Houthandel: Bewerings van vuilspel

‘Nie almal kan dit doen’

26 February 2020 | Omgewing
Catherine Sasman – Die ministerie van landbou, water en bosbou het onlangs erken gevalle van onwettige houtoeste het wel plaasgevind sedert ’n moratorium op oeste ingestel is, en 500 rooshoutbome is in sekere streke afgekap.

Drie gevalle van onwettige oesting is in die twee Kavangostreke aangemeld, maar niemand is tot dusver in hegtenis geneem nie.

Intussen sê die ministerie daar is geen sperdatum op die uitvoer van bome wat voor November 2018 afgekap is nie, en houthandelaars kan die uitvoere voortsit terwyl die voorraad hou.

Vroeër is berig die verbod op die vervoer en uitvoer van hout is tussen 31 Januarie en 28 Februarie gelig, wat glo tot ’n sttormloop gelei het om die hout van Noordoos-Namibië na Walvisbaai se hawe te vervoer.

Mnr. Joseph Hailwa, die ministerie se bosboudirekteur, het dit egter ontken.

Hy sê daar is geen opheffing op die vervoer en uitvoer van bome wat afgekap is voor die oesmoratorium ingestel is nie.

“In dié stadium het ons geen rede om ’n sperdatum vas te maak nie, omdat die motivering wat hierdie besluite teweeg gebring het, steeds daar is,” het Hailwa gesê.

Die oesmoratorium bly steeds in plek “tot verdere kennisgewing”, sê hy.

“Tans is dit nie ’n opsie nie, en ek wil nie enige voorspellings maak nie. Ons moet eers die huidige kwessie hanteer – die hout wat in die woud lê en vrot. Daarná sal ons oor die pad vorentoe besluit,” het Hailwa gesê.

Hy het verduidelik 20 bosboubeamptes is in die tydperk tussen Januarie en Februarie in die Kavango- en Zambezistreek ontplooi.

Dié amptenare is ontplooi om die situasie van plaas tot plaas te monitor en rekord te hou van die hout wat rondlê. Sommige is by beheerpunte soos Mururani, Rooidag Gates en Buffalo in die Tsintsabis-area, waar padblokkades opgerig is, geplaas.

Van 13 Januarie tot ongeveer 18 Februarie is 175 vervoerlisensies en 220 uitvoerpermitte vir 12 389 blokke teen ’n gewig van 4 000 ton uitgereik.

Herinstelling van vervoer- en uitvoerpermitte

Vervoer- en uitvoerpermitte is sedert 31 Maart verlede jaar verbied, maar dié verbod is op 9 Desember deur die kabinet opgehef.

Bosbou-amptenare het die uitreiking van vervoerpermitte om en by 20 Desember gestaak, en slegs uitvoerpermitte is tydens die feesseisoen uitgereik. Die uitreiking van vervoerpermitte is op 13 Januarie hervat, en die wiele het dadelik weer begin rol om die hout uit te kry.

Een van die voorwaardes wat ingestel is toe die vervoerverbod gelig is, is dat plaaslike houtprodusente voorkeur bo buitelanders moet geniet om die reeds geoeste hout te koop. Kleinskaalse kommersiële boere word dus toegelaat om die hout wat oorbly vir uitvoerdoeleindes te verkoop.

Met beperkte plaaslike kopers vir die geoeste hout, het buitelandse kopers uit hoofsaalik China, Viëtnam en Suid-Afrika ingetree, en is nou in besit van die grootste deel van die hout.

China oorheers tans die houthandelbedryf.

“Ja, dit is waar. Dis geen geheim nie,” sê Hailwa. “Dit is nie ’n oortreding om meer geld en mag as ander mense te hê nie. Dit gebeur slegs omdat daar mense met meer hulpbronne tot hul beskikking as ons tradisionele houthandelaars is,” het hy bygevoeg.

Plaaslike handelaars kan dikwels nie die nodige toerusting in die hande kry om hout van verafgeleë, kleinskaalse kommersiële plase af te vervoer nie.

“Nie almal kan dit doen nie. Ongelukkig is die Asiërs en ander buitelandse handelaars dié wat dit wel kan doen. Ons het geen beheer daaroor nie, want as jy dít sê, sê jy ons rus nie die plaaslike mense toe om dit te doen nie,” het Hailwa gesê.

Hy sê voor internasionale handelaars by die bedryf betrek is, was plaaslike belangstelling en toegang tot hout maar power. In die verlede het handel slegs op ’n klein skaal plaasgevind, wat nou op kommersiële vlak plaasvind.

Op die toneel

Ondanks die uitvoer-aktiwiteite wat hervat is, het bedrywighede rondom hout aansienlik afgeskaal vandat die moratorium en die nege maand lange verbod op uitvoere ingestel is.

Die hope hout wat langs die paaie lê het aansienlik gekrimp, met slegs ’n paar operateurs wat nog gesien word.

Aantygings van nuwe, onwettige oesaktiwiteite wil egter nie gaan lê nie.

Hailwa sê die ministerie is tans besig om saam met die polisie enige misdadige aktiwiteite te monitor wat met hout verband hou.

Waar misdaad opgespoor word, word beslag op die hout gelê en dit word in die openbaar opgeveil.

