Is dit ‘n verkoue of griep?

Lloyd Zandberg
Die winter is hier en so ook die verkoue-en-griepseisoen.

Die meeste van ons sal begin snuif en hoes en sommer net aaklig voel. Dit is waarskynlik net ’n gewone verkoue, maar hoe weet jy of dit nie dalk die gevreesde griep is nie?



Wat is ’n verkoue?

’n Verkoue word veroorsaak deur enige van meer as 200 verskillende soorte virusse. Sodra jy verkoue kry, sal die simptome binne een tot vyf dae verskyn. Die eerste teken is gewoonlik ’n irritasie in die neus of ’n krapperige gevoel in die keel, met ’n waterige neusafskeiding en nies wat binne ure daarna volg.

Die verkoue behoort binne sewe dae vanself op te klaar, met enkele simptome soos ’n hoes wat vir nog ’n week of wat kan voortduur.

Wat is die simptome van ’n verkoue?

• ’n Loopneus of ’n toe neus

• ’n Seer keel

• Nies

• Geringe tot matige koors

• Hoes

• Hoofpyn of lyfseer

• Effense moegheid

Hoe word ’n verkoue behandel?

’n Verkoue is vir die eerste twee tot drie dae aansteeklik, dus moet jy tuis bly en rus. Omdat dit ’n virusinfeksie is, sal behandeling met antibiotika nie doeltreffend wees nie. Medisyne wat jy sonder voorskrif kan koop, soos ontstuwingsmiddels en anti-inflammatoriese medisyne, kan egter help om simptome soos kongestie en koors te verlig. Drink baie water om dehidrasie te voorkom.

’n Verkoue sal binne ’n paar dae opklaar, maar jy moet ’n dokter raadpleeg indien daar ná ’n week nog geen verbetering is nie of as jy ’n ernstige of voortdurende koors ontwikkel. Dit kan ’n teken wees dat jy ’n sekondêre, bakteriële infeksie (soos sinusitis of streptokokkusinfeksie) ontwikkel het wat antibiotika vereis. ’n Aanhoudende gehoes kan ook ’n teken van asma of brongitis wees.

Hoe voorkom ek ’n verkoue?

Vermyding:

Omdat verkoues so maklik versprei, is vermyding die beste voorkomingsmaatreël. Bly weg van siek mense en moenie eetgerei of ander persoonlike items soos ’n tandeborsel of handdoek met ander deel nie.

Goeie higiëne:

Pas goeie higiëne toe. Was jou hande gereeld met warm water en seep om ontslae te raak van enige kieme waaraan jy moontlik deur die dag blootgestel is, of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis. Moenie met ongewasde hande aan jou neus, oë en mond vat nie. Bedek jou mond en neus as jy hoes of nies, en was altyd jou hande na die tyd.

Wat is seisoenale griep?

Griep word veroorsaak deur een groep virusse – die influensavirusse. Griep slaan gewoonlik vinnig toe, met ’n koors, lyfseer en merkbare gebrek aan energie wat dadelik voorkom. Die koors sal gewoonlik vir ’n dag of twee duur, alhoewel dit tot vyf dae lank kan aanhou.

Tussen dag twee en dag vier van die siekte sal die respiratoriese simptome begin toeneem. Verkouesimptome kan ook voorkom.

Griep sal by die meeste mense vanself opklaar, maar soms is mediese behandeling nodig.

Wat is die simptome van griep?

• ’n Droë hoes

• Matige tot hoë koors

• ’n Seer keel

• Kouekoors

• Erge spier- of lyfpyn

• Hoofpyn

• ’n Toe of loopneus

• Moegheid (wat tot twee weke kan duur)

• Sommige mense kan ook naarheid en braking ervaar, maar dis meer algemeen onder kinders

Hoe word griep behandel?

Die beste behandeling in die meeste gevalle is om baie vloeistowwe te drink en te rus. Ontstuwingsmiddels en pynstillers wat jy sonder ’n voorskrif kan koop, kan help om die simptome te verlig en kan jou beter laat voel. Onthou om nooit aspirien vir kinders te gee nie. Drink baie vloeistowwe om ontwatering te verhoed.

Jou dokter kan moontlik antivirale medisyne voorskryf as behandeling van griep. Hierdie medisyne kan die duur van die siekte verkort en komplikasies soos longontsteking verhoed, maar jy moet dit neem binne die eerste 48 uur nadat jy siek geword het.

Wanneer moet ek ’n dokter besoek?

Raadpleeg jou dokter indien jy ’n risiko vir griepkomplikasies het. Die volgende mense loop ’n risiko om komplikasies te ontwikkel:

• Mense ouer as 50

• Swanger vroue

• Kinders jonger as twee jaar

• Mense met verswakte immuunstelsels weens MIV/vigs, steroïedbehandeling of chemoterapie

• Mense met chroniese long- of hartsiektes

• Mense met metaboliese afwykings soos diabetes, anemie of niersiektes

• Mense wat permanent in sorgfasiliteite soos versorgingstehuise woon

Kontak jou dokter dadelik indien die simptome vererger of indien jy tekens van longontsteking ontwikkel, soos die volgende:

• Sukkel om asem te haal

• ’n Baie seer keel

• ’n Hoes wat groen mukus voortbring

• Hoë, aanhoudende koors

• ’n Toe bors

Hou kinders fyn dop en kry dadelik mediese behandeling indien hulle die volgende simptome ontwikkel:

• Haal swaar asem

• Geïrriteerd

• Slaperig

• Wil nie eet of drink nie

• Sukkel om wakker te word of te reageer

Hoe kan ek griep voorkom?

Die beste manier om griep te voorkom, is om daarteen ingeënt te word. Dokters beveel gewoonlik aan dat jy aan die begin van die griepseisoen in April/Mei ’n griepinenting kry.

Voorkom dat jy die griepvirus kry deur jou hande gereeld met warm water en seep te was, of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis. Moenie met jou hande aan jou neus, oë en mond raak nie, en vermy mense wat griep of griepsimptome het.

Belangrik

Dis belangrik om gesonde gewoontes aan te kweek om verkoue- en griepkieme af te weer. Kry genoeg slaap, eet baie vars vrugte en groente, oefen gereeld, en bestuur jou stresvlak tydens die verkoue-en-griepseisoen en daarna.

Moet nie hierdie winter met die snuffels gevang word nie!

Medihelp se voorkomende sorg voordele sluit in ‘n griepinenting per bevoordeelde per jaar op die meeste opsies. B’s en V’s geld.

Bronne: www.healthline.com, www.webmd.com, www.drgreene.com

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!