Hellwig leef nog, beduie met sy hand
Ronelle Rademeyer en Ellanie Smit – Die matrone van die koshuis by die Namibië Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) se kampus op Arandis, me. Gertrud Naobes, het gister getuig mnr. Heimo Hellwig (60) het nog geleef toe sy by die moordtoneel aankom.
Sy het voor regter Christie Liebenberg in die hoërhof in Windhoek getuig sy het die oggend van 15 April 2019 die uitvoerende direkteur, mnr. Eckhart Mueller (72) en vir Hellwig, sy adjunk, in ’n plas bloed voor die deur van die administrasiegebou op die kampus aangetref. Daar was verskeie patroondoppies op die toneel en sy kon sien die glas van die voordeur is stukkend.
Hellwig het nog geleef en het met die wysvinger van sy regterhand beduie. “Sy mond het beweeg. Hy wou praat, maar die woorde het nie uitgekom nie,” het Naobes getuig.
Sy was in ’n stadium so emosioneel dat staatsadvokaat Antonia Verhoef die hof versoek het om vir ’n tydjie te verdaag.
Naobes, wat vir 25 jaar onder Mueller gewerk het, was gister die derde getuie in die staat se saak teen mnr. Ernst Lichtenstrasser (59), ’n voormalige dosent in pas- en draaiwerk by NIMT se kampus op Tsumeb.
Lichtenstrasser het Maandag skuld ontken op die twee klagte van moord teen hom, asook ses ander klagte wat die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, asook regsverydeling insluit.
Naobes het getuig Mueller en Hellwig het soggens saam uit Swakopmund werk toe gery en om 06:30 by die kampus aangekom.
Sy kon hul voertuig sien stilhou van waar sy daardie tyd soggens voorbereidings getref het om vir die studente in die eetsaal ontbyt te bedien.
Sy het getuig sy het die oggend om halfsewe ’n harde geluid gehoor wat geklink het soos dinamiet wat ontplof.
Die volgende oomblik het die sekuriteitswag, ene Festus, aangehardloop gekom en wou weet of sy ook die geraas gehoor het.
Hy is toe weg om te gaan ondersoek instel. Kort daarna was hy terug en het geskok geroep: “Matrone, matrone, bel die polisie!”
Naobes het aan die hof vertel sy het die polisie op Arandis gebel, waar ’n vroulike polisiebeampte haar meegedeel het daar is nie ’n voertuig by die polisiekantoor waarmee hulle na die moordtoneel kan kom nie.
Sy het voorts getuig toe sy saam met die sekuriteitswag na die moordtoneel terugkeer, het sy Mueller en Hellwig in ’n plas bloed op die grond sien lê.
Die hof het gehoor Naobes het ook ’n polisiebeampte wat sy op Walvisbaai ken, gebel en van die moorde ingelig.
Sy het getuig die plaaslike polisie het eers 30 minute nadat sy hulle gebel het, by die toneel opgedaag.
’n Vorige getuie, mnr. Peter van Eeden, het die hof vertel Lichtenstrasser het sy plaas tussen Otavi en Tsumeb verskeie kere sedert 2016 besoek om op sy skietbaan skyfskiet te oefen.
Volgens Van Eeden het Lichtenstrasser aan hom genoem die afdeling waar hy op Tsumeb klasgegee het, gaan toemaak en hy sal na Keetmanshoop verplaas word.
Lichtenstrasser het gevoel dit is onregverdig en hy het die bestuur hiervoor geblameer.
Volgens hom was Lichtenstrasser en sy seun twee dae voor die dubbele moord op sy plaas waar hy met ’n boog skyfgeskiet het.
Die verhoor duur voort. Adjunkaanklaer- generaal Antonia Verhoef het aangedui die staat gaan 53 getuies roep.
– [email protected]
FOTO
Mnr. Ernst Lichtenstrasser (59) gister in die beskuldigdebank in die hoërhof in gesprek met sy regsverteenwoordiger, mnr. Albert Titus

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie