Het Kongolese kiesers se stemme dié keer getel?

Nuwe president aangewys

11 January 2019 | Afrika
Liesl Louw-Vaudran - Van die mees aangrypende tonele in Afrika die laaste tyd was op 30 Desember verlede jaar in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK).

Sowat 40 miljoen mense het na die stembusse gestroom om hul kruisies in algemene en presidentsverkiesings te trek. Mense het te midde van groot swaarkry, dikwels ver te voet, gereis en op plekke donderstorms getrotseer om ure lank in die modder te staan en wag om te kan stem.

Vir hulle het dit nie saak gemaak dat die stemmery byna uit die staanspoor weens ongerymdhede gedoem was nie. In ’n poging deur die regerende party om aan bewind te bly is twee van die land se vernaamste politici – die voormalige adjunk-president Jean-Pierre Bemba en die voormalige goewerneur van Katanga Moïse Katumbi – verbied om deel te neem in 'n poging deur diie regerende party om aan bewind te bly.

Die verkiesingskommissie het gister in die vroeë oggendure aangekondig dat Felix Tshisekedi die verkiesing gewen het. Dit gaan tot groot omstredenheid lei, veral weens gerugte oor kullery by die stembus.

EBOLAVIRUS

In die dorpies Beni en Butembo, in die Noord-Kivu-provinsie in die ooste van die land, het die verkiesingskommissie byvoorbeeld die stemmery enkele dae voor stemdag afgelas. Dit was glo weens vrese dat die Ebolavirus, wat al maande lank in dié streek voorkom, sal versprei.

’n Miljoen stemgeregtiges is só van hul stem ontneem.

Mense het toe eenvoudig hul eie verkiesing gereël. ’n Groot deurskynende plastiekhouer is in die middel van ’n oop stuk grond geplaas en honderde mense het geduldig tou gestaan om hul simboliese papiertjie in die geprakseerde stembus te gooi. Weens die Ebolagevaar moes hulle eers elkeen in ’n antiseptiese middel hul hande was.

Hoewel hulle het goed geweet het dat hul stemme nie amptelik gaan tel nie, wou hulle steeds daardie reg uitoefen.

En wat gebeur toe?

Sedert stemdag is die DRK in die donker.

Hoewel die tellery van die stemme kwansuis met rukke en stote met geslote deure plaasvind, het die verkiesingskommissie geweier om enige tussentydse uitslae bekend te maak.

Twee dae ná die stemmery is die internet afgesny, SMS’e werk nie en die invloedryke Radio France Internationale se uitsendings is opgeskort en die radiostasie se korrespondent is uit die land geskop.

Soos die dae aanstap, het dit al duideliker geword dat die kombers van geheimhouding oor die uitslae nie heeltemal gewerk het nie.

TRAGEDIE

Die Katolieke Kerk – een van die groot rolspelers in die DRK wat demokrasie in die land wil ondersteun – het by die 40 000 waarnemers by die stembusse gehad wat self van die uitslae telling gehou het.

Ondanks die internet-duisternis kon hulle steeds hul somme maak en dit na die kerk se hoofkwartier in Kinshasa stuur.

’n Paar dae ná die stemmery het die Kerk die regering in ’n verklaring gewaarsku dat hy weet wie gewen het. Die boodskap was duidelik dat daar groot moeilikheid sou wees as daardie persoon se naam nie die een is wat deur die verkiesingskommissie aangekondig word nie.

Die tragedie van die DRK is dat gewone mense sedert onafhanklikwording in 1960 bitter min seggenskap gehad het oor hoe hul land regeer word. Oorlog duur op baie plekke voort en veroorsaak ongekende lyding.

Dr. Denis Mukwege, aan wie die Nobelprys vir vrede verlede jaar vir sy werk met verkragtingslagoffers toegeken is, het in ’n onderhoud gesê die wêreld kan eenvoudig nie terugstaan terwyl miljoene mense, veral vroue, in die DRK die slagoffers van geweld bly nie. Hul eie regering klou vas aan die mag en doen niks om hulle te help nie.

INTERNASIONALE GEMEENSKAP

Ongelukkig het die internasionale gemeenskap die mense van die DRK dikwels in die verlede teleurgestel.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, wat die verkiesings op 30 Desember gemonitor het, en ook Suid-Afrika, het tot dusver nog niks oor die gebrek aan deursigtigheid en die geknoeiery in die afgelope verkiesings gesê nie.

Die vraag is nou of Kongolese se entoesiastiese deelname aan hierdie verkiesing eenvoudig geïgnoreer is en of Tshisekedi wel regverdig gewen het.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant van die Instituut vir Sekerheidstudies.- Netwerk24\

Soortgelyk

 

Afrika-lied kom tuis in Namib

14 ure gelede | Kuns en vermaak

Elvira Hattingh - Die Duits-Namibiese kunstenaar Max Siedentopf het wêreldwyd opslae gemaak met ‘n kunsinstallasie in die Namib wat Toto se bekende liedjie “Africa” oor...

CoW verloor ronde teen baas

14 ure gelede | Regering

Denver Kisting - Die geskorste uitvoerende hoof van die Windhoekse stadsraad (CoW), mnr. Robert Kahimise, het 'n ronde teen sy werkgewer gewen.CoW sal waarskynlik binne...

Sowat 7 000 skeepspassasiers sak op Walvis toe

14 ure gelede | Toerisme

Geskiedenis is gister gemaak toe vier groot passasierskepe in die Walvisbaai-hawe op anker gelê het en sowat 7 000 internasionale reisigers op die hawedorp toegesak...

Herstel internet, toegang tot sosiale media in Zim

14 ure gelede | Plaaslik

Ronelle Rademeyer - Om mense in Zimbabwe die gebruik van internetdienste te ontneem, is ‘n skending van hul menseregte en benadeel die ekonomie.“Ons raam die...

Weer vir 17 Januarie 2019

14 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die ||Kharasstreek. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en baie tot bloedig warm wees met enkele donderbuie oor die sentrale,...

Jong Namibiër maak biomediese deurbrake

14 ure gelede | Gesondheid

Denver Kisting - Sy twee jonger sibbe se worsteling as kinders met asma het ’n jong Namibiese ingenieur aangespoor om ’n toestel te ontwerp wat...

Lui-lui telefoon

14 ure gelede | Tegnologie

Telecom Namibia se landlyne in Windhoek was sedert Dinsdag buite werking. Mnr. Oiva Angula, Telecom Namibia se hoof van korporatiewe kommunikaise en openbare skakelwese, het...

Gedenkdiens gehou vir slagoffers van ongeluk

14 ure gelede | Plaaslik

’n Gedenkdiens vir ses van die sewe slagoffers wat onherkenbaar verbrand is tydens die ongeluk op 10 Augustus 2018, is Dinsdag op Otjiwarongo gehou. Die...

Meer as N$2 miljoen se stukkende verkeersligte

14 ure gelede | Regering

Die hoofstad se munisipaliteit het in 2018 meer as N$2 miljoen bestee om stukkende verkeersligte te herstel nadat dit in padongelukke beskadig is.Mnr. Harold Akwenye,...