Internasionale opera kan Galilei leer ken

Sy kennis word in Namibiese klassieke kunstenaars teruggeploeg

16 July 2021 | Kuns en vermaak
Tanja Bause – “Ek glo as diegene wat het en kan ’n hand uitsteek na dié wat nie kan en het nie, as dié wat ’n droom het of iets kan doen nie moed opgee nie, kan ons ’n verskil in soveel mense se lewens maak,” sê Galilei Njembo (21), ’n operasanger en die stigter van The Namibia Music Ensemble.
Galilei is op Okakarara gebore, maar sy ouers het voordat hy twee jaar oud was Windhoek toe getrek.
Hy het twee broers, Galileo (23) en Galileu (8), en hul suster Galiana (12).
“My ouers het daaraan geglo dat as hulle ons name van mense gee wat dinge bereik het, sal ons dit ook doen. Byvoorbeeld as so iemand hardwerkend was, sal ons ook wees.
“In ons geval is ons vernoem na die Italiaanse sterrekundige Galileo Galilei wat vir iets gestaan het waarin hy regtig geglo het. Ons ouers het gehoop dat hul kinders van sy eienskappe aanneem en nie die massas volg nie, maar hul idees, denkwyse en lewens lei.”
Galilei was nog altyd in musiek geïnteresseerd en op vyfjarige ouderdom het hy by die Kollege van die Kunste (Cota) met klavierlesse begin.
“Toe ek by die Holy Cross Convent begin skoolgaan, het ek ’n ruk lank opgehou. Eers in graad 6 of 7 het die belangstelling weer opgevlam toe ek iets kreatief wou doen. Mense in Namibië het hul bedenkinge as jy iets kreatief wil doen, veral as dit met uitvoerende kuns te doen het. Hulle dink altyd jy moet iets stewig hê waarop jy kan terugval. Ek wou altyd ’n sanger word, maar het gedink realisties moet ek seker iets anders word. ’n Argitek was boaan my lys toe ek hoërskool toe is.”
Hy het sy hoërskoolloopbaan by St. Paul’s College begin en agtergekom dat die skool ’n koor het.
“Die koor was in daardie tydperk nie baie aktief nie. Die onderwysers het wel begin om my raak te sien en ek is meer en meer genooi om by prysuitdelings op te tree. Dit het my die vertroue gegee om ’n vermaakkunstenaar te word.”
COTA-JEUGKOOR
In 2015 het hy by die Cota-jeugkoor aangesluit.
“Fanie Dorfling was die dirigent en hy was die een wat my regtig aan die volledige reeks genres van musiek bekend gestel het. Hy was ook die man wat voorgestel het dat ek my stem óf in ’n koor óf as solis ontwikkel.” In 2016 het Galilei aansoek by Hermien Coetzee vir opleiding gedoen.
“Ek het aanvanklik by die verkeerde departement aansoek gedoen. Ek wou kontemporêre musiek doen, maar ek het vir klassieke musiek aansoek gedoen. Tydens my oudisie is ek gevra om iets te sing en ek het ’n popliedjie gesing. Nadat ek gekies is, het ons bietjie musiekteater gedoen en ek het gedink dis deel van die ontwikkeling. Eers later toe ons Italiaanse musiek begin doen, het ek besef dat ek in die klassieke departement is. Maar dis geen probleem nie, ek geniet dit geweldig.”
Galilei is al voor sy geboorte aan klassieke musiek blootgestel en dit was nog altyd deel van sy lewe.
“My ouers het baie navorsing gedoen oor hoe klassieke musiek die ontwikkeling van babas voor en ná geboorte beïnvloed. Daar was altyd klassieke musiek, maar ek het nie juis aandag daaraan gegee nie; dit was net altyd in die agtergrond.”
Terwyl hy by Hermien geleer het, het hy aan die Trinity College London se musiekeksamens deelgeneem.
“Die eksaminators het hierheen gekom om ons te gradeer. Toe ek klaar is met graad 12, was ek ook klaar met hulle graad 8-vlak. Ná matriek het ek my diploma in sang by die kollege gekry.”
In die tyd wat hy vir die jeugkoor gesing het, het hy in 2016 en 2018 oorsee gereis en was hy lid van die eerste Namibiese koor wat goud by die Wêreldkoorspele in Duitsland gewen het.
Hy het al verskeie solo-optredes gelewer en sedert 2017 die verhoog met die Namibiese Nasionale Simfonie- orkes (NNSO) by die jaarlikse Baroque en Concerto Festival gedeel.
STUDIES
Hy het altyd geweet hy wil oorsee gaan studeer en het in Kanada by verskillende universiteite aansoek gedoen en is by drie aanvaar.
“My keuse was McGill-universiteit, omdat hulle nie net die beste musiekdepartement in die land het nie, maar ook in die wêreld. Die aansoekproses was duur en ingewikkeld. Uitdagende vrae is gevra wat in ’n opstelformaat beantwoord moet word. Daarby moes ek video’s vir die oudisieproses instuur.
“Ek is aanvaar vir ’n BA-graad in musiek vir vokale uitvoering, met die fokus op opera. Weens Covid-19 moes ek my eerste jaar aanlyn doen. Ek hoop dat ek in September Kanada toe kan gaan om my tweede jaar te begin.”
Die probleem van geldtekort het Galilei gedwing om buite die boks te dink en met aanlyn konserte en geldinsameling te begin.
“Namibiërs is steeds baie skrikkerig om geld aanlyn vir iets te betaal. Hulle is ook geneig om te dink as iets aanlyn is, moet dit verniet wees, maar met verskeie beurse en my pogings vir geldinsameling kon ek my eerste jaar voltooi. Ek het ’n akademiese beurs gekry omdat ek eerste in my klas was, maar dit dek net die vliegkaartjie en die verblyf.
“Ek het ook baie mense wat reeds aangebied het dat ek by hulle kan kom bly, ten minste vir die eerste ruk; ek moet net daar kom. Daar is baie hulpbronne beskikbaar wanneer ek daar is.”
Galilei sing opera in Duits, Italiaans, Frans en Russies en hoewel hy nie al dié tale magtig is, is dit van uiterste belang om presies te weet waaroor jy sing sodat jy die emosie kan uitdruk.
“Ek het wel Duits op skool geleer en is die taal magtig. Ek het ook Frans verlede jaar tydens my eerste jaar van studies aanlyn geleer.”
Die ensemble is aan die einde van verlede jaar gestig en het aan die begin van 2021 hul debuutkonsert, The Marriage of Figaro, aanlyn opgevoer.
“Ons is ’n organisasie wat vaardighede en hulpmiddels gebruik wat uit klassieke en plaaslike musiektradisies verkry word om Namibiese musiek te herdefinieer en ons eie gelokaliseerde idioom te vorm deur middel van optredes, artistieke aflewerings, werksessies en opleiding. “Dis musiek wat as mense dit hoor, weet hulle onmiddellik dit is Namibies.
“Die langtermyndoelwit van die ensemble is om klassieke musiek in Namibië te vestig. Om dit bekostigbaar vir alle Namibiërs te maak. Om konserte te desentraliseer en om opleiding of verniet of bekostigbaar en toeganklik vir almal te maak. Om dit van die grond af op te bou en om ’n vaste opleidingsprogram te hê met internasionale betrokkenheid.
“’n Plek waarheen mense uit die buiteland sal wil kom musiek studeer en nie andersom nie.
“Ek wil mense help wat nie dieselfde geleenthede soos ek gehad het nie sodat hulle nie so baie hoef te betaal nie, nie so ver hoef te gaan nie en nie so baie soos ek hoef te stres nie.”
KOMPONIS
“Op vyfjarige ouderdom het ek my eerste lied “I love you” vir my ma geskryf. In hoërskool het ek begin om meer liedjies te komponeer en in 2020 het ek en Lize Ehlers my komposisies tydens die R&B Song Night gesing.”
Hy is ook deur die dirigent van die drie St. George-kore genader om vir hulle vyf of ses liedjies te komponeer. “Daardeur kan ek oefen en die kinders sing liedjies van ’n plaaslike komponis wat net bietjie ouer is as hulle, wat soos hulle lyk en in ’n taal wat hulle verstaan.”
[email protected]


