In ligter luim om die Bonanza-tent

30 December 2002 | Politiek en nasionale nuus
DIE nôi by die tafel langsaan het sommer self begin gesels soos ou vrinne maak, maar sonder \'n formele bekendstelling waarin die hoflike vraag gestel word \"en u dra die van?\"
\'n Ver langse kennis is sy wel, want by een van Swakopmund se stoeprestaurante is sy al gesien waar sy \'n ogie oor die diens hou. Sy loer so \'n slaggie in die Bonanza-tent waar vyfduisend mense kuier op Hentiesbaai se \"happening\" van die jaar.
Hannes Kaufmann van Double Trouble vat so \'n diep teug en vra \'n wegbreek-kansie. Moet \'n draaitjie loop. Ook maar mens. Die neerdalende stilte gee die buurvrou \'n kans om haar storie by aanskoue van die mensemenigte te vertel. Sy sê sy\'t verneem in Windhoek het hulle die sypaadjies opgerol en moet nog net die straatligte afsit.
Die boodskap is duidelik. Die hele land het vir die Kersgety see toe gekom.
So \'n wyle later word besluit om so \'n slaggie om die tent te stap om die baai uit die hoogte voor die hotel De Duine te bewonder. Loop daar vir Oom Kassie raak. Nee, sê hy, hy is steeds pure boer doer in die Suide op \'n grensplaas aan die destydse Bondels. Dis karakoele en bokke en dit gaan nie te sleg nie, al het hy nie \'n voorjaarse reëntjie gekry nie. Vir hom was 1954 \'n wonderjaar op die gebied van reën en hy teer nog strykdeur op die oorstaan-veldjie.
In die tent self is daar nou weer \'n gewolt.
Dis \'n stuk rap wat die tweemanskap daar uitpak en van die mense dans sommer op die tafels met die maat van die musiek wat aangehelp word deur klappende hande. Net toe die vrees my wil pak dat \'n nekbreek-val op een van die tafeldansers wag, timmer die tromme die maat van die musiek al hoe sagter weg in die rigting van nog \'n kort verposing.
Net daar sing die hele bondel in \'n volgende nommer vir Ou Ryperd saam en dwaal Hannes steeds in die Dozi-laan af na Tussen jou en my lê \'n berg, maar met die woorde sukkel hy \'n bietjie, want Tafelberg word sommer Underberg.
Om die tent en deur wapperende pluime van Republikein word jou neus gevolg want die vleisbraairuik het \'n sterk kerriegeur. En daar staan die sosatiebraaiers sommer so op \'n streep amper so lank as die ry mense wat by die verkoopspunt gevorm het. Nick Hayward van die hotel De Duine se plan het gewerk. Hy het aan mense wat naastediens lewer \'n vrypas gegee om hul koskraampies daar neffens die dubbele tent te kom opslaan. Maak hulle \'n wins, is dit hulle s\'n.
Uit \'n geselskringetjie kom \'n trotse stem van \'n onbekende: \"Ek lees julle koerant tog elke dag op Myl 108, man!\"
\"En hoor \'n bietjie,\" sê-vra hy. \"Hoe gaan dit met Oom Thys?\"
Oom Thys? Dis nou die groot huiskat wat verlede jaar in die seisoen weggeloop het toe hy saam met sy mense op Swakopmund gekuier het, nuwe pleegouers in die Vineta-buurt gekry het, ná nege maande aan \'n Erongo/Republikein-foto deur sy eienaars in Windhoek uitgeken is en toe op Swakopmund kom haal is. En toe kom hy vanjaar weer saam met sy mense Swakop toe - en so wragtag, hy loop weer weg na sy pleegouers toe. Nou het hy gekom om te bly, want sy storie was ook in die koerant.
Hier teen uitskeityd is dit \'n moeë spannetjie wat daar gaan. Die daaropvolgende geselsie verstrek die rede. Hulle is die reste van die spanne wat die biertente van plek tot plek moet opslaan namate die feestelikhede verskuif.
Net voor die seisoen is hulle lelik uitgedun toe een van hul leiers deur \'n hartaanval platgetrek is en nog drie siek geword het. Dit het maar geknetter, maar elke dag was die tent daar.
Kyk hulle en die malende massa so en praat sommer met myself.
\"Dis lekker by die see!\"

Soortgelyk

 

Hardap-sluise nóg groter getrek

2 dae gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Die Hardapdam se sluise is om 10:30 nóg groter oopgetrek sodat dit nou 300 m³ water per sekonde uitlaat – ‘n aanpassing...

La Niña skop dalk nóú in

2 dae gelede | Weer

Elvira Hattingh – Terwyl die weerkantoor ‘n weerwaak vir vandag vir wydverspreide donderbuie oor die westelike helfte van die binneland uitgereik het, meen ‘n weerkenner...

Selfdegeslaghuwelike ly neerlaag … vir nou

2 dae gelede | Howe

Jana-Mari Smith – Drie hoërhofregters het hulle gister sterk ten gunste van die wetlike erkenning van selfdegeslaghuwelike in Namibië uitgespreek, maar het nietemin die aansoeke...

Elisenheimrivier sleep motors weg

2 dae gelede | Weer

Augetto Graig – Die Elisenheimrivier het Woensdagaand motorvoertuie saamgesleep toe dit verby die Farmers Kitchen restaurant by Gastefarm Elisenheim oorstroom het. Me. Rentia van der...

Hardap loop gou vol

2 dae gelede | Weer

Elvira Hattingh – Die Hardapdam sou na verwagting laat gisteraand 70% van sy kapasiteit bereik, wat beteken dié suidedam se sluise sou oopgetrek moes word....

kykNET se ‘Wat Dit Vat’: Hier’s die kunstenaars

2 dae gelede | Byvoegsels

Dit was pret, dit was plesier en dit was ’n malligheid op note. Toe die briljante musikant en musiekvervaardiger Loki Rothman gesê het hy gaan...

Fees van klassieke musiek ten bate van kanker

2 dae gelede | Byvoegsels

Een van die mees begaafde pianiste in Namibië, Johann van der Merwe, bied môre (22 Januarie) 'n uitvoering aan om geld in te samel om...

Working with high standards of technology

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Not expecting to find a smooth and easy way of work, Romario Arnat describes his working experience as an eye-opener as to how...

Taking steady growing curves

2 dae gelede | Mense

Wetumwene Shikage Timothy Olivier’s passion and dedication has been a key driver in his success not only within Old Mutual, but throughout his...