Humeure vlam op by Buitepos
Daar heers steeds chaos by die grenspos tussen Botswana en Namibië.
Jacqueline Louw - Twee Namibiërs vertel van lang ure by die Buitepos-grenspos tussen Botswana en Namibië tydens die Desembervakansie.
Me. Hanlie van Zyl van Otjiwarongo het Republikein gister meegedeel dat sy en haar gesin vanaf 10:30 tot 16:10 op 30 Desember by Buitepos gestrand was.
“Die enigste rede hoekom ons wel by die hekke ingelaat is, was omdat vyf jong mans wat deel van 'n toergroep was en voor ons in die ry was, die beamptes versoek het om ons vanweë ons siek kind in te laat. Ons seun het 'n ernstige oorinfeksie gehad en moes dringend behandeling ontvang” het Van Zyl vertel.
Sy het verduidelik dat die hekke wat toeriste van Botswana af na Namibië ingelaat het, heeltyd gesluit gebly het en dat net 'n paar mense op 'n slag ingelaat is. “Ons het gereken dat ons teen 12:00 op Gobabis sou wees, dus het ons nie kos by ons gehad nie, net 'n bietjie vrugte,” het sy gesê.
Van Zyl het vertel dat die toerleier van 'n groep Europese toeriste groot moeite gedoen het om sy groep deur die doeanepos te kry en ook probeer het om die orde in die ry wagtende mense te handhaaf.
“Soos wat hulle gestaan het, het ander mense in- en uitgekom. Mense het eenvoudig ingedruk en gevegte het ontstaan,” het sy verder vertel.
Van Zyl vertel dat 'n weermaglid tydens dié struwelinge verskyn het, die hek gesluit en gesê het: “Ek het die mag – sorteer dit uit. Ek sal nie die hek oopmaak totdat julle dit uitgesorteer het nie.”
Volgens Van Zyl het almal in die ry toe begin saamwerk om die orde te herstel. “Aanvanklik is gesê die stelsel werk nie, maar toe ek eers aan die beurt gekom het, is ek baie mooi gehelp,” het sy gesê.
Volgens haar het die beampte wat haar gehelp het vir haar gesê dat sy moeg is vir die Botswana-mense se eise. Die beampte het haar meegedeel dat sommige Botswana-burgers glo met onvoltooide vorms opgedaag het en dan aangedring het om hul vorms by die toonbank te voltooi terwyl ander mense se paspoorte gedurende daardie tyd geprosesseer kon gewees het.
“Dit was die onaangenaamste ondervinding wat ek in 'n lang tyd gehad het,” was Van Zyl se kommentaar.
PERSONEEL BAKLEI
In 'n brief wat Republikein van me. Thea Swart ontvang het, vertel sy dat haar kinders vanaf 8:00 tot 15:30 op 30 Desember by Buitepos gestrand was.
“Blykbaar weet niemand hoe die nuwe stelsel werk nie, dus kon niemand nog vandag die land inkom deur die grenspos nie,” het sy geskryf.
Sy het ook genoem dat die personeel by die grenspos onder mekaar baklei en selfs gewelddadig begin raak het.
In Desember het Republikein berig dat daar op Saterdag 16 Desember teen middernag sowat 100 besoekers aan Namibië op Buitepos-grenspos gestrand was.
Dit weens die implementering van die nuwe elektroniese skanderingstelsel wat in Desember in werking gestel is. Volgens terugvoering van toeriste is die vertraging in die prosessering van dokumente veroorsaak deur personeellede wat nog nie met die nuwe stelsel vertroud is nie.
Swart het 'n senior amptenaar geskakel en hom gevra of hy bewus was van die deurmekaarspul by Buitepos. Volgens haar het hy erken dat “niemand weet hoe die nuwe stelsel werk nie”, maar dat hy met vakansie is en niks aan die saak kon doen nie. Hy het wel aan haar gesê dat hy 'n telefoonnommer kan verskaf van iemand wat haar kan help.
Republikein het probeer om die skakelbeampte van die ministerie van binnelandse sake en immigrasie, asook die minister, me. Pendukeni Iivula-Ithana, telefonies en per e-pos te kontak om uit te vind hoe die situasie tans daar uitsien, maar het teen druktyd nog geen antwoorde ontvang nie.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie