Invalshoek: Namibsroos

03 September 2018 | Rubrieke
Ons het gister weer bietjie dinkskrum gehou gegewe die afname in sakebedrywighede weens die huidige ekonomiese knyptang. Gedurende die proses van strategiese beplanning waar ons kort-, medium- en langtermynplanne probeer uitwerk het, is die gebruiklike situasie-analise gedoen waar ons ook die makro sosioëkonomiese omstandighede geanaliseer het. Ons het eers na verskeie faktore gekyk met politieke stabiliteit en vrede in die land, wat tans as die grootste positiewe faktor geïdentifiseer is, terwyl die toename in regulerende wette, wat die gemak om besigheid te doen, inhibeer, as die grootste negatiewe faktor beskou is. Die ironie is dat regulerende wette geïnisieer word deur politici en leierskap op die hoogste vlakke om moontlike korrupsie hok te slaan, terwyl dit juis op daardie vlak is waar grootskaalse korrupsie plaasvind. Daar is bykans daagliks mediaberigte oor geld wat verduister of doodeenvoudig gesteel is deur leierskap van staatsinstellings of direksielede wat omstrede besluite tot hul eie voordeel neem.

Die gewone man op straat en die kleinsakeman probeer eerbaar handel dryf en betaal maar slaafs belasting oor aan die staatskas, wat weer op hul beurt staatsinstellings moet uithelp met honderde miljoene dollar weens wanbestuur. Dit is ’n bose kringloop, want die staatskas se inkomste neem af weens eerbare besighede wat hul deure moet sluit, juis omdat die ekonomie nie gestimuleer word nie en omdat dividende nie gelewer word deur staatsinstellings wat veronderstel is om winsgewend te wees nie. Nou word daar gesoek na ander maniere om die handjie vol mense wat reeds oorbelas is, meer te belas op allerlei skeppende maniere. Dit is eenvoudig nie volhoubaar nie, want die regering se fokus is net om kop bo water hou en om die volgende verkiesing te wen, terwyl kritieke strategiese knelpunte agterweë gelaat word, soos om ekonomiese groei aan te moedig deur beleggingsvriendelike wette af te kondig en dit juis makliker te maak om in ons mooi land handel te dryf. Dit is weer eens ironies dat daar tans oorweeg word om ‘n hersiene wet af te kondig, wat geensins aantreklik vir beleggers is nie. Dit maak mos nie sin nie; aan die een kant is ons ekonomie besig om te kwyn, mense is werkloos en ly honger, maar aan die ander kant maak die huidige leiers dit byna onmoontlik vir beleggers om nuwe besighede te begin, of word omstrede beleidsuitsprake oor grondhervorming gemaak en selfs ‘n aankopewet is afgekondig, wat dit moeilik maak vir die gewone man op straat om aansoek vir tenders te doen, want dit verg baie administratiewe prosesse, selfs vir die kleinste tenderbedrag. . . Dit neem maande om tenders toe te ken en dan is daar myns insiens nou te veel mag vir ‘n handjie vol mense in instansies gegee, wat op tenderkomitees dien. Skep dit nie dalk nuwe moontlike skuiwergate vir korrupsie nie?

Ons het ook gesels oor die brandstofprys wat verhoog weens meer belasting wat gehef word om regulerende instansies se begrotings te laat klop. Dit maak die voedselmandjie byna onbekostigbaar vir die arm segmente van ons samelewing, asook vir ons bejaardes. Ons het ná ‘n tydjie stil geword en stip na mekaar gekyk en besef dat daar tans nie baie positiewe aspekte aan ons sosioëkonomiese werklikheid is nie. Ons het besluit om eers die bene te strek om perspektief te probeer kry, want dalk is ons brille se lense bietjie dof. . .

Ek het vir my ‘n koppie koffie gaan skink en toe eers eenkant gaan staan onder ‘n kameeldoringboom. Ek het vir ‘n oomblik introspektief ‘n arendsvlug oor ons pragland geneem; oor die Etosha-panne met al hul natuurlike juweeltjies, tot by die Kunene, die groot Okavango, die rooi duine van die Kalahari, die sprokiesagtige Suide-landskappe wat strek tot aan die einde van Gondwana, die surrealistiese Sossusvlei, die Atlantiese Oseaan met al sy skatte tot by die duine by Swakopmund waar mens steeds woestynrose kan vind indien mens weet waar om daarvoor te soek.

Daar is geen illusies oor die feit dat ons saam pragmatiese oplossings sal moet vind om ons land se kritieke probleme aan te spreek. Ons moet die oorregulering van alle sektore heroorweeg, gegewe ons klein ekonomie in vergelyking met ander lande, en dit juis makliker maak om handel te dryf en daardeur werkskepping te stimuleer en te skep. Ons sal ernstig aandag aan bestuursvaardighede moet gee en sterk standpunt moet inneem teen instellings wat jaar ná jaar ‘n las op die staatskas is. Ons moet waak teen korttermyn- beleidsuitsprake, soos grondonteiening, en in die proses internasionale beleggersvertroue skade berokken en selfs ons eie land se voedselsekuriteit en ekonomie op die spel plaas. Daar is talle voorbeelde waar ondeurdagte besluite ‘n land se ekonomie heeltemal vernietig het. Kyk maar wat tans in Venezuela aan die gang is waar note gedruk word met denominasies wat duisendvoudig is en waarmee daar net ‘n rol toiletpapier gekoop kan word. Hul geld het oornag waardeloos geword. Dit laat mens dink aan wat nie te lank gelede in Zimbabwe gebeur het nie en ons buurland wat tans in daardie rigting stuur.

Namibië was die afgelope dekade ’n skitterende ster. . .’n Namibsroos gevorm in die holte van Gondwana. Kom ons dink aan ons nageslagte se toekoms en neem langtermynbesluite wat ons Namibsroos vir ons nageslagte bewaar om te bewonder.

Soortgelyk

 

Gesondheid: Advertensie vals

25 minute gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) sê 'n inligting wat op sosiale media sirkuleer oor opleidingsgeleenthede by die ministerie is vals. Die vals...

'n Seder val in Swapo

10 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

10 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

10 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

10 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

10 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

10 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...

Water: Hou rekord van elke druppel

10 ure gelede | Regering

Elvira Hattingh - Tot 90% van die water in Windhoek wat onnodig weens lekkasies of buitensporige waterverbruik verlore gaan, sou gespaar kon word indien huishoudings...

Semifinalis onttrek aan Mej. Namibië

10 ure gelede | Gebeure

Tanja Bause - 'n Semifinalis in die Mej. Namibië 2019-kompetisie, ­Michelle Pretorius, het aan die geleentheid onttrek. Volgens haar ma, me. Anke Pretorius, het Michelle...