Japie gesels oor InSight-sending
Dr. Japie van Zyl het uit Kalifornië oor die verkenningsprojek op Mars gesels.
Ronelle Rademeyer
Met die nuwe Mars-projek hoop ruimtewetenskaplikes om een van die tergendste vrae oor dié planeet op te los.
Dit is naamlik of Mars eens op 'n tyd ook 'n vloeibare kern en dus 'n magneetveld gehad het.
Dr. Japie van Zyl, direkteur van sonnestelselverkenning by Nasa se Straalaandrywingslaboratorium (JPL), sê die aarde se vloeibare kern help met die dinamo-effek wat die magneetveld opwek.
“Mars het nie 'n magneetveld nie, maar as die teorieë reg is, moes Mars dit ook gehad het. Dit kan wees dat Mars se kern met verloop van tyd gevries het.
“Met hierdie sending gaan ons probeer vasstel hoekom Mars nie sy magneetveld kon behou nie,” het Van Zyl Sondagaand in 'n telefoniese onderhoud uit Pasadena, Kalifornië, aan Republikein verduidelik.
Die InSight-sending is kort ná vieruur Saterdagoggend by die Vanderberg-lugmagbasis in Kalifornië gelanseer.
Dit was die eerste keer dat Nasa 'n interplanetêre sending van hier af die ruimte ingestuur het.
“Hierdie satelliet was klein genoeg dat ons dit by Vanderberg kon lanseer. Aangesien die lugmagbasis net twee ure se ry van ons laboratorium in Pasadena af is, was dit vir ons baie makliker as in Florida,” vertel hy.
Nasa se ruimtesendings word gewoonlik by Cape Canaveral in Florida gelanseer.
“Die brandstof is twee ure voor die tyd in die vuurpyl gesit en dit is toe presies op die sekonde gelanseer (om 04:05). Ek het nogal so ewe probeer om 'n video te neem, maar dit was so mistig dat ons feitlik niks kon sien nie. Ons het natuurlik die gedreun gehoor. Die vibrasie was so erg dat die karre se alarms afgegaan het,” vertel Van Zyl.
As hoof van sonnestelselverkenning val hierdie US$700 miljoen-projek, waaraan 'n span van 700 wetenskaplikes en ingenieurs by die JPL gewerk het, onder hom.
Dr. Bruce Banerdt was die hoofnavorser en lei die wetenskaplike span, terwyl dr. Tom Hoffman die projekleier is.
Hy sê die verkenningstuig is toegerus met 'n hamermeganisme wat deur die grondlae sal breek. 'n Pen met instrumente sal tot op 'n diepte van vyf meter ondersoeke doen.
Benewens om te probeer vasstel of Mars 'n vloeibare kern gehad het, gaan die wetenskaplikes ook probeer vasstel of daar marsbewings (soortgelyk aan aardbewings) voorkom.
“Die seismometers in die pen sal daarmee help. Ons het hierdie seismometers in Denver, Colorado, gaan toets. Dit is 2 000 km van Kalifornië af en ons kon die trillings optel van die branders wat op die strande in Kalifornië breek. Dit is hoe ongelooflik sensitief hierdie meters is.”
Die InSight sal op 26 November aankom sowat 600 km noord van waar die Curiosity tans verkenningswerk doen.
Dié landing sal met dieselfde noukeurigheid genavigeer word as die Curiosity se landing op 5 Augustus 2012.
“Dié noukeurigheid kan vergelyk word met 'n gholfspeler wat in Los Angeles afslaan en dit regkry om die bal met 'n volmaakte kolhou op die St. Andrew's-gholfbaan in Skotland neer te sit,” verduidelik hy.
“Trouens, ons het nou meer kennis en behoort dit selfs beter te kan doen as met die Curiosity.”
Anders as die Curiosity wat kernkrag-aangedrewe is, word die InSight se elektrisiteit deur sonpanele opgewek.
“Ons gaan hom dus op 'n plein, bekend as die Elyseum Planitia, naby aan die ewenaar op Mars, land. Dit is 'n baie plat terrein sonder steil hellings.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie