Hond is held in aanval

04 January 2019 | Misdaad
Elvira Hattingh - ‘n Geliefde familiehond het waarskynlik ‘n jong vrou se lewe op Oujaarsdag gered toe sy tydens ‘n huisbraak herhaaldelik gewapende rowers van haar eienaar afgeweer het en in die proses ernstige beseer is.

Bella die boerboelhond is in die nek en skouer gesteek, van haar spiere is afgesny en ‘n slagaar getref, wat veroorsaak het dat sy baie bloed verloor het. Die boewe het haar ook met ‘n glasbottel in die gesig geslaan, wat haar neus beseer en haar lip gesny het.

Me. Clarissa Stofberg (20) vertel sy was alleen in hul huis in Avis terwyl haar ma, tannie en suster om 23:30 gery het om vinnig na die stad se Nuwejaar-vuurwerkvertoning te gaan kyk, toe twee boewe die deure oopgebreek het en met messe in hul huis instorm.

“Ek het op die sitkamerbank gesit met Bella naby toe die boewe die huis binnegekom het. Ek kon op hul gesigte sien dat hulle nie verwag het ek gaan daar wees nie,” het ‘n getraumatiseerde Stofberg gister aan Republikein vertel.

BELLA BESKERM

Stofberg sê hulle het gesê hulle gaan haar doodmaak as sy enige geluid maak. Sy het hulle met die sitkamerbank se kussings gegooi en gevra wie hulle is toe hulle haar die eerste keer met die messe bestorm het.

Dis toe dat Bella die eerste keer tussenbeide tree en die boewe afweer, en die boewe haar met die mes steek.

In die proses het hulle haar ‘n ernstige snywond aan die nek toegedien. Stofberg sê die boewe het haar en Bella in ‘n hoek in die sitkamer vasgekeer, terwyl sy vir Bella vasgehou het en met haar arm drukking op die bloeiende wond probeer plaas het.

Sy vertel die boewe is die hele huis deur en het haar vir ‘n skootrekenaar en haar selfoon gevra.

Sy het eers ontken dat sy ‘n selfoon het, waartydens hulle haar weer wou bydam en gesê het hulle het haar met ‘n selfoon gesien. Bella het haar op die aanval gegaan en is weer beseer.

“Dis toe dat ek vir Bella gryp en my selfoon vir hulle gooi. Ek het vir hulle gesê hulle moet alles vat wat hulle wil hê, maar net vir my en Bella uitlos,” het Stofberg gesê.

Sy sê sy het heeltyd probeer om nie vir hulle te kyk nie omdat sy bang was hulle sou haar dan doodmaak aangesien sy hul gesigte gesien het.

“Danksy Bella kon hulle nie náby my kom nie. Sy het geensins enige vrees getoon nie. Ek dink as ek nie daar was nie, sou hulle Bella doodgemaak het,” het Stofberg hartseer gesê.

Die boewe het die huis met hul televisie en ‘n DVD-speler verlaat. Stofberg het toe uitgehardloop en by bure aangeklop, maar niemand was tuis nie.

“Ek was só in skok en my bene was lam - terwyl ek gehardloop het, het ek kort-kort geval.”

HULP DAAG OP

Eindelik het sy ‘n sekuriteitsvoertuig in die straat teëgekom. Die sekuriteitswag het vir haar ‘n selfoon gegee om haar ma te bel.

Terwyl sy buite was, het Bella in die huis rondgeloop en báie bloed verloor, voordat sy in Stofberg se kamer gaan lê het.

Stofberg sê sy en haar ma het op die sypaadjie vir die ambulans gewag, terwyl haar suster en haar tannie vir Bella veearts toe geneem het. Terwyl sy gewag het, het skok ingetree en het sy aanvalle begin kry.

Sy en Bella is weer terug by die huis, maar Stofberg sê sy is baie bang en het snags dieselfde nagmerrie oor en oor. “Dit voel nog alles baie onwerklik, asof dit nie kon gebeur het nie,” het sy aan Republikein gesê.

Stofberg se ma, Sandra, sê haar dogter is erg getraumatiseerd en sy het die vrees uitgespreek dat as die boewe haar so met ‘n mes moes steek, sy dit dalk nie sou oorleef het nie.

“As dit nie vir Bella was nie, het hulle Clarissa beslis gesteek en dalk nog meer kwaad aangedoen,” het sy gesê.

BELLA IS SPESIAAL

Wat Bella nog meer spesiaal maak, is dat Sandra se man die hond vier maande voor sy dood vir hulle as gesin gekry het. Bella is nou sowat vier jaar oud en baie beskermend.

“As sy nie so ‘n groot, sterk hond was nie, was sy vir seker dood. Die veearts sê sy weeg tussen 40 en 50 kg.

“Almal wat al daardie bloed in die huis gesien het, kon nie glo dat Bella oorleef het nie,” het Sandra gesê.

Sy sê die hele voorval het in sowat tien minute gebeur. Hulle het 23:30 gery om die vuurwerk te gaan kyk en presies om 23:43 het Stofberg haar gebel.

“Hulle moes ons dopgehou het en het toegeslaan die oomblik toe ons ry,” het sy gesê.

Sandra sê die veearts kon Bella binne tien minute ná die aanval help en sy was drie ure lank in die teater.

“Die veearts het goeie werk gedoen en die hond se lewe gered. Clarissa het waarskynlik ook Bella se lewe gered deur drukking op die wond te plaas,” het sy gesê.

Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die gemeenskap, die buurtwag en sekuriteitsmaatskappye wat hulle bygestaan het.

“Mense het selfs saamgespan om Bella se veeartsrekening van N$6 000 te betaal.”

Soortgelyk

 

Geingob: Gelukkig Vrouedag, vroue

1 dag gelede | Regering

President Hage Geingob sê hy erken die dapper pogings van vroue om beter gemeenskappe te skep en tot die voorspoed van die mensdom by te...

Verkrygingsraad presteer

1 dag gelede | Regering

Die Sentrale Verkrygingsraad van Namibië (CPBN) se raadsvoorsitter, mnr. Patrick Swartz, en administratiewe hoof, me. Lischen Ramakhutla, het vanoggend lig gewerp op uitdagings wat die...

Namibië topbestemming by ITB

2 dae gelede | Toerisme

Namibië is gisteraand as beste safari en wildbestemming by die Internasionale Toerismeskou in Berlyn (ITB) in Duitsland aangewys.Die minister van die omgewing en toerisme, mnr....

Wet slaan toe op wapenlisensies

2 dae gelede | Ministeries

Denver Kisting – Op die oomblik hoef iemand wat om ’n wapenlisensie aansoek doen, nie bewys te lewer dat hulle in staat is om ’n...

Reënweer vertoef langer

2 dae gelede | In beeld

Die Namibiese weerkantoor voorspel sonnige en baie warm weer vir vandag in die verre weste en suidweste van die land, terwyl dit elders gedeeltelik bewolk...

Water: Verligting ná hemelhoë rekeninge

2 dae gelede | Regering

Elvira Hattingh - Windhoekers wat vandeesmaand uitsonderlike hoë waterrekeninge ontvang het, kan ‘n sug van verligting slaak omdat die droogtetarief vir huishoudings net tot Januarie...

Kalender 8 Maart

2 dae gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Tapz is 'n meester van die bira en die Wes-Afrikaanse djembe. Dit kan op sy debuutalbum, Awaited Wait, wat in Desember...

Jeuggeweld ruk Outjo

2 dae gelede | Misdaad

Denver Kisting Drie jongelinge van Outjo is steeds agter tralies nadat hulle glo sowat 'n maand gelede twee ander jong mans binne 43 minute doodgesteek...

Minister gee Nida nuwe raad

2 dae gelede | Plaaslik

Ogone Tlhage – Die raad van die nuwe agentskap vir nywerheidsontwikkeling in Namibië (Nida) sal gereeld moet vergader om homself as semi-staatsinstelling te vestig. So...