Havana'ers het geen hoop
Inwoners van 'n informele nedersetting in Windhoek deel hul verwagtinge van die komende verkiesings.
Tanja Bause - Die Havana- informele nedersetting se huise het geen lopende water, toiletgeriewe of elektrisiteit nie.
Die gemeenskap moet water by gemeenskaplike waterpunte op strategiese plekke gaan haal en huis toe dra.
Die waterpunte werk met 'n kaart waarop geld gelaai is.
Die kaart word in 'n gleuf gedruk en water loop tot die kaart weer uit die gleuf getrek word. Indien geen geld op die kaart is nie, is water eenvoudig nie beskikbaar nie.
Gemeenskaplike puttoilette word deur tot 100 mense gebruik.
Elektrisiteit is nie beskikbaar nie – tensy iemand krag onwettig van 'n lamppaal kry en 'n kabel tot by sy huis aanlê.
Mnr. Chris Mukondi (31) woon die afgelope vier jaar in 'n sinkhuis wat aan sy suster behoort. Hy deel die tweevertrekhuis met ses mense.
“Die toilette is wel oorkant die straat, maar ons deel dit met meer as 100 ander mense. Dit is baie vuil en onhigiënies, so ons gebruik maar die bos en riviere. Die waterpunt is sowat 300 m van die huis af en ons dra water daagliks aan,” het hy gesê.
Mukondi is in Okakarara gebore en het Windhoek toe getrek op soek na werk.
Hy is 'n kunstenaar en het twee jaar aan die Kollege vir die Kunste (Cota) gestudeer voor hy moes opskop weens 'n tekort aan geld. Nou versier hy kleuterskole in die omgewing se mure en skilder vir 'n paar kliënte.
“Ek dink ek gaan stem. Miskien sal iets verander, hoewel ek regtig nie so dink nie. Ek het nie baie hoop nie. Miskien sal daar in 'n ander wêreld nie meer mense in sinkhuise woon nie, maar nie in die een waarin ons nou is nie.”
Houtverkoper
Me. Monika Hamunyela (46) woon al nege jaar in Havana. Sy deel haar huis met haar twee kinders en broer.
Sy is in die Ohangwenastreek gebore en het Windhoek toe getrek op soek na werk sodat sy haar familie in die Noorde kon ondersteun.
“Die toilette is vuil en gebreek, so ek gebruik die rivier, wat baie gevaarlik is – veral vir 'n vrou snags.”
Hamunyela staan soggens om 04:00 op om hout onwettig op omliggende plase bymekaar te maak en te verkoop.
“Die plaaseienaars hou nie daarvan dat ons die hout op hul plase bymekaarmaak nie, maar wat moet ek doen? Ek kry nie werk nie en die kinders is honger. Met die houtverkope kan ek darem 'n bietjie geld bymekaarmaak.”
Sy sê sy is nie van plan om in die komende verkiesing te stem nie.
“As ek stem, kom daar dalk 'n nuwe regering en miskien maak hulle Namibië beter as wat dit nou is. Die huidige regering sê net daar is geen geld nie en daar is niks wat hulle kan doen om dinge te verbeter nie. So alles sal net bly soos dit is.”
Mnr. Job Ananias (37) is 'n koerantverkoper wat op Okahao gebore is en het om dieselfde rede as Hamunyela Windhoek toe getrek. Hy het sy huis met twee ander mense gedeel.
“Die eienaar van die huis het Noorde toe getrek en die huis aan iemand verhuur wat maandeliks meer as ek kan betaal. Nou loop ek hier in Havana rond op soek na 'n stukkie grond waar ek my eie huis kan opsit. Ek het sinkplate en kan my eie huis bou – ek moet net 'n stuk grond kry.
“Ek oorweeg nog of ek moet gaan stem – dalk sal ek werk kry as ek gaan stem en dalk gaan die regering 'n kliniek hier in Havana vir ons bou as ek gaan stem. Ek dink nie dit gaan gebeur nie, maar miskien moet ek maar stem.”
Harambee
Mee. Daphney Games (47) en Susan Swartbooi (43) woon beide al meer as 25 jaar in Havana en is op Dordabis gebore.
Soos soveel ander mense het hulle ook Windhoek toe getrek op soek na werk om hul families te ondersteun.
“Stem vir wat? Die afgelope 20 jaar hoor ons beloftes dat ons water en ontwikkeling sal kry, maar ek sien niks. Dis net leë beloftes verkiesingsjaar ná verkiesingsjaar. Ek het geen hoop op verandering nie,” sê Games.
Volgens haar is hongersnood die grootste probleem in Havana.
“Hier is baie mense wat honger ly en ja, daar is talle wat by die Harambee-kosplan baat, maar dit word ook nie reg toegepas nie. Die mense kom byvoorbeeld in jou huis in en sien jy het meubels, dan word jy afgekeur omdat jy welaf is.
“Hulle weet nie jy het dalk die meubels van jou mevrou waar jy werk gekry nie, en dit nie beteken jy het kos nie. Ander mense baat daarby en verkoop kos in hulle cuca-winkels. Die hele program moet hersien word sodat die mense kan baat wat dit regtig nodig het.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie