IFA: Als wat jy kan verwag

Gesiene tegnologiemaat­skappye gebruik dié skou om hul jongste produkte aan 'n honger gehoor van oraloor bekend te stel.
Petrus Malherbe



Enige tegnofoendi wat sy sout werd is, het waarskynlik al van IFA gehoor. Dié internasionale tegnologieskou, een van die wêreld se grootstes, vind elke jaar in September in die Duitse hoofstad, Berlyn, plaas. En vanjaar is Netwerk24 vir die eerste keer daar!

Gesiene tegnologiemaatskappye gebruik IFA, oftewel ­Internationale Funkausstellung, om hul jongste ­produkte aan 'n honger gehoor van verteenwoordigers, alledaagse tegnologieliefhebbers en joernaliste van oraloor bekend te stel.

Vanjaar se skou beloof om geen uit­sondering te wees nie. Die skindertonge klap reeds oor LG, Nokia én Sony wat nuwe slimfone gaan bekend stel.

Samsung gaan waarskynlik sy jongste televisies kom wys en Acer sowel as Lenovo het reeds aangedui dat hulle nuwe skootrekenaars by IFA gaan vertoon.

Hier is 'n voorskou van wat te wagte kan wees en waarna Netwerk24 se lesers kan uitsien.



Nuwe slimfone

LG het tot dusver nie juis 'n wag voor sy mond gehou met betrekking tot sy planne by IFA 2019 nie.

Die maatskappy het reeds verklap hy stel sy eerste voubare foon by die tegnologieskou bekend, enkele maande nadat Samsung en Huawei soortgelyke produkte (met wisselende vlakke van sukses) bekend gestel het.

HMD Global, wat slimfone onder die bekende handelsnaam Nokia ­vervaardig, het reeds 'n uitnodiging na Netwerk24 gestuur rakende die ­bekendstelling van sy nuwe fone by IFA. Verteenwoordigers van HMD wou nie meer verklap oor wat aanhangers te wagte kan wees nie, maar die gerug is dat daar drie nuwe Nokias tydens vanjaar se skou aangekondig gaan word.

Daar is ook oor die naweek gegis dat Sony beplan om sy jongste vlagskipfoon by IFA aan te kondig. Daar is nog bitter min oor dié toestel bekend, maar dis geen geheim nie dat Sony 'n broodnodige inspuiting kort wat slimfoonverkope betref.

Samsung, wat pas die nuwe Galaxy Note 10 en Note 10 + bekend gestel het, gaan na verwagting nie nóg 'n slimfoon by IFA aankondig nie. Dieselfde geld Huawei wat bevestig het hy stel sy jongste vlagskipfoon, die Mate 30, later vandeesmaand in München bekend.

Honor, 'n volfiliaal van Huawei, het wel bevestig hy stel iets by IFA bekend, hoewel die media nie ingelig is wat nie. Dit sal waarskynlik die 9X- en 9X Pro-slimfone wees wat onlangs in China bekend gestel is.



Platskermtelevisies

Soos botter op warm roosterbrood gaan IFA hand aan hand met die ­bekendstelling van nuwe (en massiewe!) televisies en luidsprekerstelsels.

Wees op die uitkyk vir aankondigings van Samsung, Sony en LG in hierdie verband.

Al drie dié maatskappye gaan waar­skynlik met nuwe, peperduur televisies by vanjaar se skou spog.

As dié toestelle buite jou prysklas val, sal jy minstens op Netwerk24 daaroor kan kwyl.

Hisense, wat deesdae ook knap slimfone vervaardig, gaan na verwagting ook sy nuwe OLED-televisie by IFA wys. Sy televisies is gewoonlik heelwat bekostigbaarder as Sony, LG of Samsung s'n.



Skootrekenaars

Afgesien van platskermtelevisies is IFA ook bekend daarvoor dat maatskappye nuwe skootrekenaars daar bekend stel.

Lenovo, op wie se uitnodiging Netwerk24 IFA besoek, beplan 'n groot samekoms aan die kantlyn van die skou om 'n hele reeks nuwe ­produkte te wys.

Dit sluit in nuwe Yoga- en ThinkPad-skootrekenaars.

Lenovo, wat deesdae ook ­slimfone onder die bekende handelsnaam ­Motorola vervaardig, het reeds die aap uit die mou gelaat oor sommige van dié produkte, maar geen daarvan is al amptelik aan die media bekend gestel nie.

Dié maatskappy raak ook al meer doenig in die mark na huishoudelike produkte, so wees op die uitkyk vir aankondigings rakende nuwe luidsprekers en ander “slim”-tegnologie soos horlosies en dies meer.

'n Nuwe Motorola-toestel, die OneZoom met 'n vyfledige kamera, word ook na verwagting aangekondig.

Acer, 'n ou staatmaker by IFA, het ook aangedui hy beplan om 'n paar nuwe toestelle bekend te stel, ­in­sluitend nuwe skootrekenaars en waarskynlik 'n nuwe rekenaar ­spesifiek vir liefhebbers van rekenaar­speletjies.



Fiksheidstoestelle

Geen tegnologieskou sal volledig wees sonder die bekendstelling van 'n handvol nuwe fiksheidstoestelle nie.

FitBit het Netwerk24 reeds genooi om 'n draai by sy uitstalling te maak waar hy sy jongste toestel, die Versa 2, gaan uitstal. Dié toestel is verlede week amptelik aangekondig, maar is eers van Oktober af beskikbaar. IFA behoort die eerste geleentheid te wees om dit van naderby te aanskou.

Garmin gaan ook by IFA uitstal en sal na verwagting niks minder nie as ses nuwe fiksheidshorlosies bekend stel. Fossil, die bekende vervaardiger van duur horlosies, gaan waarskynlik ook sy jongste produkte by IFA wys.



Wanneer is IFA?

IFA vind vanjaar van 6 tot 11 September plaas, maar meeste van die ­aankondigings word in die twee voorafgaande dae gedoen.

Netwerk24 is by die skou vanaf 4 tot 6 September en gaan al die aankondigings regstreeks dek.

Anders as CES, Amerika se grootste tegnologieskou, het IFA heelwat meer betrekking op Suid-Afrikaners aangesien meeste van die produkte wat daar aangekondig word, binne die volgende paar maande in Suid-Afrika beskikbaar gaan wees.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!