Hartseer einde vir Antarktiese rob
Die verhaal van ’n ongewone besoeker, ’n jong Antarktiese pelsrob wat by Glentana in die Suid-Kaap uitgespoel het, het hartseer geëindig.
Dit is slegs die tweede keer dat so ’n rob aan ’n Suid-Afrikaanse strand uitspoel.
Die eerste keer was op 14 Junie 2016 aan die kus van Port Edward in KwaZulu-Natal. Die rob, Bear, is by die uShaka Marine World in Durban gerehabiliteer. Daarna het uShaka en die Bayworld-oseanarium in Port Elizabeth saamgewerk om hom vry te laat.
Volgens Tersia Marais van die Stranded Marine Animal Network Team (Smart), ’n organisasie wat hom beywer vir die redding en bewaring van seediere, is die jong rob op 31 Julie by Glentana opgemerk. Hy was swak en maer.
Twee Smart-vrywilligers, Val Marsh en Rene Hodges, het die rob gevang en na Smart se veearts, dr. Frans de Graaff in Hartenbos, geneem. “Hulle moes bontstaan, want in ’n stadium het die rob uit sy krat ontsnap terwyl hulle gery het,” sê Marais
IDENTIFISERING VAN ROB
De Graaff het vermoed dié is nie sommer net ’n gewone rob nie vanweë die rob se kleur en die vorm van sy kop. Dr. Greg Hofmeyr, mariene bioloog van die Bayworld-oseanarium, is geraadpleeg. Hofmeyr het die rob as ’n Antarktiese pelsrob (Arctocephalus gazella) geïdentifiseer.
Die rob is op 1 Augustus na Bayworld vervoer.
Ongelukkig het die verhaal hartseer geëindig, sê Marais. “Sylvester, soos die rob gedoop is, is op 6 Augustus dood. Tydens ’n outopsie het dr. Hofmeyr geen tekens van siekte gevind nie, maar daar word nog gewag vir die uitslag van patologiese toetse. “Ons weet nog nie waarom hy gevrek het nie. Hoekom die rob na ons kuslyn geswem het, bly ook ’n raaisel.”
Volgens Marais kom die Antarktiese pelsrob voor op verskeie sub-Antarktiese eilande. Die grootste kolonie is by die South Georgia-eiland in die suidelike Atlantiese oseaan sowat 5 000 km van Mosselbaai. Kolonies kom ook voor op die South Shetland-, South Orkney- en South Sandwich-eilande.
“Die robbe word deur oliestortings en verstrikking in nette bedreig. Hulle is natuurlike prooi vir moordvisse en haaie,” sê Marais. – Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie