Heckmair: Saak val weer vas

Beskuldigdes koop glo vuurwapen enkele dae voor moord

14 February 2019 | Howe
Marc Springer - Een van die beskuldigdes in die moord op mnr. André Heckmair het Dinsdag opnuut sy prokureur in die pad gesteek en die voortslepende verhoor, wat Maandag hervat het, weer eens tot stilstand gedwing.

Die staatsprokureur me. Antonia Verhoef het die afdanking van die prokureur mnr. Mbanga Siyomuinji as ’n duidelike “vertragingstaktiek” beskryf.

Hiermee probeer mnr. Kevan Townsend, Siyomuinji se kliënt, die saak volgens haar verder vertraag om meer tyd vir hom en sy medebeskuldigde, mnr. Marcus Thomas, te koop.

Tydens die vier jaar lange verhoor in Windhoek se hoërhof het Townsend reeds vier en Thomas vyf prokureurs afgedank of hul mandaat beëindig.

Maande verloop dikwels voor ‘n nuwe prokureur aangestel word en homself met die saak vertroud kan maak, het sy gesê.

’n Voorverhoorvergadering sal op 20 Maart plaasvind, waarteen Townsend ’n nuwe prokureur moet hê. Die verhoor sal dan op 1 April hervat.

Townsend is van plan om ’n private prokureur aan te stel, maar benodig glo finansiering hiervoor vanuit die VSA.

Thomas het die hof Maandag opnuut vir uitstel gevra om weer vir regshulp van die staat aansoek te probeer doen. Die versoek is geweier en regter Christie Liebenberg het gelas die verhoor moet voortgaan.

Eerste getuie

’n Sleutelgetuie, mnr. Simon Muliokela, het Maandag uiteindelik getuig.

Muliokela is ’n staatsgetuie en sal nie op ’n klag van die onwettige besit van en handel in ‘n wapen vervolg word indien hy sy samewerking gee nie.

Hy het getuig sy neef het op 1 Januarie 2011 die twee beskuldigdes aan hom as mnre. Cash en White voorgestel. Sy neef het glo vir hom gesê die twee wil vir hul eie veiligheid ’n wapen aanskaf.

Townsend het glo duidelik gemaak hulle stel in ’n 9 mm-pistool belang.

Volgens Muliokela was hy ook by latere ontmoetings teenwoordig waar sy skoolvriend “Ashley” en ’n kennis genaamd “Gainor” ook by was.

Hulle kon net ’n 7,65 mm-wapen in die hande kry, wat die Amerikaners toe gekoop het, het hy getuig. Volgens Muliokela het Townsend tydens die eerste poging om die wapen te oorhandig handskoene gedra en die wapen deeglik nagegaan.

Wapentransaksie

Hiertydens het Townsend glo vasgestel daar is slegs een koeël in die magasyn. Hy het toe glo op meer ammunisie aangedring.

Die daaropvolgende dag het die Amerikaners die wapen en ammunisie ontvang en N$500 aan Muliokela gegee, wat hy later aan Ashley oorhandig het, het hy getuig.

Die beskuldigdes sou nog N$500 in Swakopmund aan die getuie oorhandig, het hy gesê. Op 7 Januarie is die geld aan hom oorhandig. Sy kommissie was N$300.

Tydens die geleentheid het Muliokela gevra waarvoor die wapen gebruik is en wat daarvan geword het. Thomas het volgens hom gesê: “Jy wil nie in die besit gevang word van ‘n wapen wat gebruik is nie.” Volgens Muliokela het Thomas gesê die wapen was reeds weer verkoop.

Volgens die getuie het hy nie weer van die beskuldigdes gehoor nie. Hy is dae later deur sy ma aan hulle herinner. Sy het hom telefonies meegedeel daar is op televisie oor die twee Amerikaners se inhegtenisneming berig; dieselfde mans waarmee sy hom voorheen gesien het.

Soortgelyk

 

Duisende registreer vir e-taks

1 uur gelede | Ministeries

Elvira Hattingh - Altesaam 192 225 belastingopgawes is teen Dinsdag via die ministerie van finansies se nuwe aanlyn belastingdiens, die geïntegreerde belastingadministrasiestelsel (Itas), ontvang.Mnr. Tonateni...

Apollo 11-euforie só onthou

1 uur gelede | Tegnologie

Ronelle Rademeyer - Namibië se eie ruimteman, dr. Japie van Zyl, sê ’n getekende foto van die drie Apollo 11-ruimtevaarders, Neil Armstrong, Buzz Aldrin en...

Kalender 12 Julie

1 uur gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Bottomless Coffee Band is ’n instrumentele, alternatiewe duo wat bestaan uit die getroude paartjie Lourens en Esté Rabé van Kaapstad, Suid-Afrika....

Weer vir 19 Julie 2019

1 uur gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en warm tot baie warm in die Noorde.KUS: Sonnig en matig tot warm.GETYE BY WALVISBAAI: H 04:47 L 10:41...

Nuwe begin vir vier wildehonde

1 uur gelede | Omgewing

Francoise Steynberg - Ná die tragiese skietvoorval in Februarie waarin drie wildehonde van die N/a’an ku sê-stigting en -wildreservaat glo deur personeel van die...

Unam werp lig op kragonderbreking

1 uur gelede | Onderwys

Denver Kisting – Die Universiteit van Namibië (Unam) het gister by monde van sy woordvoerder, mnr. Johannes Haufiku, ontken die instelling se kragtoevoer is weens...

Miljarde nodig vir watersekuriteit

1 uur gelede | Ministeries

Elvira HattinghDie plaaslike watersektor moet in die volgende vyf jaar 'n begrotingsgaping van sowat N$11,7 miljard oorbrug om enkele mikpunte vir waterverskaffing en sanitasiediente te...

Kersfees en kuns in Julie

1 uur gelede | Kuns en vermaak

As jy lus is vir feestelikheid in Julie, maak gerus ’n draai by die Omba-galery in Talstraat waar die ’Ikhoba Textiles Farm Project sy 17de...

Mrs J maak ’n Windhoekse draai

1 uur gelede | Kuns en vermaak

Binnekort besoek die bekende Theresa Sedras, beter bekend as Mrs J van Suidooster, die land van die dapperes. Gospel Care Ministry bied in Augustus ’n...