Isap verwerp hokaairoeper se beweringe

‘Skenking vir bou van fasiliteit’

15 April 2021 | Omgewing
Francoise Steynberg – Die uitvoerende hoof van Intelligence Support Against Poaching (Isap), mnr. Fritz Kaufmann, het alle beweringe ontken wat Sondag op die Facebook-blad Project Whistleblower Namibia geplaas is.

Beskuldigings is gemaak dat Isap in 2019 skenkings van meer as N$2 miljoen ontvang het, salarisse van N$1,4 miljoen betaal het, met twee mense wat N$500 000 elk ontvang het, maar hul uitgawes vir teenstropery was slegs N$90 000.

Beweringe is ook gemaak dat Isap uit die hoofkantoor van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme geskop is waar hulle gestasioneer was.

Dit is deur die woordvoerder van die ministerie, mnr. Romeo Muyunda, ontken.

“Isap het geen kontraktuele of operasionele ooreenkoms met die ministerie nie. Hulle moet self op die beweringe reageer,” het Muyunda aan Republikein gesê.

Kaufmann het hierop gereageer en gesê dit het tydens 2018 en vroeg 2019 duidelik geword dat Isap bykomende ruimte benodig om die organisasie se bedrywighede te huisves en alternatiewe persele is gevind.

“Isap het in hierdie verband kennis aan die omgewingsministerie gegee. Daar was geen uitsetting uit die ministerie se kantoor nie en ons gaan voort om saam te werk in sake van gedeelde belang,” het Kaufmann gesê.

Wat die skenkings van meer as N$2 miljoen betref, sê hy dit is ontvang vir die konstruksie van die Isap-fasiliteit in die Otjozondjupastreek.

“Die skenkers het die bou van ’n fasiliteit vir opvoedkundige opleiding en omgewingsbewusmakingsdoeleindes goedgekeur. Dit word in fases gebou en die eerste twee fases is volgens die skenkers se versoeke voltooi en oop om enige tyd te besoek,” het Kaufmann gesê.

Rakende die salarisse van N$1,4 miljoen in 2019, sê hy personeelkoste sluit die salarisse van die konstruksieprojekbestuurder en bedryfshoof in wat verantwoordelik was vir alle projekte, fondsinsamelings, koördinering en beplanning van teenstropery in, asook skakeling met die regering en terugvoering aan skenkers.

Oor die bewering van slegs N$90 000 wat vir teenstropery gebruik is, kap Kaufmann terug: “Isap as ’n organisasie is meer as slegs lugwaarneming en algemene inligtingsondersoeke.”

Oor die beweringe dat “die res na die onderhoud van die vliegtuig gaan wat meer ’n las as ’n bate is,” sê Kaufmann die jaarlikse onderhoudskoste van die vliegtuig is sowat N$150 000.

“Die vliegtuig het sedert dit aan Isap geskenk is 'n belangrike rol in verskeie soektogte na wildlewe gespeel,” sê Kaufmann.

“Daarbenewens is die vliegtuig ook gebruik in gesamentlike teenstropery-aktiwiteite met die Namibiese polisie.”

Hy sê die vliegtuig is 'n bate wat reeds sy waarde bewys het en dit sal so voortduur.

“Sonder die vliegtuig sou geen langafstand lugwaarnemingsaktiwiteite moontlik wees nie en teenstropery in die uitgestrekte Namibiese landskap sou ernstig belemmer word,” sê hy.

Volgens Kaufmann sal eksterne oudits binnekort voltooi wees.
[email protected]

Soortgelyk

 

Skoolhoof van Swakop sterf aan Covid-19

9 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer – Huldeblyke het gister uit onderwys- en ander kringe ingestroom nadat die skoolhoof van Pro-Ed Akademie se hoër­skool op Swakopmund, mnr. Henry McCarthy,...

ReconAfrica voor hof gedaag

9 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer – Reconnaissance Energy Africa (ReconAfrica) het sonder konsultasie of vooraf kennisgewing die natuurlike woud en landerye wat wettiglik deur 'n familie by Mbambi...

Weer vir 10 Mei 2021

9 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm wees.KUS: Gedeeltelik bewolk en warm...

Nog NBC-werkers keer terug

9 ure gelede | Arbeid

Hoewel die NBC-staking landswyd voortduur, het 74 werknemers intussen teruggekeer werk toe en is die Engelse radiodiens, National FM, weer terug op die lug. Die...

Noodkreet teen misdaadvlaag

9 ure gelede | Misdaad

Tunohole Mungoba op Oshakati – Die Oshakati-stadsraad het Donderdag 'n openbare vergade­ring in Okandjengeni-Suid op dié dorp gehou waar verskeie veiligheidskwessies geopper en klagtes teen...

Dwelms van amper N$2 miljoen gekonfiskeer

9 ure gelede | Misdaad

Volgens die Namibiese polisie is in April meer mense in besit van dwelms in hegtenis geneem as gedurende Maart. In Maart is 106 mense in...

Nuwe lewe in onooglike kraghuis geblaas

9 ure gelede | Kuns en vermaak

Claudia Reiter – Die kunstenaars Kat en Lens het die mure van 'n transformator-substasie in Conrad Ruststraat in Klein Windhoek geverf en verfraai. “Ons ry...

Geen partytjie vir Nujoma

9 ure gelede | Gemeenskap

Die kantoor van die stigterspresident Sam Nujoma het aangekondig hy gaan nie op 12 Mei sy 92ste verjaardag met 'n openbare byeenkoms vier nie. Dié...

Betaaldag hier vir Air Namibia se personeel

9 ure gelede | Vervoer

Ogone Tlhage – Die minister van openbare ondernemings (SOE's), mnr. Leon Jooste, het bevestig die regering het 'n gedeelte betaal van die N$278 miljoen wat...