Houtskootbedryf bou stoom op

’n Nuwe bloeityd kan vir die houtskoolbedryf kom met groot projekte wat in die volgende maande voorlê.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Namibiese houtskoolbedryf met sy sowat 350 geregistreerde produsente het die afgelope twee dekades jaar gegroei in getalle en die tonnemaat wat geproduseer is, maar agter geraak wat kwaliteitsontwikkeling, regulering en markontginning betref.

Vier maande gelede het die wiel egter vir dié bedryf gedraai.

Die Namibiese Houtskoolvereniging (NCA) is op 1 Maart as ’n volwaardige Artikel 21-maatskappy gestig en dié produsenteliggaam het onder die vlerk van die Namibië Landbou-unie (NLU) uitbeweeg. Die doel? Om die bedryf beter te organiseer tot voordeel van al die belanghebbendes.

Aan die woord is mnr. Pieter Potgieter, bestuurder van die NCA.

“Die struktuur is nou gevestig. As Artikel 21-maatskappy beskik ons oor tien direkteure. Vier is reeds verkies en die ander ses sal tydens ons kongres in Augustus verkies word. Mnr. Isak Katali as ons voorsitter.

“Verder is die handelsmerk en webtuiste ook ontwikkel en gaan ons in die volgende maand ’n groot tree vorentoe gee. Dit is naamlik die bekendmaking van die bevindinge van die eksperimentele projek vir verbeterde kilns (verbrandingsoonde), asook die opstel van ’n eie, unieke Namibiese raamwerk van standaarde soortgelyk aan dié van die FSC (Forest Stewardship Council),” sê Potgieter.

Die FSC, wat in 1994 gestig is en lede in 82 lande het, stippel die maatskaplike, ekonomiese en omgewingsriglyne uit ingevolge waarvan die wêreld se woude bestuur en beskerm moet word.

“Anders as Europese lande wat die FSC-standaarde vir die sertifisering van houtskool volg, beskik ons oor savannah landskappe en ander tipe plantegroei as in die woudgebiede wat daar voorkom,” sê hy. “Daarom moet ons ons eie, unieke standaarde vir rentmeesterskap opstel.”

Volgens Potgieter is ses mense reeds geïdentifiseer om die formulering en ontwikkeling van hierdie stel standaarde te behartig. Hulle is geïdentifiseer op grond van die kundige insette wat hulle op maatskaplike, ekonomiese en omgewingsgebied kan lewer.

Hy sê die beplanning is om in Julie reeds met hierdie taak te begin. Dit gaan die NCA sowat N$400 000 kos en die proses sal na verwagting twee jaar duur.

Verbeterde kilns

Die eksperimentele projek wat die NCA in samewerking met die Duitse Vereniging vir Internasionale Samewerking (GIZ) aangepak het om verbeterde kilns te toets en te ontwikkel, sal teen einde Junie voltooi wees.

Dié projek op die plaas van mnr. Jürgen Redecker naby Okahandja, is deur me. Dagmar Honsbein as konsultant bestuur.

Potgieter sê sy sal op 15 Julie die voorlopige resultate van die proefnemings op Okahandja bekend maak.

Volgens Potgieter is drie verskillende tipe “retort” kils op Redecker se plaas getoets. Die sogenaamde “retort” kiln is ’n verbrandingsoond met ’n dubbele wand. Dit bring mee dat die hout nie direkte vuur kry nie, maar gebak word.

Aangesien die biomassa, of hout, nie in direkte kontak met suurstof is, is die totale inhoud in die kiln beskikbaar om in houtskool omgesit te word.

Die voordeel van hierdie metode is dat minder skadelike rook, en dus minder koolstofdioksied, vrygestel word. Verder lewer dit ’n beter kwaliteit houtskool en ’n hoër opbrengs.

Uitdagings

In 2010 het die Regshulpsentrum (LAC) ná ’n studie oor die stand van die houtskoolbedryf deur Ute Dieckmann en Theodor Muduva, ’n verslag vrygestel getiteld “Namibia’s Black Gold? Charcoal Production, Practices and Implications”.

Die prentjie wat daarin geskep is oor die situasie van werkers in die houtskoolbedryf, was nie positief nie.

Dit het getoon die verskillende belanghebbendes in die bedryf het verskillende kwellinge en prioriteite sover dit arbeidskwessies betref.

Potgieter sê sewe jaar later is arbeid steeds een van die vernaamste kwelpunte in die bedryf. “Daar is reeds tussen 4 000 en 5 000 werkers in die bedryf, met baie ruimte vir verdere uitbreiding – selfs tot soveel as 30 000. Arbeid is ‘n groot probleem, dit is so. Daarom is daar nog baie gesprekvoering daaroor nodig,” sê hy.

Verder is dit belangrik om produkontwikkeling en -verbetering te doen.

’n Ander uitdaging is om met die vervaardiging van sogenaamde wit houtskool, wat verkry word wanneer die hout teen temperature van 1 000 grade Celsius en hoër verbrand word, asook geaktiveerde houtskool te begin.

Wit houtskool word in watersuiweringsprosesse gebruik, terwyl geaktiveerde houtskool in farmakologiese produkte gebruik word.

Aangesien dit vertering stadiger maak, word dit ook in voerkrale by veevoer gevoeg, sê Potgieter.

Vir inligting oor die houtskoolbedryf, kontak die NCA se kantoor op Otjiwarongo by 067-304220, stuur ‘n e-pos na [email protected] vof besoek die webtuiste by www.ncanamibia.com.



KASSIE

Die bedryf in ’n neutedop

· Houtskool is ‘n vernuwende neweproduk in die verwydering van indringerbos en die verbetering van weidingstoestande.· Die bedryf is ’n belangrike bydraer tot die ekonomie van die land met ’n geskatte jaarlikse waarde van ongeveer N$100 miljoen gegroei.· Die Europese Unie is die hoofbestemming vir houtskool wat in Namibië vervaardig word, met Brittanje as die grootste mark. In Suid-Afrika bestaan ’n beduidende vraag na Namibiese houtskool vir silikonsmelting.· Daar is tans ses houtskoolverwerkers in die land aan wie produsente houtskool lewer. Meer as die helfte van die produsente voer hul houtskool self uit.· Namibië is die 5de groot houtskool-uitvoerder in die wêreld.· Tussen 120 000 en 140 000 ton is verlede jaar uitgevoer.· ’n Groot uitdaging vir die bosboudirektoraat wat oes- en uitvoerpermitte uitreik, is om toe te sien dat houtskoolwerkers en -produsente die oesvoorwaardes nakom en nie die omgewing beskadig deur beskermde houtspesies te oes nie.· Houtskoolwerkers is ook jaarliks verantwoordelik vir die ontstaan van baie veldbrande.· Baie boere het die droogte oorleef danksy die inkomste wat hulle uit houtskool verdien het.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 17° | 34° Rundu: 17° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 35° Ruacana: 18° | 35° Tsumeb: 19° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 19° | 34° Windhoek: 17° | 31° Gobabis: 18° | 31° Henties Bay: 17° | 23° Wind speed: 18km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 16° | 19° Wind speed: 18km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 26° Wind speed: 24km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 31° Mariental: 22° | 33° Keetmanshoop: 23° | 35° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 18° | 34° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 15° | 27° Luanda: 27° | 30° Gaborone: 19° | 32° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 15° | 28° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 13° | 25° Lilongwe: 16° | 26° Maputo: 20° | 31° Windhoek: 17° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 28° Johannesburg: 16° | 28° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 18° | 28° Harare: 15° | 28° #REF! #REF!