Harold Pupkewitz, grootste onder die grotes

01 August 2002 | Politiek en nasionale nuus
OP sertifikate teen die mure van 'n nederige kantoor in Onafhanklikheidsrylaan staan geskryf dat Harold Pupkewitz se beleggings in die ekonomie van Namibië ongeëwenaar is. Op die lessenaar vanwaar hy die Pupkewitz-groep oor 'n tydperk van meer as sestig jaar help opbou het, lê vars bewysstukke van 'n skenking van N$2,5 miljoen wat hy enkele dae gelede op sy sewe en tagtigste verjaardag aan die mense van die land wat dit juis die nodigste het, gemaak het.
Dis in dié kantoor en by dié lessenaar met sy hope netjies gerangskikte dokumente waar Republikein hierdie besigheidslegende se druk werkprogram onderbreek het vir 'n onderhoud pas nadat hy die Pupkewitz Stigting met 'n beginkapitaal van N$2,5 miljoen bekend gemaak het.
Die woorde 'energie en deursettingsvermoë sal alles oorwin' op 'n volkleur plakkaat kry nuwe mening wanneer Harold Pupkewitz by die lessenaar kom sit. Dis lank ná vyfuur en hy het reeds 'n vol werkdag agter die rug.
Maar daar is geen teken van moegheid wanneer sy flink sakebrein elke vraag van die koerant met die wysheid van die jare beantwoord nie. Ook nie wanneer hy teruggevat word op die spoor van 'n lang en vrugtevolle loopbaan nie. Die datums ken hy uit sy kop. Jaar, maand en dag. Net soos hy nog syfers kan aframmel en vinniger as 'n optelmasjien kan bybly.
Harold Pupkewitz sê wat hy bedoel en hy bedoel presies wat hy sê. Dit is dié integriteit wat sedert sy kinderdae in die Harold Pupkewitz-karakter ingebou is en dit is wat van hom waarskynlik die grootste sakeman van die land gemaak het.
Is daar 'n geheime Harold Pupkewitz-resep vir soveel welslae, soveel menslikheid en sulke besondere goeie gesondheid op sewe en tagtig?
"As klein seuntjie het elke aand gebid dat ek 'n goeie, gesonde en doelgerigte lewe sou hê. Ek het vroeg geleer dat dissipline die wagwoord in die lewe is. 'n Gesonde verstand en 'n gesonde liggaam bring al die positiewe energie bymekaar wat 'n mens in staat stel om jou God-gegewe talente tot voordeel van jouself en jou medemens in te span. My kindergebede is beantwoord, danksy my onwrikbare geloof as ortodokse Jood en daarvoor is ek dankbaar. Daarby het ek goeie en sterk gene van my pa geërf met familielede aan vaderskant wat meer as negentig jaar oud geword het."
Maak Harold Pupkewitz gereed om af te tree?, wou Republikein weet.
"Ek is al geruime tyd besig om af te skaal met die oog op my aftrede, maar wanneer dit gaan gebeur, weet ek nie," sê mnr. Pupkewitz wat juis tydens die onderhoud besig was om 'n nuwe maatskappy-beleidsdokument saam te stel.
Harold Pupkewitz se beleid is om nooit terug te kyk nie. Altyd vorentoe. Daarom het hy nog soveel om te doen voordat hy aftree.
Maar wanneer hy gevra word om terug te stap op sy lewenspad kom dit met groot helderheid, insig en wysheid.
Harold Pupkewitz se verhaal begin op 14 Julie 1915 in Vilnius, die sogenaamde Jerusalem van die Jode in Oos-Europa. Dit is nou die hoofstad van Litaue. (voorheen Pole).
Mnr. Pupkewitz onthou nog goed hoe hulle as Jode vervolg en geïntimideer is. "Ek en my broers Morris en Julius moes gereeld met selfgemaakte wapens ons pad oopveg om te oorleef."
Mnr. Pupkewitz se pa het juis oor die Joodse vervolging in die destydse Suidwes-Afrika beland. Vanaf 1902 het hy 'n wamakersonderneming op Okahandja bedryf. Eers tien jaar later sou hy terugkeer om sy ouers te besoek. Toe ontmoet hy sy vrou en keer kort daarna sonder sy familie terug na Okahandja. Gemotoriseerde voertuie het intussen hul verskyning begin maak en sy wamakerydae was getel. Om geld in die hande te kry om sy familie in Oos-Europa te gaan haal, het hy 'n algemene handelaarswinkel in Windhoek begin. Toe Harold Pupkewitz nege jaar oud was, het sy vader hom , sy twee broers en sy moeder gaan haal en op 1 Maart 1925 in Suidwes aangekom. Die Pupkewitz-familie was vry van vervolging en diskriminasie oor hul geloof en Suidwes-Afrika was soos die paradys ná hul traumatiese ondervinding in hul geboorteland. "Dit was wonderlik om so vrylik te kon rondbeweeg en met mense van alle gelowe te assosieer."
