Herfs-kommandowurm tref Mieliedriehoek

Insekdoders inderhaas ingevoer

01 February 2017 | Landbou
Elvira Hattingh - Die herfs-kommandowurm, wat reeds groot skade onder gewasse in die noordelike kommunale gebiede aangerig het, het nou ook na die Mieliedriehoek versprei.

Kommersiële akkerbouers wat rondom Grootfontein, Tsumeb en Otavi boer, het gister aan Republikein bevestig dat die plaag in hul midde uitgebreek het.

’n Noodvergadering is Maandag op Grootfontein gehou waar dit bekend gemaak is dat tussen 30 en 40% van die lande in die Mieliedriehoek reeds deur die wurm besmet is.

Mnr. Gerhard Engelbrecht, ’n akkerbouer, sê die boere is bekommerd, veral omdat dit tot ernstige oesverliese kan lei.

“Dit is ’n nuwe wurm- en motspesie en dit blyk dat hulle bestand is teen die gewone insekdoders. Gevolglik is ons nou besig om nuwe insekdoders in te voer. Die regering neem werklik ons hand hiermee. Permitte word doeltreffend uitgereik en na verwagting kan ons al teen die einde van die week die insekdoders by ons hê,” het hy gesê.

Mnr. Gernot Eggert, nog ’n akkerbouer uit die Mieliedriehoek en voormalige voorsitter van die Akkerbouerprodusentevereniging (APV), sê hy het ook reeds die ruspe in sy lande gesien.

“Hoeveel skade daar gaan wees, hang af van of omstandighede gunstig gaan wees sodat die ruspes nog ’n lewensiklus kan voltooi. Die probleem is die meeste van die mielies is nog klein, wat wel gunstige omstandighede daarvoor kan skep. Dit kan tot groot skade lei,” het Eggert gesê.

Hy het ook gesê dit lyk of die gewone spuitstof wat hy tot dusver gebruik het, nie die plaag doeltreffend beveg nie.

Intussen is dit bekend geraak dat die ruspe-plaag wat in die Omusati-, Ohangwena-, Kavango-Oos- en Kavango-Wesstreek uitgebreek het, uit drie verskillende ruspes bestaan, naamlik die herfs-kommandowurm, bolwurm en mieliestamboorder.

Volgens ’n persverklaring wat Maandag deur die ministerie van landbou, water en bosbou uitgereik is, het die sogenaamde herfs-kommandowurm, ’n uitheemse kommandowurm-spesie, reeds groot skade aan gewasse aangerig.

’n Span entomoloë sê die herfs-kommandowurm slaan op die blare van gewasse toe, terwyl die bolwurm blare en ontwikkelende mieliekoppe beskadig.

Die mieliestamboorder is glo meer algemeen en veroorsaak nie sulke groot skade soos die ander twee nie.

MINISTERIE HELP

Mnr. Christof Brock, uitvoerende hoof van die Namibiese Akkerbouraad, het gister aan Republikein gesê die raad neem met kommer kennis van die situasie.

Die ministerie is tans besig met ’n pesbestrydingsprogram in die geaffekteerde gebiede en maak plaagdoders, sproeimasjiene, personeel en ander toerusting beskikbaar.

Boere word ook aangeraai om diep slote om hul lande te ploeg om verdere besmetting te voorkom. Soms moet hulle die ruspes met die hand verwyder.

As die eiers op gewasse nie vernietig word nie, kan die ruspes natuurlik met elke reënseisoen weer toeslaan.

BUURLANDE LOOP OOK DEUR

Dié plaag is nie uniek aan Namibië nie. Volgens die nuusdiens Bloomberg is die eerste berigte oor die uitbreek van die herfs-kommandowurm reeds in Desember uit Zambië ontvang. Die plaag het intussen glo ook na Zimbabwe en Malawi versprei. Meer as ’n tiende van Zambië se saaigrond het al deurgeloop, en in Zimbabwe het die plaag al versprei na sewe uit die agt provinsies waar mielies verbou word.

Soortgelyk

 

Tronkmoordenaars gevonnis

4 ure gelede | Howe

In ’n uitspraak wat vanoggend in die hoërhof in Windhoek gelewer is, het regter Dinnah Usiku vir Herman Rukero (28), Benedictus Afrikaner (31) en Maleachi...

Weg met Wambo, eis Hardap

17 ure gelede | Regering

Catherine Sasman - Inwoners van regoor die Hardapstreek het gister in ‘n konvooi na Windhoek gery om ‘n klagskrif aan die minister van stedelike en...

Weer vir 22 Junie 2017

17 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en matig oor die //Kharasstreek, met ligte reën oor die verre suidelike dele van dié streek. Elders sal dit mooi weer...

Man vas oor lyk in vlak graf

17 ure gelede | Misdaad

Henriette Lamprecht - ’n Man wat ’n klag van verkragting in die gesig staar, is in hegtenis geneem in verband met die moord van ’n...

DTA sleep Katjavivi hof toe

17 ure gelede | Regering

Catherine Sasman - Die amptelike opposisieparty, DTA van Namibië, sê dit gaan die Speaker van die Nasionale Vergadering, professor Peter Katjavivi, voor die hof te...

Mensehandel: Nóg kan sit

17 ure gelede | Vervoer

Francoise SteynbergTwee verdagtes, onder wie 'n werknemer van Air Namibia op die Internasionale Lughawe Hosea Kutako, gaan vandag in verband met mensehandel in die landdroshof...

3 jaar tronkstraf vir korrupte raadslid

17 ure gelede | Misdaad

Die finansiële bestuurder van die Rehoboth dorpsraad wat verlede jaar op 11 klagte van korrupsie, bedrog en vervalsing in hegtenis geneem is, is in die...

Staatsaanklaer vas oor vermeende bedrog met verkeersboetes

17 ure gelede | Misdaad

'n Staatsaanklaer by die landdroshof op Otjiwarongo is met borgtog van N$2 000 vrygelaat nadat hy deur die Teenkorrupsiekommissie (ACC) op klagte van korrupsie in...

Ontwikkelingsbank skenk aan kinders

17 ure gelede | Plaaslik

Yolanda Nel - Die Ontwikkelingsbank van Namibië (DBN) het 'n skenking aan die kindersentrum Hope Village gemaak wat vir hul groentetuin aangewend gaan word.Mnr. Martin...