Invalshoek - 'Uitrospeksie'

26 February 2018 | Rubrieke
Rudi Koekemoer - Daar is tye wanneer 'n mens stil word om introspeksie te doen met die doel om die “eie ek”, persoonlike besluite en doelwitte te ondersoek.

Ek sit vandag terug op my kantoorstoel en kom tot die besef dat dit net so belangrik is om by tye “uitrospeksie” te doen. Ek is nie seker daar bestaan so ‘n term in ons mooi taal nie, maar dan moet dit maar gesien word as ‘n nuutskepping.

Ek sien “uitrospeksie” as die noodsaaklikheid om gereeld die eksterne wêreld waarin ons leef, te ondersoek met die doel om te rasionaliseer en betrokke te raak by moontlike oplossings vir die probleme wat ons land in die gesig staar. Daar is baie mense wat apaties staan teenoor besluite en gebeure wat buite hul persoonlike lewens plaasvind, maar nie besef dit het uiteindelik ‘n direkte impak op hulle persoonlike lewens nie. Juis omdat ons soms apaties staan teenoor belangrike gebeure in die politieke en sosio-ekonomiese landskap word stadige vordering gemaak met oplossings vir menige, kritieke, nasionale vraagstukke.

Ek is werklik bevoorreg om in Swakopmund te woon met ‘n kantoor wat uitkyk oor die Atlantiese Oseaan. Dis onmoontlik om nie in totale verwondering te staan wanneer ons na die Skepper se handewerk rondom ons kyk nie.

Hierdie pragland, saam met die vrede wat ons ervaar, kan ons maklik in ‘n gemaksone plaas waarin ons hoop politieke leiers sal die regte besluite neem om ons probleme op te los. Ja, ons land is pragtig, en, ja, ons ervaar tans vrede, maar is dit volhoubaar onder die huidige werklikhede? My onmiddellike antwoord is nee.

Uitrospeksie is gebaseer op persepsies, gevorm deur ‘n holistiese evaluering van die kernbrandpunte in die land. Die brandpunte wat my bekommerd maak, is ‘n werkloosheidsyfer van 34%, 18% van Namibiërs wat in totale armoede leef; die land se skuldlas wat tans 47% van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) is en teen 2020 tot 53% kan styg; die groeiende, onproduktiewe staatsdiens van bykans 110 000 amptenare (indien nie meer nie) wat druk op belastingbetalers plaas; miljarde wat verlore geraak het weens korrupsie en 36,4% van ons land se bevolking wat jonger as 15 is en kwaliteit onderwys moet ontvang.

Dan is daar mediese en gesondheidsdienste; energie- en watersekuriteit; die toenemende regulering van alle fasette van die samelewing - wat ekonomiese groei strem; wetgewing wat sommige groepe bo ander bevoordeel; "kinders" uit die bevrydingstryd wat aandring op verskeie onverdiende regte en wanbestuur by staatsinstellings wat ‘n finansiële las geword het.

Nasionale leiers hou gereeld konferensies, slypskole en dinkskrums om beplanning oor hierdie brandpunte te doen, maar weinig van die planne word geïmplementeer weens ‘n tekort aan geld en innoverende denke.

Kom ek stop eers, want ek vermoed die leser kan dalk dink ek is negatief. Nee. Inteendeel, ek is geweldig lief vir ons land, maar dit is tyd dat ons die erns van die saak moet besef.

Ek weet Namibië is een van die beter lande in Afrika, maar is dit die regte maatstaf om te gebruik?

Ek wil ‘n beroep op die leiers van ons land doen om kundige mense, ongeag van politieke affiliasie, van elke sektor te betrek om onmiddellike oplossings te vind vir elkeen van hierdie probleme - en dit te implementeer. Dit gaan nie help om dieselfde mense van die regerende party te betrek by dinkskrums en konferensies nie.

Daar is krag in diversiteit!

Dit het tyd geword dat ons as Namibiërs, ongeag al die dinge wat ons verskillend maak van mekaar, saam innoverende oplossings moet vind om onmiddellik die situasie om te keer. Ek wil ook kundige mense in elke sektor aanmoedig om self na vore te tree en patrioties hulle kundigheid en idees aan te bied indien die regering hulle nie nader nie. Ek is seker daar is spesialiste op elke gebied is wat goeie, lewensvatbare idees op die tafel kan plaas.

Kom ons wees aktief betrokke by die soeke na oplossings sodat ons pragland ook deur ons nageslagte bewonder kan word soos wat ons tot dusver kon doen.

Soortgelyk

 

Onderwyseres ‘ontvoer’ skoolmeisie glo vir seks

10 ure gelede | Howe

Henriette Lamprecht – ’n Onderwyseres van ’n hoërskool in die Suide het gister in die hof verskyn op aanklagte dat sy glo ’n skoolmeisie ontvoer...

Sokkerkoors loop hoog!

10 ure gelede | In beeld

Die opening van 2018 se Wêreldbekersokkertoernooi het gister by die Luzhniki-stadion in Moskou plaasgevind. Nagenoeg 80 000 sokkerliefhebbers het die seremonie bygewoon en die immerbekende...

Vakbond, regering stamp kop oor huishulpe

10 ure gelede | Arbeid

Augetto Graig – Die permanente sekretaris in die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping, mnr. Bro-Matthew Shinguadja, sê daar steek geen waarheid in die Namibiese...

Vaarwel aan Daantjie Louw

10 ure gelede | Mense

Tielman van Lill - “Stil, broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet, en dis verlaas . . . ”Só is die woorde van die...

Netumbo by slenters betrek

10 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Slenters doen tans die ronde waarby die adjunk- eerste minister en die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, betrek...

Weer vir 15 Junie 2018

10 ure gelede | Weer

WEERWAAK: ‘n Koue front en buie word in die ||Kharasstreek en suidelik kus verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud tot matig in die Suide met enkele...

Oranjemund oorhandig

10 ure gelede | Plaaslik

Yochanaan Coetzee Oranjemund, met al sy bates en dienste, is vandeesweek amptelik deur Namdeb, wat dit vir die afgelope 80 jaar besit en bedryf het,...

Man glo doodgeslaan

10 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – 'n Volwasse man het Woensdag in die Katutura-staatshospitaal beswyk nadat hy die vorige dag vermoedelik aangerand en vir dood agtergelaat is. Komm....

Unie vra vir vier kwartale

10 ure gelede | Onderwys

Henriette LamprechtDie Namibiese Onderwysersunie (TUN) het die minister van onderwys, kuns en kultuur se voorstel dat skole in die winter eers om 08:00 begin as...