Hoenderstorting bedreig bedryf

Een van die wêreld se grootste hoenderproduserende lande wil skynbaar van afvalprodukte ontslae raak deur dit teen lae pryse in Suider-Afrika te verkoop – ten koste van plaaslike bedrywe.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh



Afgesien van die feit dat Brasilië skynbaar toenemend tot die Namibiese mark toetree om ontslae te raak van hul ongewenste hoenderagterkwarte, bestaan die vermoede dat duisende tonne spotgoedkoop hoenderprodukte ingesmokkel word en die Namibiese hoenderbedryf bedreig.

Terwyl die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging in 'n nuusverklaring sy kommer uitgespreek het oor die storting van hoenderprodukte deur Brasilië, wat nou ook in Namibië posgevat het, meen 'n plaaslike kenner Namibië het in 2018 tot N$750 miljoen vir hierdie hoenderprodukte betaal.

Die buurland waarsku die stortings het al in verskeie lande, soos Ghana, tot die ineenstorting van hul eie hoenderbedrywe gelei en het in Suid-Afrika reeds ernstige werkverliese tot gevolg gehad.



ONWETTIG OF NIE?

Mnr. Pieter van Niekerk, Namib Poultry Industries (NPI) se kommersiële bestuurder en 'n lid van die Namibië Pluimveevereniging, is bekommerd daaroor dat smokkelary met die produkte selfs 'n groter bedreiging vir die plaaslike bedryf inhou, wat maar nog in sy kinderskoene staan.

Van Niekerk sê volgens data tot die NPI se beskikking, het die Vleisraad byvoorbeeld in 2018 permitte uitgereik om altesaaam 13 200 ton hoenderprodukte in te voer.

Tog, volgens Comtrade, die Verenigde Nasies (VN) se internasionale databasis wat wêreldwye handel konsolideer, het uitvoerlande aangedui hulle het verlede jaar altesaam 27 796 ton hoender na Namibië uitgevoer.

“Dit is meer as dubbel die hoeveelheid waarvoor permitte uitgereik is. Ons vermoed dus dat meer hoenderprodukte die land binnekom as wat regulasies voorskryf,” het Van Niekerk aan Republikein gesê.

Volgens hom bestaan 'n kans dat dié kontrasterende getalle moontlik deur foutiewe dokumentasie veroorsaak word, of sluit dit produkte in wat nie onder die kwotastelsel val nie.

“Bedrog, of smokkelary, is meer waarskynlik as daar holisties gekyk word na die aantal ingevoerde produkte op Namibiese rakke,” het Van Niekerk gesê.

“Die surplusproduksie en gevolglike storting van hoenderprodukte uit byvoorbeeld Suid-Amerika vind al jare lank plaas, maar ons het onlangs inligting bekom wat daarop dui dat met hoenderprodukte in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelings­gemeenskap(SADC)-streek gesmokkel word.

“Daar is groot geld te maak met die invoer van goedkoop vleis,” het Van Niekerk gesê.



MILJOENe VIR ­'ONWETTIGE' HOENDER

Volgens Van Niekerk se berekeninge het daar in 2018 alleen tot N$350 miljoen die land uitgevloei weens beweerde onwettige transaksies.

“As invoere waarvoor permitte uitgereik is ook ingereken word, het hoenderinvoere die plaaslike sektor bykans N$750 miljoen gekos,” het Van Niekerk gesê.

“Nog 'n probleem is dat invoerkwotas nie die plaaslike bedryf bevorder nie. Indien jy 'n kwota kan bekom, is daar groot geld op die spel en is dit lonender as om jou eie produksie te verhoog,” het hy gesê.

Van Niekerk verduidelik twee vorms van produkstorting kom voor – die een behels die storting van produksie en die ander is ekonomiese storting.

“Produksiestorting beteken 'n land probeer van surplusprodukte of produkte van swak gehalte ontslae raak, terwyl die tweede vorm plaasvind wanneer 'n uitvoerder genoeg geld vir die produk in hul eie mark verdien, sodat hulle dit teen 'n laer prys in 'n ander land kan verkoop.

“So kan die land wat die produkte ontvang se plaas­like mark verwoes word,” het Van Niekerk gesê.

Hy sê in die geval van Brasilië word die voorkwarte van hul hoenders, oftewel die borsies en vlerkies, in Amerika en Europa teen 'n premieprys verkoop, waar hulle van winste verseker is.

“Die ongewenste agterkwarte kan dus vir enige prys verkoop word, want hulle het reeds hul geld gemaak. Só beland dit byvoorbeeld in onder meer Suider-Afrika.”



BESKERMING VIR ­NUWELINGE

Van Niekerk sê plaaslik word hard gewerk daaraan om nuwe produsente in die hoenderbryf aan boord te kry en word 'n aggressiewe strategie gevolg, “maar sonder voldoende be­skerming sal die hele bedryf misluk”.

Hy verwys na 'n paar nuwe SME-toetreders, wat sê hulle kan nie verder groei nie en bou tans voorraad op omdat winkelrakke reeds vol ingevoerde hoenderprodukte is.

Van Niekerk sê die bedryf geniet goeie samewerking met die ministerie van nywerheidsontwikkeling, handel en SME-ontwikkeling, maar kwessies wat veeartseny betref, bestaan steeds.

“Gesprekke word wel gevoer,” sê hy.

Hy sê veeartseny is veral van belang omdat voedselveiligheid 'n kwessie raak as dit by die invoere van hoenderprodukte kom, met beide Suid-Afrika en China wat reeds ontdek het dat substandaardprodukte deur Brasilië ingevoer word. Dit sluit in dat 'n besending hoender al herroep moes word weens vermoedelike salmonella-besmetting.

“Boonop word plaaslike produsente verplig om sekere standaarde te handhaaf, wat nie van toepassing op invoere is nie. Namibiese produsente het besluit teen breëspektrum-antibiotikas en die gebruik van hoenderbloedmeel, 'n afvalproduk wat as 'n goedkoop proteien in hoendervoer gebruik word.

“Dit is nodig dat veeartseny hierop let om te keer dat substandaardprodukte ten koste van die plaas­like bedryf ingevoer word,” het hy gesê.



SAMEWERKING MET SA

Van Niekerk sê ongeag “kleiner, onderlinge gevegte oor hoenderinvoere”, raak 'n aanval op Suider-Afrikaanse lande almal in die streek.

Vandaar die samewerking tussen die Namibiese en Suid-Afrikaanse pluimveeverenigings as dit by die storting van Brasiliaanse hoenderprodukte in Suider-Afrika kom.

“Wat veral Namibië en Suid-Afrika in gemeen het, is dat ons grense baie meer toeganklik vir invoere is. Dit gebeur dikwels dat vragte hoender wat byvoorbeeld vir die Demokratiese Republiek die Kongo of Sentraal-Afrika bedoel is, by ons hawe aanland. Voor die hele vrag by hul eintlike bestemming kan uitkom, word dit op plaas­like markte verkoop. Ons sal dus ons huidige be­skermingsmaatreëls moet heroorweeg,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging sê dis tyd dat Suider-Afrika saamstaan teen Brasilië, een van die wêreld se grootste hoenderuitvoerders, se “aanval”.

“Die Namibiese hoenderbedryf vra vir drastiese optrede en het ons volle steun,” het die buurland se pluimveevereniging gesê en bygevoeg hulle het reeds by die Suid-Afrikaanse Kommissie vir Internasionale Handel en Administrasie (Itac) 'n aansoek om 'n invoerheffing van 82% op Brasiliaanse hoender.

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!