Die jong Harold het sommer vroeg groot belangstelling in die sake-onderneming getoon.
"Ná skool het ek middagete geniet, 'n bietjie gerus en dan oor die straat gestap om by my pa se winkel by Ausspanplatz te haan help. Huiswerk het ek saans by die lig van 'n paraffienlamp gedoen."
In daardie belangrike fase van sy kinderjare het die dissipline en orde van 'n volwasse Harold Pupkewitz al begin vorm aanneem. Ondanks sy druk program op skool en by die winkel het hy met deeglike beplanning sy deelname aan verskeie sportsoorte begin. Die jong Harold het uitgeblink in naellope op die atletiekbaan en was ook 'n goeie hoogspring en verspringatleet. Om sy veelsydigheid te beklemtoon, het hy ook gereeld vir die skool se eerste rugbyspan uitgedraf en tussendeur ook sokker gespeel en boonop uitgeblink in swem. Asof dit nie genoeg was nie, het hy ook begin met amateurstoei en verskeie trofeë was die bewyse van sy krag, vaart en vernuf waarmee hy sy teenstanders uitoorlê het. Tussen 1942 en 1962 het hy ook aktief aan perdesport as ruiter en later afrigter deelgeneem.
Toe het 'n donker tydperk soos 'n skaduwee oor sy lewe geskuif. Harold Pupkewitz se sig het agteruitgegaan weens katarakke in sy oë. So erg het dit geraak dat hy uiteindelik net sowat vyf persent sig in sy regteroog sou behou. Dié situasie is eers in 1976 verbeter met 'n operasie. Toe kon hy weer sy volle aandag by die werk bepaal, maar die skade was gedoen en hy sê dit was een van die groot terugslae in sy lewe.
Maar voordat hy met sy loopbaan kon begin, moes die jong Harold eers sy matriek voltooi. Dit het hy in 1932 aan die Hoërskool Windhoek gedoen en toe 'n beurs aanvaar en aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer. Daar sou hy in 1935 maar die tweede student in die geskiedenis van die universiteit word om sy B.Comm-graad met lof te verwerf. Byna twee jaar se werk in Kaapstad het gevolg en in Oktober 1937 het hy teruggekeer na Windhoek om hom by sy pa se sake-onderneming aan te sluit.
'Dit was 'n klein en nederige begin, maar die winkel het uitgebrei weens ons beleid om in die behoeftes van ons klante te voorsien. Aanvanklik was die hoof-besigheid van die winkel klerasie en kruideniersware, maar dit sou geleidelik uitgebou word."
Dit was juis in daardie jare dat die Pupkewitz-onderneming sy sterk bande met die Afrikaner-gemeenskap van die land gesnoei het. Mnr. Pupkewitz sê weens die droogtes en depressie was menige van die arm Afrikaner-boere op hul knieë. Die mense het groot kliënte van die Pupkewitz-winkel geword omdat 'n krdietstelsel ingestel is in 'n poging om hulle in hul moeilike tye te help. Dié voorreg was die arm boere nie beskore by die groter Duitse ondernemings nie en die Pupkewitz-familie het gou as geldskieters begin optree.
Mnr. Pupkewitz sê dié beleid van sy ouers het veroorsaak dat die gesin teen 1939 self byna ondergegaan het. "Maar die mooi van dié verhaal is dat die boere die skuld begin terugbetaal het toe dit met hulle beter gegaan het. Uiteindelik is elke sent van hul skuld vereffen.
In dieselfde tydperk het boere 'n afsetgebied vir hul huide en velle gesoek. Die winkel het, afhangende die voorkeure van die boere, die huide en velle vir kontant of krediet gekoop. Die boere het op hul beurt mieliegruis, hawer, veevoere, veeartseny-medisyne en implemente nodig gehad wat die winkel aangeskaf het. Dit het tot 'n toename in voorraad en personeel gelei wat 'n groter winkel met 'n groter omset tot gevolg gehad het.
Intussen het sy vader met die verkoop van die boere se huide en velle 'n karakoelpels-onderneming begin. Mnr. Pupkewitz se jonger broer Julius sou later die onderneming onder sy vlerk neem en uitbrei tot die grootste enkele wolhandelaar in die land.
In 1942 het die Pupkewitz-gesin hul ondernemingsgees platteland toe gevat met 'n tak op Kalkrand. Julius het dit behartig en hom op Kalkrand gaan vestig. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het mnr. Pupkewitz se ouer broer Morris hom by die geallieerde magte aangesluit en vir ses jaar in Europa teen Duitsland geveg.
Dit was juis die oorlogjare wat die entrepreneurskap van Harold Pupkewitz na vore gebring het. Weens die oorlog en die nypende tekort aan algemene verbruikersgoedere het hy voorrade in Suid-Afrika gekoop en dit plaaslik van die hand gesit.
Ná die oorlog sou hy sy sakevernuf weer uitstal toe honderde soldate na die land teruggekeer het. Die jong manne wou 'n nuwe begin in die lewe maak en het hulle op plase gevestig. Mnr. Pupkewitz het die leiding geneem en duisende rolle draad ingevoer om die plase te omhein.
In 1946, nege jaar voor sy pa se dood, het die drie broers aandeelhouers van die onderneming M. Pupkewitz General Dealers
geword en is die naam van die maatskappy na M. Pupkewitz $ Sons verander.
Om in die groeiende behoeftes van boere te voorsien, het mnr. Pupkewitz in dieselfde jaar die onderneming Algemene groothandelaars (Edms.) Beperk gestig. Beenmeel, beenfosfaat en hout is op aansienlike skaal ingevoer. Die beenmeel het uit die Nerderlande gekom en die hout is tot in 1974 uit Kanada ingevoer.
Ook in dieselfde jaar is die onderneming gestig wat in boumateriale sou voorsien en in 1954 het 'n meubelwinkel gevolg. Die meubelwinkel het in 1996 sy deure gesluit.
Mnr. Pupkewitz het later ook die moontlikhede van die groeiende motorhandel besef en dié mark betree deur die tantieme vir die verspreiding van Volvo-motors te bekom. In 1976 het hy ook die tantieme vir Toyota-voertuie en Hino-vragmotors bekom en die Pupkewitz Toyota en Pupkewitz Nissan-groep het intussen gegroei tot die grootste enkele voertuighandelaar in die land.
In 1949 het mnr. Pupkewitz begin werk aan sy droom om 'n reeks winkels landwyd te vestig. Eerste op die lys was 'n tak op Outjo (sedertdien gesluit) en toe het 'n tak op Walvisbaai gevolg. Die winkelruimte op Walvisbaai was aanvanklik te klein vir die voorrade wat per skip afgelaai is en die groep het spesiale teostemming gekry om regstreeks uit die hawe handel te dryf. In 1952 het die naam Pupkewitz sinoniem geraak met gehaltediens op die platteland nadat takke op Keetmanshoop, Grootfontein en Otjiwarongo en later op Gobabis en Aranos geopen is.
Die jaar 1952 was ook in 'n ander opsig een van die hoogtepunte van sy lewe toe hy met Evelyn Etta Meyerovitz getroud is. Uit die huwelik is twee kinders, Merryl en Tony, gebore.
Intussen het Julius se onderneming ook gegroei en satelliettakke het op Kub-, Duineveld-, Tsumis- en later op Rehoboth-stasies verrys.
Tussen 1954 en 1969 was die onderneming ook die agente vir Allis Chalmers-grondverskuiwingstoerusting, John Deere-landboumasjienerie, Springbok-windpompe en Banford-enjins. Tussen 1946 en 1985 het die besige Harold Pupkewitz ook nog kans gesien vir die begin van 'n boerdery op die plaas Us aan die oewer van die Kuisebrivier. Tussen 1937 en 1999 was hy ook 'n aktiewe lid van die Windhoekse Sakekamer.
In 1981 is nog 'n droom verwesentlik met die stigting van Pupkewitz Holdings, die sambreelorganisasie van die onderskeie filiale.
Mnr. Pupkewitz het ondanks sy druk werkprogram deur die jare betrokke geraak by verskeie organisasies en het 'n string toekennings in sy lang loopbaan ontvang.
Sy passie bly egter die Namibiese ekonomie. Hy het ook 'n besondere sagte plekkie vir opvoeding en onderrig en is 'n kampvegter vir die uitwissing van armoede. Dit was juis die dryfveer agter die Pupkewitz Stigting.
