#IAmLucas benodig jou ondersteuning

10 May 2019 | Rubrieke
Ek kan dink die deursneeseuntjie van tien het meestal ’n breë glimlag op sy gesig.

Hoewel die ellende, waarvan die hedendaagse wêreld oorgenoeg het, jongelinge nie gespaar bly nie en ek my eie uitdagings en gewaarwordings op presies daai ouderdom té goed onthou, hou baie van hulle darem nie té lank vas aan onnodige laste en lastighede nie.

In my bykans vier dekades op hierdie warboel van ’n planeet het ek egter nog nie ’n breër glimlag as Lucas Digashu s’n teëgekom nie.

Veral nie op só ’n konsekwente grondslag nie.

Ek het hom een dag, toe ek sy pa vergesel het om hom by die skool te gaan haal, gevra: “Hoe kry jy dit reg om áltyd te glimlag?”

Sy bondige antwoord: “I am happy.”

Baie navorsers maak al baie lank bemoeienis met wat ’n kind nodig het om gelukkig te wees.

Basiese behoeftes is voor die hand liggend: kos, water en skuiling.

Ongeag hoe basies dié behoeftes is, weet ons hoe baie kinders nie net wêreldwyd nie, maar selfs in hierdie pragtige land nie gereelde toegang daartoe het nie.

’n Kind het ook nodig om geglo en gehoor te word.

’n Kind het ook nodig om aanvaar te word.

’n Kind het ook nodig om liefgehê en gekoester te word.

En, hoewel hul teenwoordigheid geen waarborg is nie, het ’n kind volwassene(s) nodig om aan daai behoeftes te voldoen.

Terloops, daar is navorsing wat meen een ouer is meer as genoeg om al daai hoedens suksesvol te dra.

Dis geen geheim dat dit ongoddelik maklik is om ’n kind te verwek nie.

Eweneens is dit geen geheim dat baie mense wat smag na ’n biologiese kind nooit daai voorreg ervaar nie.

Dit is die afgelope twee jaar my indruk dat klein Lucas die verantwoordelikheid vir daai breëmondglimlag ernstig opneem.

Maar dit sou ’n oorvereenvoudiging wees.

Sy biologiese ouers is nie in sy lewe nie. Sy biologiese ma kán nie wees nie, want sy het jare terug reeds haar aardse wedloop voltooi.

Maar hy hét ouers wat die geloof behou ondanks alles wat teen hulle tel.

As enkelkind kry hy uiteraard baie aandag. Hy straal veral soos ’n bruid wanneer hy op een van sy ouers se skoot sit en vasgehou word.

Van uitermate bederf en ’n gebrek aan dissipline is daar in dié huishouding geen sprake nie.

Sy ouers is streng met hom.

Hulle laat hom nie toe om sy skoolwerk ligtelik op te neem nie.

Roetine is ’n ernstige saak in dié huis. Slaaptyd is slaaptyd. Hy moet etenstyd tafel help dek en sy groente mooi opeet. Sy soettand het al huishoudelike ongemak veroorsaak.

Sy ouers is albei erg oor waardes soos respek, aanvaarding en verdraagsaamheid. Hy het dit met die spreekwoordelike moedersmelk ingekry en die dosis is sedertdien geensins verlaag nie.

Ek is op verskeie vlakke mal oor dié kalant, maar ek is veral trots op hoe hy eienaarskap van sy reis aanvaar. Ek is veral beïndruk met hoe volwasse hy is. Ek bly verstom oor sy konsekwent liefdevolle geaardheid en positiewe gesindheid.

Boesemvriende van sy ouers, Dries en Lesley Dippenaar, sê die afgelope week hulle het net bewondering vir Lucas en sy ouers. “Ons glo heelhartig in hul huweliksverbond en glo Lucas het die beste gesinstruktuur en ondersteuning moontlik,” sê Lesley.

Lucas en sy ouers sukkel om die doodgewone gesin te wees wat hulle nie wil wees nie, maar wat hulle reeds ís.

Sy ouers het onlangs ’n veldtog, #IAmLucas, van stapel gestuur om die owerhede te vra om hulle asseblief toe te laat om as gesin in Namibië te mag woon en te mag wees. As ’n gesin. Soos wat hulle reeds doen. Ter wille van klein Lucas.

Maar hoekom moet ’n mens vrá om ’n gesin te wees, te leef, ’n bydrae tot die land se ekonomie te maak en jou kind na die beste van jou vermoë grootmaak? Want, sien, Lucas neem dikwels die voortou wanneer hy ’n nuwe maatjie maak en verklaar trots: “Raai wat? Ek het twéé pa’s.”

#IAmLucas benodig jou ondersteuning. Baie dankie.

Soortgelyk

 

Padgebruik al duurder

1 uur gelede | Vervoer

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Padgebruik al duurder

1 uur gelede | Vervoer

Die Padfondsadministrasie (RFA) het ’n 4,3%-verhoging op padgebruik aangekondig, wat van 1 Mei af geld. Dit beteken tariewe by grensposte verhoog, asook tariewe op voertuie...

Gesondheid: Advertensie vals

2 ure gelede | Gesondheid

Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) sê 'n inligting wat op sosiale media sirkuleer oor opleidingsgeleenthede by die ministerie is vals. Die vals...

'n Seder val in Swapo

12 ure gelede | Mense

Ronelle Rademeyer - Huldeblyke stroom sedert vroeg gisteroggend in die sosiale media in nadat dit bekend geword het Namibië se voormalige vise­president (2015 – 2018)...

Duitsland gee ou kruis terug

12 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Een van die belangrikste artefakte uit die glorieryke ontdekkersera van die Portugese seevaarders sal in Augustus deur die Duitse museum vir geskiedenis...

Weer vir 20 Mei 2019

12 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue en winderige toestande word in die Suide verwag. Die nodige voor­sorgmaatreëls moet getref word. BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en warm tot baie warm in...

Namport dank 86 werkers af

12 ure gelede | Plaaslik

Die Namibiese haweowerheid, Namport, het Vrydag aangekondig 86 werkers by die vraghouerterminaal by die Walvisbaaise hawe wat in Augustus aan 'n onwettige staking deelgeneem het,...

Speaker dring aan jeug moet by kiesproses betrek word

12 ure gelede | Politiek

Denver Kisting - Die speaker van die Nasio­nale Vergadering (NV), prof. Peter Katjavivi, sê die jeug moet by die verkiesings­proses betrek word.Die uitvoerende hoof van...

'Sam Nujoma is 'n ikoon'

12 ure gelede | Regering

Stigterspresident Sam Nujoma se 90ste verjaardagvieringe is Saterdag op Etunda in die Omusatistreek gevier en deur verskeie hooggeplaastes bygewoon. President Hage Geingob het Nujoma as...