Hof hoor president is 'mislei' oor arbeidsregulasies

Volbank lewer op 23 Junie uitspraak

01 June 2020 | Howe
Ronelle Rademeyer - Pres. Hage Geingob is “verkeerd geadviseer” met die opstel van die gewraakte arbeidsregulasies waarvan die grondwetlikheid Vrydag in die hoërhof deur Namibiese werkgewers betwis is.
Dit is nie “redelik regverdigbaar” as in ag geneem word die regulasies se doel moet wees om die nasie gesond te hou aangesien dit die rede vir die noodtoestand in die land is nie.
Só het adv. Raymond Heathcote, SC, Vrydag in die hoërhof namens ses van die applikante geargumenteer in die dringende aansoek wat as belangrike toetssaak beskou word oor die president se bevoegdhede tydens ’n noodtoestand. Hierdie bevoegdhede word in Artikel 26(5) van die Grondwet uiteengesit.
Die gewraakte regulasies in proklamasie 17 van 2020 is op 4 Mei ingevolge die Covid-19-noodtoestand uitgevaardig. Dit skort sekere dele van die Arbeidswet op en verbied werkgewers onder meer om werknemers af te lê of hul salarisse te verminder.
“Ons twyfel nie dat die president se motiewe edel was nie, maar hy is verkeerd geadviseer en tot ’n sekere mate selfs mislei,” het Heathcote voor ’n volbank betoog.
Volgens hom hou die regulasies nie direk verband met die doel van die noodtoestand wat is om die nasie teen ’n gesondheidsramp te beskerm nie.
Heathcote verteenwoordig die Namibië Werkgewersfederasie (NEF) en vyf maatskappye in die safari-, lugvaart-, vervoer- en drukkersbedryf wat in eedsverklarings ’n somber prentjie aan die hof geskets oor die ekonomiese ellende waarin die noodtoestand en inperkingsmaatreëls ondernemings gedompel het.
Die Namibië Werkgewersvereniging (NEA), met sy 117 lede wat sake doen in die gasvryheids-, konstruksie, vervaardigings, mynbou en ander bedrywe, is deur adv. Tuhafeni Muhongo verteenwoordig.
Adv. Jean Marais, SC, het namens die respondente aangevoer die virussiekte het akokaliptiese gevolge en is die grootste ramp wat die wêreld sedert die twee Wêreldoorloë getref het.
Hy tree saam met mnr. Sisa Namandje op vir die president, prokureur-generaal, ministers van arbeid, nuwerheidsbetrekkinge en werkskepping asook gesondheid en maatskaplike dienste, die arbeidskommissaris en die regering.
Hulle voer in betoogshoofde aan pres. Hage Geingob het die regulasies aangekondig omdat hy besef het grootskaalse afleggings as gevolg van die inperkingsmaatreëls kan tot hongersnood of openbare onrus in die land lei.
“Die applikante argumenteer die duidelike doel van die regulasies was om werkers te beskerm en nie om die verspreiding van die virus te voorkom nie. “Ons sê die grendeltyd was nodig en om dit reg te kry, moes mense se bewegings ingeperk word en moes werknemers tuis bly,” het Marais betoog.
Volgens die respondente moes werknemers die gemoedsrus hê dat hulle tydens grendeltyd ’n inkomste en dus kos of die tafel sal hê.
Regters Shafimana Ueitele, Hannelie Prinsloo en Thomas Masuku sal op 23 Junie uitspraak lewer. [email protected]


Soortgelyk

 

Iran: Kernkragontploffing veroorsaak beduidende skade

4 ure gelede | Internasionaal

’n Kernkragontploffing Donderdag in ’n pakhuis by die Ntanz-aanleg in sentrale Iran het beduidende skade aangerig en kan die produksie van sentrifuges vertraag wat uraan...

Egipte arresteer dokters om kritici stil te maak

4 ure gelede | Internasionaal

Ongeveer tien dokters en ses joernaliste is vanaf Februarie in Egipte in hegtenis geneem omdat hulle die regering van pres. Abdel Fattah el-Sissi kritiseer oor...

Covid-19 knou Media24

7 ure gelede | Afrika

Media24 oorweeg dit om vyf tydskrifte en twee koerante te sluit, sy oorblywende maandelikse tydskrifte uit te kontrakteer en hul frekwensie te verminder, twee koerante...

Kenia heropen grense na 4 maande

7 ure gelede | Afrika

Mnr. Uhuru Kenyatta, die president van Kenia, het Maandag die heropening van dié land se grense “in fases” aangekondig.Internasionale vlugte sal vanaf 1 Augustus...

55 nuwe Covid-19-gevalle bring totaal op 593

8 ure gelede | Gesondheid

Die minister van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) dr. Kalumbi Shangula sê 55 nuwe gevalle van Covid-19 is die afgelope 24 uur in die land...

Twee vas oor olifanttande

18 ure gelede | Misdaad

Volgens die weeklikse wildmisdaadverslag vanaf 29 Junie tot 6 Julie is twee nuwe wildmisdaadsake aanhangig gemaak en vier verdagtes in hegtenis geneem. Mnre. Alfred...

Kleintjies terug skool toe

18 ure gelede | In beeld

Leerlinge vanaf graad 0 tot 3 het gister weer vir aangesig tot aangesig onderrig teruggekeer met leerlinge en ­onderwysers wat opgewonde was om weer by...

Tuiskwarantyn aan kus ’n opsie

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) gaan meer buigsaam wees in die kwarantyn van kontakte van bevestigde Covid-19-gevalle in die...

Psemas: ‘Tender sluit almal behalwe Methealth uit’

18 ure gelede | Gesondheid

Henriette Lamprecht - Dit wil voorkom asof die bepalings van ’n tender om die staat se mediese fonds (Psemas) te bestuur, op so ’n manier...