Herrie oor graad 8-ontgroening
Herrie oor graad 8-ontgroening

Herrie oor graad 8-ontgroening

Ouers van Namib High School op Swakopmund het gedreig om die skool hof toe te sleep vir beweerde wreedheid en mishandeling tydens die ontgroening van verskeie graad 8's.
Adam Hartman
Adam Hartman op Swakopmund – Ouers van graad 8-leerders van Namib High Skool in Swakopmund het tydens die jaarlikse ontgroeningsproses gedreig om regstappe teen die skool te neem nadat hul kinders glo aan wreedheid en mishandeling onderwerp is.

Die ouers het by monde van hul regsverteenwoordiger, mnr. Richard Metcalfe, gesê hul kinders is onderwerp aan “wrede, onmenslike en vernederende behandeling” van ander leerders – alles onder die dekmantel van ontgroening.

Die ouers beskuldig die onderwysers daarvan dat hulle bloot anderpad kyk.

Elke jaar moet graad 8's hul skooldrag verkeerdom dra en plastiek inkopiesakke as sokkies dra. Hulle word gedwing om hul hoofde gebuig te hou as 'n gebaar van onderdanigheid, en hulle moet fisiese oefeninge doen.

Hierbenewens beweer die ouers ook hul kinders moet swaar voorwerpe dra, geskenke en kos vir ouer leerders gee en lang tye in die son deurbring terwyl hulle roerloos moet bly.

Die graad 8's is glo ook aangesê om “verskoningsbriewe” aan die hoofmeisie te skryf as hulle nie kan bekostig om te betaal vir die kos en geskenke wat gevra word nie.

“Sommige van die sogenaamde ontgroeningsprosedures kom bloot neer op kriminele oortredings wat volgens ons regstelsel strafbaar is,” lui Metcalfe se brief aan die skoolhoof, me. Roosmarie September. Hy voeg by sommige ontgroeningspraktyke het na bewering fisiese beserings veroorsaak waarvoor sommige leerders mediese behandeling moes ontvang.

Die ouers doen 'n beroep op die skool “om onmiddellik te verseker jou skool staak die huidige ontgroening”. Indien nie, sal die saak verder geneem word.



SKOOLHOOF STEL HAAR SAAK

Ons susterpublikasie Erongo 24/7 het na September uitgereik, wat gesê het sy was verras oor die brief wat sy Donderdag ontvang het, aangesien sy nog gewag het dat die ouers met haar vergader om die aantygings te bespreek. Volgens haar was daar wel ouers wat haar gebel het en sy het hulle genooi om met haar te vergader. Terwyl hulle aangedui het dat hulle sou vergader, is sy met die regsdreigement van Metcalfe beteken.

Sy het verduidelik die ontgroeningsproses is bedoel om 'n gevoel van kameraadskap onder die leerders te skep, en respek en trots vir die skool, sy waardes en tradisie te kweek.

September het bygevoeg die graad 8's en van die res van die skool word afsonderlik gehou en dat ontgroening slegs – onder toesig – deur die prefekte gedoen word. “Dis minimale aktiwiteit, veral ook omdat die graad 11's besig is om eksamen te skryf; daarom word ontwrigtings vermy,” het sy verduidelik.

Wat die beweerde beserings betref, het sy gesê een van die kinders het glo van 'n trappie afgeval, maar het dadelik mediese aandag ontvang. Of dit 'n ongeluk of 'n gevolg van die ontgroening was, kon sy nie sê nie.

Sy het wel bevestig een van die klaers se kinders is uit die ontgroeningsproses verwyder vir die gemoedsrus vir die leerders en die ouers. “Die kinders is nie beseer nie; inteendeel, hulle geniet die proses baie,” het sy gesê en bygevoeg die ontgroening loop uit op 'n “aanvaardingskonsert” voor die hele skool, wat almal baie geniet.

Me. Ernfriede Stephanus, die onderwysdirekteur in die Erongostreek, het aan Erongo 24/7 gesê haar kantoor wag op terugvoer van Namib High School om die ouers se eise te verstaan.

“Die punt is die hele ontgroeningsproses moet gestaak word, of dit nou goed gedoen word of nie. Daar is tye wanneer die onderwysers nie teenwoordig is nie, en dinge gebeur wat nie reg is nie. Dit moet gestaak word, want ons kan nie ons tyd met hierdie kwessies mors nie,” het sy gesê.

Beide Metcalfe en Stephanus het verwys na 'n 2017-omsendbrief aan alle skole van me. Sanet Steenkamp, die uitvoerende direkteur van onderwys, waarin sy oor die ontgroeningspraktyke in Namibiese skole spesifiek verklaar: “Die praktyk is onwettig en kan nie toegelaat word om in enige skool plaas te vind nie, want dis 'n skending van menswaardigheid, asook dat geen persone aan marteling of aan wrede, onmenslike of vernederende behandeling of straf onderwerp mag word nie”.

Die omsendbrief lui verder “geen persoon mag enige leerder onderwerp aan geestelike teistering, fisieke straf, of die uitvoering van of deelname aan enige vorm van ontgroening teen 'n ander leerder nie”.

[email protected]

FOTO
Namib High School in Swakopmund. Foto Erongo 24/7

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!