Japie se nalatenskap: 'n Historiese oomblik

Danksy ons eie Japie van Zyl sal vir die heel eerste keer in die geskiedenis 'n klein, outomatiese helikop­ter op 'n ruimtesen­ding vir verkenning ingespan word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh – Ruimte-entoesiaste sal volgende week regstreeks kan kyk hoe Nasa se Perseverance-verkenningstuig – waarby ons eie dr. Japie van Zyl ten nouste betrokke was en wat waarskynlik vir hom die verwesenliking van 'n droom sou wees – op Mars land.

Wat dié sending be­sonders maak, is dat die tuig die keer 'n klein helikoptertjie saamgeneem het wat aan sy onderkant vasgemaak is – iets wat die breinkind van wyle dr. Van Zyl, voormalige direkteur van sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL), was.

Dit staan as die Ingenuity Mars Helicopter bekend.

Van Zyl het in 2018 tydens 'n onderhoud met Republikein verduidelik dié projek lê hom baie na aan die hart en dat hy in 2013 omtrent vir sy Mars-helikopter moes “baklei”.

Danksy Van Zyl sal dit dus die heel eerste keer in die geskiedenis wees dat 'n klein, outomatiese helikopter op 'n ruimtesending vir verkenning ingespan word. Dit sal drie keer meer van die gebied kan bestudeer as wat 'n robottuig kan doen.

Dit volg nadat die Perseverance-verkenningstuig op 30 Julie 2020 by Cape Canaveral in Florida in Amerika gelanseer is.

Van Zyl het tydens die lansering aan Namibiese media verduidelik Perseverence lyk net soos Curiosity, maar is met ander instrumente toegerus wat dit in staat stel om enige bewyse van lewe op die Rooi Planeet te vind – soos byvoorbeeld fossiele.

Hy was baie opgewonde oor die rol wat die Mars-helikopter sal vertolk.

“As ons op Mars geland het, sal hulle die helikopter aflaai. Dit sal dan die eerste keer in die geskiedenis wees wat ons met 'n helikopter of enige soort vliegtuig op 'n ander pla­neet vlieg,” het hy verduidelik.

MOEILIKE LANDING

Perseverance sal op Donderdag 18 Februarie omstreeks 22:55 (Namibiese tyd) in Mars se Jezero-krater land en die gebeurtenis kan regstreeks op Nasa JPL se YouTube-kanale gevolg word. Verskeie uitsendings hieroor begin reeds Dinsdag.

Volgens Nasa sal Perseverance Mars se dun atmosfeer aanvanklik met 'n hitteskild teen sowat 20 000 km/uur binnedring.

'n Valskerm asook 'n beheerde landing sal help om die spoed na 'n driekwart meter per sekonde te verminder, waarna 'n tipe lughyskraan die ruimtetuig tot op sy wiele sal laat afsak.

Nasa verduidelik dat so 'n landing op Mars baie uitdagend is. “Net sowat 40% van sendings was suksesvol wat ooit deur enige ruimte-agentskap na Mars gestuur is.

“Perseverance is maar net die vyfde Nasa-tuig wat ons op dié planeet gaan probeer land,” lui 'n media-verklaring deur Nasa JPL.

Die Jezero-krater is net noord van Mars se ewenaar geleë en is sowat 45 km wyd. Nasa sê dit het vantevore 'n meer gehuisves, wat wetenskaplikes meen is een van die ideale plekke om bewyse van antieke mikrobiese lewe te vind.

“Indien lewe op enige ander plek in ons sonnestelsel kon voorkom, is die kanse die beste dat dit in die Jezero-krater sal wees.

“Die vraag wat Perseverance probeer beantwoord is dus: Is daar enige bewyse van antieke lewe op Mars?

“Om die vraag te beantwoord, sal die ruimtetuig klip- en sandmonsters versamel en stoor, wat later na die aarde teruggebring sal word. Hier sal dit dan met gesofistikeerde instrumente ontleed word, wat te groot en swaar was om na Mars te vervoer,” het Nasa verduidelik.

RUIMTEHELIKOPTER

Van Zyl het destyds verduidelik die Perseverance Mars-sending sal die eerste wees wat aktief na mikrobiese lewe op Mars soek.

Om die ruimtehelikopter in Mars se dun atmosfeer (1% van dié van die aarde) te laat vlieg, moes alles so lig en so kragtig as moont­lik gemaak word.

Die helikopter sal vir 30 dae ingespan word en vyf vlugte onderneem – elke keer al verder.

Volgens Nasa sal die eerste toetse gedoen word om suurstof te maak uit die atmosfeer, en daar sal aktief na waterbronne gesoek word.

Die omgewing sal bestudeer word om toestande te ondersoek vir toekomstige menslike sendings na die planeet.

Van Zyl was ook by ver­skeie ander Nasa-ruimteprojekte betrokke, wat insluit die Kepler-, Curiosity- en InSight-sending van onderskeidelik 2009, 2012 en 2018.

Vóór hy verlede jaar op 26 Augustus aan 'n hartaanval dood is, het hy in 2019 as hoof van astronomie en fisika by Nasa se JPL afgetree.

Tydens die In-Sight-sending van 2018 het Van Zyl en sy span onder meer probeer vasstel of Mars 'n vloeibare kern gehad het en is ander vrae oor die vorming van die planeet sowat 4,5 miljard jaar gelede beantwoord.

Dit het gevolg op die Curiosity-ruimtetuig se landing op 5 Augustus 2012, met die doel om vas te stel of toestande op Mars ooit van so aard was dat dit lewe sou kon ondersteun – iets wat inderdaad bevestig is.

Van Zyl het tydens besoeke aan Namibië gereeld praatjies oor sy werk by skole en aan belangstellendes aangebied. Ongeag sy talle prestasies vir sy werk – veral as dit by ontdekkingsreise na die Rooi Planeet kom – is hy as 'n aardse en nederige mens beskryf wat báie lief vir Namibië was.

Tydens 'n onderhoud met Republikein in 2016 praat hy oor sy planne om eindelik in Namibië af te tree en sê: “Ons is soos olifante, ons hou aan terugkom hierheen. Dit help nou maar nie, die stof van hierdie plek bly in jou bloed.”

Oor die Rooi Planeet het hy geskerts: “Ek sê altyd Mars is my 'favourite' planeet, want as ek sit en verlang en na foto's daarvan kyk, herinner dit my so baie aan Namibië.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!