Jessica, die seekoei wat jy maar kan soen!

Toe die kalfie gered is, was haar naelstring nog aan haar vas en het sy slegs 16kg geweeg.
Tanja Bause
Tanja Bause - Seekoeie word beskryf as die gevaarlikste diere in Afrika, asook die diersoort wat die grootste bedreiging vir mense op die vasteland inhou - maar dan is daar Jessica.

Jessica is die wêreld se vriendelikste en bekendste seekoei. Sy woon in Hoedspruit, in Limpopo, in Suid-Afrika.

Jessica, wat gereeld 'n soen op die snoet van besoekers kry, is gek oor soet, warm rooibostee en het selfs al haar aangenome ma en pa se lewens gered.

Dié enorme soogdier het 16 jaar gelede tydens die groot vloed van die Blyderivier van haar ma af weggespoel. Mnr. Tonie Joubert het ná die vloed op die klein seekoeikalfie op die wal van die rivier voor hulle huis afgekom. Haar naelstring was nog aan haar vas. Sy was ’n paar ure oud, baie swak en kon nie op haar eie staan nie. Jessica het slegs 16kg geweeg en haar skouers was maar 30cm hoog van die grond af.

Joubert, wat ’n agtergrond in natuurbewaring het, het presies geweet hoe om die kalfie te versorg en te verseker dat sy oorleef. Hy het formulemelk vir haar aangemaak en sy het spoedig sterker geword en gewig opgetel.

“Die dag toe ek vir Jessica gekry het, het my lewe verander. Mense weet nie baie van seekoeie af nie. Ek het so baie by haar geleer,” het Joubert gesê.

Jessica het gou maats gemaak met die Jouberts se honde en sy het hulle, asook die Joubert-egpaar orals heen gevolg.

Jackie, een van die Joubert-honde, slaap nou nog op Jessica se rug.

Van kalfie-dae af is Jessica in die huis toegelaat. Sodra sy by die huis instap, gaan sy reguit kombuis toe en sit haar kop op die toonbank om te wag vir haar kos. Sy het oor die jare heen al sewe beddens stukkend gelê. Deesdae slaap sy op ’n matras op die stoep en luister na die televisie of klassieke musiek.

Jessica en me. Shirley Joubert het ’n hegte band. Die seekoei beskou Shirley as haar ma. Die twee swem gereeld saam in die rivier en Shirley gooi die dier saans toe onder ’n kombers. Volgens Shirley is daar krokodille in die water, maar Jessica beskerm haar teen hulle.

“Sy het selfs al ’n krokodil doodgemaak om my te beskerm,” het Shirley gesê.

Jessica drink daagliks graag byna 20 liter soet, warm rooibostee. Besoekers gee graag vir haar tee uit groot bottels terwyl hulle haar op haar nat snoet soen. Sy hou ook baie van soet patats. Die vriendelike soogdier maak ook gretig haar bek oop om klein lekkernye te verorber.

Vandag weeg Jessica 1 750kg en is sy vry om te kom en gaan soos sy wil. Omtrent ’n kilometer met die rivier af is daar ’n trop wilde seekoeie by wie sy gereeld gaan kuier. Sy bly dan vir ’n paar dae weg, maar kom altyd weer terug huis toe. Soms kom kuier die wilde seekoeie ook by haar. Wanneer die Joubert-gesin snags ’n seekoei op die werf hoor, moet hulle altyd eers goed seker maak dit is Jessica en nie ’n wilde seekoei nie.

Jessica en die Jouberts is al saam deur diep waters.

In Januarie 2012 het Hoedspruit erge vloede beleef.

“Ons krag- en telefoonlyne was af. Die water het bly styg en ek het ’n roeiboot aan die agterdeur vasgemaak in geval ons dalk die huis moet ontruim. Met so ’n vloed is daar altyd baie krokodille en wilde seekoeie in die water en ek wou nie hê Shirley moes in die water wees nie,” het Joubert gesê.

Omstreeks 21:00 die aand het die water in die huis ingestroom en moes die Jouberts die huis ontruim. Shirley het in die bootjie geklim en die sterk stroom het die boot meegesleur.

“Ek was op my tone en het probeer om die boot te stuur. Ek het Jessica gehoor en geweet sy is by ons. Terwyl ek die boot stuur en stoot het sy ook help stoot. Sy was die heeltyd aan my sy,” het Shirley gesê.

Die egpaar het sopnat in die donkerte op ’n rots gaan sit en Jessica het teenaan hulle gelê. Seekoeie se lywe is baie warm en Joubert vermoed dat sy hulle warm probeer hou het.

“Ons het wilde diere gehoor wat naby was en twee keer die aand het Jessica opgevlieg en hulle verjaag. Sy het nie net gehelp om die boot na veiligheid te stuur nie, maar het ons ook teen wilde diere beskerm.”

Nege dae na die vloed het die egpaar onder die opdrifsels op hulle voorstoep vir Ritchie, ’n jong seekoeibul wat 22kg geweeg het, gevind. Hy is deur krokodille aangeval.

Op 27 Januarie word Ritchie reeds vyf, en binne die volgende paar maande sal Joubert hom volg wanneer hy na die wilde seekoeie terugkeer.

“Ek sal hom dag en nag volg net om seker te maak hy is veilig by die wilde seekoeie. Sodra ek sien hulle gaan hom nie seermaak nie, sal ek huis toe gaan. Ritchie is dan vry om by hulle te bly. Maar natuurlik is hy ook altyd welkom by ons - nes Jessica.”

