Husab-debakel kring uit
Husab-debakel kring uit

Husab-debakel kring uit

Die Erongostreek se goewerneur word by ’n klankopname betrek waarop glo bespreek word hoe om van Namibiese mynwerkers ontslae te raak.
Augetto Graig
Augetto Graig en Erwin Leuschner - Uitlatings wat mnr. Cleophas Mutjavikua, goewerneur van die Erongostreek, glo gemaak het, het die Mynwerkersunie van Namibië (MUN) en die Nasionale Unie van Namibiese Werkers (NUNW) hoogs ontstoke.

Die NUNW se sekretaris-generaal, mnr. Job Muniaro, is só ontsteld dat hy gister op Mutjavikua se bedanking aangedring het.

Indien die goewerneur nie self bedank nie, moet pres. Hage Geingob hom in die pad steek, het Muniaro geëis.

Dít volg ná twee klankopnames wyd op sosiale media, veral deur die Regstellende Herposisioneringsbeweging (AR), versprei is.

In dié opnames klink dit of Mutjavikua Chinese aandeelhouers in die reuse Husab-uraanmyn raad gee oor hoe hulle van Namibiese mynwerkers ontslae kan raak.

Intussen is alle werksaamhede by die myn sedert Dinsdag gestaak weens veiligheidskwessies wat met die gebruik van plofstof verband hou.

Volgens Muniaro raai Mutjavikua die Chinese oënskynlik aan om gebruik te maak van 'n sekere klousule in Namibië se arbeidswet, wat die herorganisering van 'n maatskappy se arbeidsmag onder sekere omstandighede toelaat.

Mutjavikua het die Chinese glo aangeraai om vir arbeidsinspekteurs te lieg oor omstandighede by die myn, wat die geleentheid sal moontlik maak om Namibiese werknemers in die pad te steek.

“Hoeveel mense in Erongo is nou werkloos as gevolg van hom?” het die vakbondleier gevra.

“Die goewerneur en sy goeie vriende by Husab het met werkers in die mynbousektor in die Erongostreek se regte gepeuter. Dus veroordeel die NUNW dié aksie en raad oor herorganisering, wat die goewerneur aan Husab gegee het om werksomstandighede te vererger,” het Muniaro gesê.

Hy het gesê die goewerneur bevorder werkloosheid in die land.

Mutjavikua het ontken dat hy die woord “afdank” gebruik het. Hy erken wel hy het die woord “herorganiseer” gebruik, maar teen die agtergrond van “stelsels en prosesse”.

"Dít omdat hulle jaarlikse salarisverhogings aan die maatskappy se prestasie wou koppel,” het hy gesê.

“Maar ek het dit duidelik gestel daar moet geen werksverliese wees nie. Inteendeel, ons onderhandel gedurig met Swakop Uranium om nog meer werksgeleenthede te skep," het hy gesê.

Die vakbond is veral ontstoke omdat Mutjavikua na bewering die Chinese aangeraai het om te verseker hul erkenningsooreenkoms word deur herorganisering van Husab se arbeidsmag gekanselleer.

“Hy het ook vir hulle gesê die vakbonde sal omgekrap wees as ons van sy raad hoor. Jy het eerbare mense van raad bedien en dis hoekom dit uitgelek het. Jy het jouself gevang,” het Muniaro gesê.

Volgens hom het die goewerneur Husab se eienaars aangemoedig om oor finansiële en veiligheidskwessies te jok om die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping te oortuig herorganisering is noodsaaklik.

Hy het hulle glo ook daaraan herinner om dieselfde leuens aan die ministerie van myne en energie op te dis.

“Die Erongo-goewerneur het alle Namibiërs in die steek gelaat, nie net die Husab-werkers nie – alle werkers in die wêreld én hul leiers. Hy het ’n verleentheid veroorsaak vir die president, wat onverpoosd teen werkloosheid baklei,” het die vakbondleier gesê.

“Ons vra vreedsaam dat Mutjavikua die tuig neerlê en bedank, en hom by die talle werkloses aansluit wat hy al die jare skade berokken het,” het Muniaro gesê.

Verder doen die vakbonde ’n beroep op die regering om die helfte van eienaarskap van alle myne in Namibië oor te neem om werknemers te beskerm.

“Die Chinese regering het hulself onaantasbaar in die land van die dapperes gemaak, maar as julle die werkers raak, sal júlle geraak word,” het Muniaro gesê.

“Ons myn al lank uraan in die land, sónder die Chinese, en ons sal dit steeds sonder hulle bly doen,” het hy gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!