FOTO
Galilei Njembo saam met die Namibiese Nasional Simfonie-orkes. Foto verskaf

Soortgelyk

 

Hengari at the forefront of the youth agenda

4 ure gelede | Skole

Rivaldo Kavanga Hailing from Okakarara in the Otjozondjupa Region, Inna Koviao-Vetarere Hengari (25) is Namibia’s youngest elected parliamentarian. She currently leads the youth agenda...

For the love of reading

4 ure gelede | Onderwys

The Presidential Advisor on Youth Matters and Enterprise Development, Daisry Mathias, joined learners at Fidel Castro Primary School to mark 2021 National Readathon Week. Mathias...

New education act, regulations in final stages

4 ure gelede | Onderwys

Iréne-Mari van der Walt The regulations adjacent to the new education act are in their final stages, according to the education inspector for...

Let’s talk about it

4 ure gelede | Skole

Monique Adams On Thursday, 2 September, the Office of the First Lady and One Economy Foundation facilitated an intergenerational dialogue with young people.This dialogue looked...

Jong skoonheid met 'n hart van goud

4 ure gelede | Skole

Mariselle Stofberg – Vir Chanique (Chani) Rabe wat onlangs as die nuwe Mej. Supranasionaal 2021 aangewys is, is haar passie vir jeug- en gemeenskapsontwikkeling ’n...

Windhoek Hospitality and Culinary College introduces new programme

4 ure gelede | Onderwys

Desiree Gases The Windhoek Hospitality and Culinary College (WHCC) is introducing Namibia Training Authority’s (NTA) level two housekeeping, laundry and front office programme with an...

Following in my father’s footsteps

4 ure gelede | Skole

Amalia Cloete I am currently studying at the International Training College Lingua. I am doing an honours degree in human resource (HR) management, and this...

Pupkewitz Megabuild launches 2022 graduate programme

4 ure gelede | Onderwys

Wetumwene Shikage The Pupkewitz Megabuild Graduate Programme initiative is aimed at supporting newly graduated students to gain work experience, which will serve as an additional...

Rundu in die donker

10 ure gelede | Energie

Inwoners van Rundu is sedert 10:00 vanoggend sonder krag. Volgens NamPower se areabestuurder vir die noordelike streek, mnr. Petrus Immanuel, is dit weens tegniese...