Vir Joubert was dit baie erg toe Jessica in 2007 vir die eerste keer siek word. Sy het salmonella-vergiftiging opgedoen en moes vyf inspuitings by ’n veearts kry. Die naalde het gebuig en kon nie deur haar dik vel dring nie.

“Ons moes die medisyne toe met ’n pylgeweer in haar inskiet. Dit was vir my verskriklik. Ek kon nie kyk nie en het op die stoep bly sit. Ek wou nie sien hoe sy seerkry nie,” het Joubert gesê.

“Toe die eerste pyl haar tref, het sy uit die water gespring en oor die veld gehardloop. Sy het langs my op die stoep kom staan asof sy wou sê ek moet die seer wegvat en die pyl uittrek.”

Na vyf dae het Jessica darem weer begin eet en het sy volkome herstel.

Joubert sê die lekkerste tyd van die dag is wanneer die seekoei op haar matras op die stoep kom lê.

"Dan skink ek vir my ’n glasie en sit by haar en ons hou mekaar geselskap. As dit koel word, gooi ons haar met ’n kombers toe vir die nag.”

Daar is al minstens 103 dokumentêre programme oor Jessica gemaak. Toe sy 15 maande oud was, het sy ’n rol in Leon Schuster se fliek, Mr. Bones, gespeel. Ook die Oprah Winfrey Show het haar storie vertel. Sy was ook al op die televisiekanale Animal Planet, National Geographic en Discovery. Kwêla en Carte Blanche het haar seker die meeste roem laat verwerf.



Naas olifante en witrenosters is seekoeie die grootste soogdiere wat op land lewe en hul vel alleen kan tot ’n ton weeg. In antieke tye is die seekoei in Egipte as die vroulike god van swangerskap en vrugbaarheid beskou en dus as ’n heilige dier. Weens mens-dier konflik is hulle in dié deel van Afrika oor die jare uitgeroei. Hulle floreer wel in ander Afrikalande.

Daar is twee spesies seekoeie: die groter seekoei (Hippopotamus Amphibius) wat in Oos-Afrika en suid van die Sahara voorkom, en die veel kleiner dwerg-seekoei (Choeropsis Liberiensis) wat net in Wes-Afrika se woude voorkom en baie skaars is.

Seekoei is ewe gemaklik in die water as op die grond. Hulle het vier gewebde tone wat hul bewegings in die water en op die grond vergemaklik. Hulle kan teen 'n spoed van tot 40km/h op land hardloop.

Hulle het baie dik velle en geen hare op hulle lywe nie. Seekoeie het geen sweetkliere nie en is dus afhanklik van water en modder om hulle koel te hou. Hulle skei wel ’n rooi vloeistof af wat hulle teen die son beskerm.

Seekoeie gebruik hul sterte om hul ontlasting te versprei wat hul gebiede en sosiale status in die trop aandui.

Hulle beweeg gewoonlik in troppe van omtrent 15 diere saam met een groot territoriale bul. Seekoeie gee geboorte aan een kalf op 'n slag op droë land of in vlak water. Wanneer sy in die water kalf, help die ma die baba na die oppervlak toe. Later leer sy die kleintjie swem. Sy beskerm haar nageslag nie net teen krokodille nie, maar ook teen manlike seekoeie wat hulle in die water sal aanval.

Kalfies kan omtrent net 30 sekondes onder die water bly en volwasse seekoeie tot ses minute. Kalfies kan onder water soog terwyl hulle diep asemhaal en hul neusgate en ore toemaak. Kleintjies begin gras eet wanneer hulle omtrent drie weke oud is. Die ma voorsien hulle steeds van melk vir sowat ’n jaar. Kalfies klim dikwels op hul ma se rug om uit die water te kom en om te rus.

Seekoeie klim uit die water om gras te vreet. Hulle klim gewoonlik by dieselfde plek uit en bly buite vir tot vyf ure. Hulle vreet nie baie nie, omdat hul rustige lewe nie baie energie vereis nie.

Die naam hippopotamus kom van die Griekse woorde hippo, wat perd beteken, en potamus, wat rivier beteken. Ten spyte van hul fisiese ooreenkoms met varke is die naaste familielid van ’n seekoei, walvisse en dolfyne. Die oudste seekoei-fossiele behoort aan die genus Kenyapotamus wat in Afrika gevind is en omtrent 16 miljoen jaar oud is.



’n Ou Afrika-fabel oor die seekoei verduidelik hoekom hulle dikwels hul bekke oopmaak en hoekom hulle hul ontlasting op land versprei.

Daar word gesê dat toe God die aarde geskep het, Hy die seekoei droë land gegee het om op te woon.

“Ons brand in die son en kry baie warm. Ons wil graag in die water woon,” het die seekoei gesê.

“Nee, julle sal al die visse in die rivier opeet,” is daar vir hulle gesê.

Die seekoeie het toe, volgens die fabel, belowe dat as hulle in die water mag ingaan, hulle nooit 'n enkele vis sal eet nie. Tot vandag toe maak seekoeie hul bekke oop om te wys dat daar geen vis in is nie. Hulle beweeg saans op droë land en versprei hul ontlasting om te wys dat daar geen visgrate in is nie en dat hulle hul belofte gehou het.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!