Permitte

Daar is tans oënskynlik ’n gesukkel met die uitreiking van uitvoerpermitte en plaaslike handelaars beweer dit word op onregmatige wyse uitgereik.

Hoewel Hailwa volhou min permitte word in die Zambesistreek uitgereik, aangesien daar min kleinskaalse kommersiële plase is, het een bron beweer party permitte, wat lyk of dit deur die Kavangostreek uitgereik is, word deur die Katima Mulilo-kantoor uitgereik.

“Ek wil enigiemand uitdaag wat sê daar kom steeds hout uit Katima,” het Hailwa gesê.

Die aantygings deur ander bronne wat beweer bosbouamptenare verkies om vervoer/uitvoerpermitte aan Chinese en Viëtnamese handelaars uit te reik, ten koste van Namibiërs, in ruil vir omkoopgeld van tussen N$5 000 en N$10 000, is nóg meer verdoemend.

Een van die beweerde skuldiges het glo verlede week in Rundu ’n dissiplinêre verhoor gehad.

Hailwa sê hy het egter nooit ’n verslag ontvang wat sê Namibiërs kan nie permitte kry oor hulle weier om omkoopgeld te betaal nie.

Sleutelspelers

Tydens ’n onlangse besoek aan die bosboukantoor op Rundu is ’n Chinese burger, mnr. Xuecheng Hou, glo aangetref waar hy saam met ’n bousbouamptenaar buite op die stoep sit terwyl hy met iemand wat soos ’n Namibiër klink oor ’n selfoon praat. Die foon se luidspreker was aan en die amptenaar het na die gesprek geluister.

Hou, ook bekend as Hou Zue of Josy Hou, die eienaar van New Force Logistics, is glo een van die grootste kopers – en ’n vermeende sloper – wat glo nog een van die bedrywigstes in die Ncaute-area is, hoewel hy beweer die berdrywighede is intussen afgeskaal.

Hy ontken plaaslike handelaars se bewerings dat hy hulle probeer intimideer om sodoende hul toegang tot die houthandelbedryf beperk.

Hy sê Namibiese handelaars sal nooit in staat weees om direk aan die Chinese mark te verkoop nie, waarskynlik weens onkonvensionele Chinese sakepraktyke.

Hou het verder beweer hy koop hout vir eie gebruik by sy houtfabriek in China.

Ondanks die beperkings wat nou bestaan, sien Hou ’n blink toekoms vir homself in die plaaslike houtbedryf. Hy noem dit ’n “paradys van geleenthede”, en glo baie hout kan nog van “300 tot 400” kleinskaalse kommersiële plase bekom word.

Hy het egter hewig protes aangeteken teen die struikelblokke wat op “kliënte” (die kopers) se pad geplaas is ná die onlangse 15%-heffing op uitvoerbelasting.

Die ministerie sal ná sy bedrywighede in die drie noordoostelike streke tot stilstand gekom het, besluit oor die toekoms van die houthandelbedryf.

[email protected]

Soortgelyk

 

Etosha Sondagmiddag deur aardbewing geskud

9 ure gelede | Omgewing

Ronelle Rademeyer - ’n Aardbewing van 4,7 op die Richterskaal het Sondag om 16:42 in die Etosha nasionale park voorgekom.Me. Gloria Simubali, adjunk uitvoerende direkteur...

Is groot Beethoven-feesjaar van die baan?

9 ure gelede | Kuns en vermaak

Groot feesvierings is wêreldwyd en veral in Duitsland en Oostenryk beplan ter herdenking van die komponis Ludwig van Beethoven se 250ste geboortejaar. Elretha Britz van...

Naam bekend van Namibiër wat in Engeland aan Covid-19...

10 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - Die Namibiër wat Saterdag in Nottingham, Engeland, aan die coronavirussiekte (Covid-19) dood is, se naam is bekend gemaak.Hy is die 56-jarige mnr....

Paspoorte: Lorriedrywers kry voorkeur

11 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit het by monde van sy woordvoerder, mnr. Sakeus Kadhikwa, ontken hulle reik tans...

Meer as 3 000 vir Covid-19 getoets

11 ure gelede | Gesondheid

Die adjunkminister van gesondheid en maatskaplike dienste me. Esther Muinjangue sê 3 186 weefselmonsters is tot op hede vir Covid-19 getoets. Namibië het tans 21...

Moody's-klap voor begroting

22 ure gelede | Regering

Jo-Maré Duddy – Op die vooraand van finansminister Iipumbu Shiimi se debuutbegroting sit die regering nie net kniediep in die rommel nie, maar verskraal sy...

Kwarantyn-drama ry lorriedrywers

22 ure gelede | Gesondheid

Leandrea Louw op Walvisbaai – Die vragmotorbestuurder wat die afgelope naweek positief vir Covid-19 getoets het, sê sy voormalige werkgewer het hom en sy kollega...

Man voor hof ná 'hardhandigheid'

22 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – 'n Inwoner van Groot Aub, mnr. Richard Davids, wat aanvoer 'n beampte van die stadspolisie het hom verlede week aangerand, is Vrydag...

Weer, Dinsdag 26 Mei 2020

22 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Koue tot baie koue toestande word in die Suide, die Weste en oor die Khomas- en Omahekestreek verwag. Tref voorsorg.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en koud...