In ander wu00earelde
In ander wu00earelde

In ander wêrelde

Dani Booysen
By die wegspring moet die leser weet Dapperrerige Daniëltjie matig homself met dié skrywe niks aan nie.

Soos die rubriek se naam al vir dekades benadruk, probeer sê die uwe maar net iets. Waarvoor woorde dalk tekortskiet.

• • •

Nie lank gelede nie breek op een dag twee baie uiteenlopende gebeure aan.

Die oggend neem Johan-hulle afskeid van sy seun Danie (39), wat onverwags en heeltemal te vroeg gegroet het.

Vir Johan en sy vrou het ek eers geken as skoolouers, en later vir hom as nuusmaker, bron, kennis en veraf vriend.

In die kapel is ‘n span familie, vriende, werknemers en nog ander saamgetrek; volledig verteenwoordigend van die hele “Namibiese Huis”.

Manne uit een stuk, wil ek van Johan se drie ander seuns, Hansie, Chris en André, opmerk. By die graf vat die broers voor Danie se laaste rusplek met skopgrawe opgevul word.

Wil vir Johan-hulle sê: Ouers het ‘n groter invloed op wie en wat hul kinders word as enige onderwyser; al is onderwysers dankbaar dat hulle soms ‘n verskil maak.

Nog altyd, vandat beide my pa en sy suster voor my oorlede ouma gesterf het én nadat Des Erasmus van sy twee seuns afskeid moes neem, kan ek my nie die pyn voorstel van ‘n ouer wat ‘n kind ter ruste moet lê nie. Maak nie saak wat die omstandighede is nie.

Dankie julle. Dat ek daar kon wees, ‘n handdruk en ‘n vasvat om die skouers kon gee en van oor ‘n afstand só baie kon leer.

• • •

Later op dieselfde Vrydag ry ‘n span Republikein-werknemers saam met Samuel Kapepo (eens ‘n gangster en nou gemeenskapsaktivis en opheffer) na die stad se noordwestelike buitewyke.

Eers as onderwyser en later as joernalis was ek al in baie dele van die “Tura”, maar relatief lank laas. Dié kasie-toer is g’n geginnegaap of ge-aangaap nie.

Ons gesels oor onder meer hepatitis E en ander van ons medeburgers se uitdagings. Met ‘n uitklim hier en daar reis ons deur Evelinestraat, Wanaheda, tot by Goreangab se “Wêreldsend”, Soweto, Hakahana, Dolam, Havana en Gemengde tot by Kilimanjaro aan die agterkant van Okuryangawa.

Dié stadsdele het die laaste jare dramaties gegroei. En ‘n besoek dryf weer die noodsaak tuis hoekom ons land so dringend sy behuisings-, sanitasie-, armoede- en ander probleme moet oplos. Sodat dit nie vir altyd “die plek waar ons nie wil woon nie” sal wees nie.

Ons leer hoe om met ‘n datastokkie water te koop, hoe mense self ‘n gemeenskapstoilet opgeknap het én nog kopstukke vol.

Met groettyd gaan drink ons ‘n bier by ‘n sjebeen. Ons word gemoedelik verwelkom en die vroue wikkel saam met dames wat daar werk en kuier lyf op ‘n paar van die liedjies wat uit die geraaskas dawer.

Samuel sê die volle potensiaal van die insig en inkomste uit sulke township-safari’s word nog nie naastenby heeltemal ontgin nie. Onder meer buitelandse toeriste word by die Hosea Kutako-lughawe of al voor dit ‘n vrees vir Katutura op die lyf gejaag.

• • •

Een dag. Twee heeltemal ander wêrelde.

As ons sulke dinge, in begrip, sáám kan doen, dink net wat ons alles in Namibiá kan vermag?

(As ‘n mens die afgelope weke se briewekolomme volg, sukkel ons op baie plekke – ook in die kerk – om ons in ander se wêrelde te begeef.)

Een Sondag moet ons nog vir Samuel by sy sopkombuis gaan help. En ‘n slag weer vir Johan bel.

Maar om te “vergeet”, is so maklik. Omdat ons na bewering altyd iets belangriker het wat op ons wag.

Mag ons onsself aanhoudend uitdaag om méér in ander wêrelde te gaan kuier.

In vlees, woord en gees.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!