Internasionale riglyne vir welvaartskepping
Internasionale riglyne vir welvaartskepping

Internasionale riglyne vir welvaartskepping

Waardekettings in die landbou
Kobus Laubscher
Dr. Kobus Laubscher - Nuwe klem op die rol wat die landbousektor kan speel as ekonomiese groeistimulant, is veral gerig op waardekettings. Losweg gedefinieer verwys waardekettings na die reeks aktiwiteite betrokke by die produksie van voedsel. Die ware omvang van wat dit vat om byvoorbeeld 'n brood te kan koop, word te dikwels gerieflik oor die hoof gesien.

Verbruikers gee ook die pas aan in terme van ontevredenheid as dié brood te duur of glad nie be­skikbaar is.

Die afgelope droogte se gevolg in terme van koste van brood as gevolg van ontoereikende aanbod, is gou vergete.

Vir baie het droogte min betekenis, want daar was altyd brood op die tafel, al is die meel van ingevoerde koring afkomstig.

Die boer is weliswaar die belangrikste skakel in enige ketting, maar baie ander rolspelers is nodig om wat die boer in gedagte het of gehad het, só aan te vul dat daar wel brood op die tafel is.

Die plaashek begrens nie die waardeketting nie; dit is wel 'n belangrike deel daarvan. Graanprodusente se besluit om te produseer behels 'n reeks besluite vóór die plaashek en dit gee gevolg aan 'n deel van die waardeketting, wat onder andere besluite oor kunsmis, onkruidbestuur, diesel, elektrisiteit ensovoorts insluit.

Dié insette moet op die plaas kom – dus die logistiek van die waardeketting.

Arbeidsinsette in die produksieproses omvat 'n nuwe ketting en wanneer die oes uiteindelik gestroop word, is 'n hele reeks ander aksies nodig voordat die brood uiteindelik geëet kan word. Dink net aan wat alles met dié brood gebeur – 'n nuwe waardeketting lewer heel brode en toebroodjies en selfs broodkrummels, wat ook ­gebruike het.

DIE BOER

Transformasie is duidelik al lyk die produk nog dieselfde, want 'n brood vars uit die oond verskil van die brood in die supermark – daar is waarde toegevoeg.

Die ironie is dat die boer van al die saakmakende rolspelers, die kleinste aandeel het in die uiteindelike prys van die brood waarmee die verbruiker die winkel verlaat – minder as 16% van die prys van 'n 700 gram brood is sogenaamde grondstof, of die koste van die koring.

Die boer is 'n prysnemer en hy moet al die grondstofkoste betaal uit die inkomste wat hy verdien uit die verkoop van die koring by die plaashek.

Landbou se bydrae tot ekonomiese groei kan dus nie net gemeet word aan die hand van die waardes by die plaashek nie. Vir die sektor in die geheel is dit minder as 3% en dalend. Indien die produk by die plaashek as die brandstof vir die optimale funksionering van die waardeketting gesien en hanteer word, kan landbou se bydrae tot die Bruto Binnelandse Produk (BBP) 20% en meer wees, afhangende van die bedryf.

Dié bydrae kan nie versmaai word nie.

Wat egter moet gebeur, is groter deelname deur die boer in die waarde wat sy produk skep nadat dit die plaashek verlaat het.

Trouens, die boer dra disproporsioneel aan die risiko as mens dit vergelyk met die prys.

NUWE NORMAAL

Die nuutste oorweging ten opsigte van volhoubare plaasaktiwiteite is om waarde toe te voeg so na as moontlik aan die plaashek, of ten minste 'n deel van marge wat daar moet setel.

Sulke aktiwiteite sal werksgeleent­hede skep in die landelike omgewing en beter daarin slaag om die “nuwe” verbruiker nader aan die oorsprong van die produk te bring. Meer en meer boere sal in die toekoms direk van die plaas af kan bemark. Dit sal die nuwe normaal word.

Waardekettings en die bedryf daarvan verskil egter in wese van dit wat tot en met die plaashek gebeur.

Die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) het vervolgens 'n gids gepubliseer wat duidelik uitspel wat oorweging moet kry, getiteld “Guidance for Responsible Agricultural Supply Chains”.

Dit gaan oor verhoogde produktiwiteit deur middel van beleidsekerheid, finansiering en die aanwending van toepaslike tegnologie.

Vaardigheidsvlakke moet ook kan byhou om die voordele van tegnologie te kan ontsluit en les bes verg dit aanpassings wat opleiding aanbetref.

Alle partye, veral beleidmakers, moet aan dié riglyne voldoen. Ongelukkig toon die nuutste navorsing dat die arbeidsabsorpsievermoë van veral gegradueerde jongmense afneem omdat hulle vaardigheid tekort skiet.

Die spreekwoordelike kersie op die koek van riglyne, is behoorlike korporatiewe bestuur en beheer.

In 'n volgende artikel gaan hierdie saak, aan die hand van 'n vyfpuntraamwerk vir risikogerigte omsigtigheidsontledings, verder bespreek word.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!