lewe. Ek’s natuurlik mal oor kleurryke kostuums op die verhoog! Elvis Presley, Freddy Mercury en Liberace inspireer my geweldig.”

Rocco probeer steeds om sy konserte op groter verhoë te hou, waar hy uiteindelik sy eie oorspronklike musiek speel.

Hy het al verskeie lewenslesse geleer, maar voortdurend moed gehou en besluit om op die positiewe te fokus.

“Dit gaan beter raak. Jou tyd sal kom. Ek is op skool en universiteit geboelie en het daaruit geleer om net myself te wees,” sê hy.

Oor sy beplande toer deur Namibië is Rocco baie opgewonde en hy sien veral na die asemrowende landskappe uit.

“Namibië se besondere tipe maanlandskap het my sedert my eerste besoek gefassineer. Die gehore is altyd baie opgewonde en ondersteunend. Ek sien geweldig na die wildsvleis en Jägermeister uit!”

Iets wat nie baie mense van dié klaviermeester weet nie, is dat hy nie kan swem nie, en hy wil Rusland nog graag besoek.

Namibiese toerdatums

8 Februarie - Otjiwarongo

Venue: Crocodile Farm

Prys: N$300 per persoon, wat ‘n driegangmaaltyd insluit

Tyd: 19:00

Kontak: 081 348 6765

9 Febuarie - Tsumeb

Venue: Teaterhuis

Prys: N$150 per persoon

Tyd: 13:00

Kontak: 081 148 8133

13 Februarie - Omaruru

Venue: Wronsky Haus

Prys: N$160

Tyd: 19:00

Kontak: 081 211 5135

14 Februarie - Swakopmund

Venue: The Dome, Swakopmund

Tyd: 19:00

Kontak: (064) 400 301

Soortgelyk

 

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

13 ure gelede | Weer

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

‘Aarde lag deur haar gebarste gesig’

13 ure gelede | Tuisblad

Ronelle Rademeyer – Groot dele van die Suide is vanoggend (Saterdag) sopnat.Die Facebook-blad Reën in Namibia van Philip Deetlefs is die ene jubelsange van dankbaarheid...

Parlement skop Woensdag sy werksaamhede af

1 dag gelede | Regering

Pres. Hage Geingob open Woensdag om 14:30 die Nasionale Vergadering se verrigtinge vir die jaar. Dit sal die negende sitting van die sesde parlement inlui.Die...

Registrasiefooie by NUST nou N$2 000 minder

1 dag gelede | Onderwys

Die Universiteit van Wetenskap en Tegnologie (Nust) se registrasiefooie is met N$2 000 van N$4 200 tot N$2 200 verminder. Dit volg nadat ouers en...

Man sterf in ongeluk naby Rehoboth

1 dag gelede | Ongelukke

‘n Man is Woensdag op slag dood nadat die voertuig waarin hy op reis was, die pad verlaat en omgeslaan het. Volgens die polisie se...

Grondwet mag nie ‘papierdroom’ wees

1 dag gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - “Ons kan almal baie dankbaar wees vir die Grondwet wat ons geskryf en eenparig aanvaar het. Namibiërs se vryheid en beskerming lê...

Groter stoom vir TransNamib

1 dag gelede | Vervoer

font face="Verdana" > Augetto Graig - Die nasionale spoorwegonderneming TransNamib het ’n nuwe raad en strategiese besigheidsplan aangekondig waarmee die onderneming ’n nuwe rigting...

NSFAF: Finale betalings voor 28 Februarie

1 dag gelede | Onderwys

Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente (NSFAF) het alle geld ontvang wat aan studente vir 2018-’19 uitbetaal moet word. Volgens die fonds het die verwerking...

Weer, Vrydag 8 Februarie 2019

1 dag gelede | Weer

BINNELAND: Sonning en bloedig warm in die verre noordweste. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele tot wydverspreide donderbuie.KUS:...