"Die doeltreffende toepassing van die beleid van rekonsiliasie in elke sfeer van die samelewing is lotsbepalend vir Namibië en 'n groeiende ekonomie om toenemend die vrugte te pluk van beter geskoolde werkers op die weg na 'n gelyke ekonomiese bestel," sê hy.
Volgens hom is die bemagtigingsproses van voorheen afgeskeepte inwoners van die grootste belang, maar is dit ongelukkig 'n lang proses wat begrip en geduld van almal verg. "In hierdie stadium, veral, is dit belangrik dat alle rolspelers in die ekonomie dieselfde doelwitte najaag en is 'n staatsman-besef belangriker as 'n partypolitieke sakelys."
Hy sê die ekonomie van die land is erg afhanklik van die wêreldekonomie en Namibië voer meer as sewentig persent van alle lewensmiddele in. "Daarom is dit van die allergrootste belang dat ons bates soos die diamantbedryf, visbedryf en mynwese en nywerhede soos goud bewaar en dit vertroetel."
"In die proses moet ons beter opgeleide mense in top-posisies aanstel. Kundige en bekwame mense met integriteit en karakter wat hulpbronne produktief sal benut en beskerm en dit nie vir eie gewin sal uitput nie."
Mnr. Pupkewitz is 'n filantroop wat sy maatskaplike verpligtinge en verantwoordelikhede met die grootste erns bejeën. Sedert sy sewentigste verjaardag skenk hy elke jaar tiensduisend Namibiese dollar van sy persoonlike inkomste vir maatskaplike welsyn ten einde minderbevoorregtes, gestremdes en siekes by te staan en 'n bydrae tot onderwys en opleiding te lewer. Dit is ook die primêre doel van die nuwe Pupkewitz Stigting wat met N$2,5 miljoen begin is en elke jaar met 'n halfmiljoen dollar aangevul sal word. Daarby is sy groep op 'n deurlopende grondslag betrokke by hulpverlening aan meer as veertig organisasies.
Nog 'n teer sakie vir die sakereus is die nouer skakeling tussen die Regering en die private sektor. Hy glo die saambring van die kundigheid van die twee sektore is net tot groot voordeel van die land en daar behoort strukture te bestaan waar hulle saam besprekings hou.
"Ons het mos almal dieselfde doelwitte en dit is om armoede uit te wis en aan ons mense beter opvoeding te lewer. Ons strategieë mag dalk verskil, maar ons doelwitte nooit nie. Daarvoor moet daar toenemend groter begrip vir mekaar bestaan sodat 'n beleid nagevolg kan word van die minste steurings van die ekonomiese omgewing en sodat die minste moontlike probleme op die weg na 'n volwaardige gelyke bestel ondervind sal word."
Dis laataand toe Harold Pupkewitz die laaste vrae van die onderhoud beantwoord.
By die deur verwag jy dat hy aan die einde van die dag en ná 'n sarsie koerantvrae ook by die brandtrap die gebou sal verlaat om by die huis te kom.
Maar veertien ure op kantoor is niks nuuts vir hom nie. Met die groetslag staan hy met 'n pak dokumente onder sy arm.
""My vrou hou nie altyd van die werk wat ek huis toe bring nie, maar ek sal vanaand nog dié verslag moet voltooi."
En as jy aan die onderpunt van die brandtrap opkyk na die silhoeët van Harold Pupkewitz afgeëts teen die kantoor se buisraamlig, weet jy jy het 'n paar uur in die geselskap van een van die heel grootste seuns van Namibië deurgebring.

MNR. Harold Pupkewitz, die uitvoerende voorsitter van Pupkewitz Holdings, beklee op sewe en tagtigjarige ouderdom steeds verskeie posisies in organisasies buite sy werkverband. Hy is sedert 1985 die lewenslange ere-president van die Windhoek Hebreeuse Gemeente, sedert 1998 die president van die Namibiese Werkersfederasie en sedert 1997 'n lid van die President se Advieskomitee. Hy is ook sedert 1992 'n direkteur van Telecom en vanaf 2000 voorsitter van Telecom se ouditkomitee.
Ander poste wat hy beklee het, sluit in:
o voorsitter van die NamPower-direksie (1996 - 2000);
o direkteur van NamPost (1992 - 2000);
o direkteur van Mobile Telekommunikasie (1996 - 2000);
o direkteur van Namib Airlines en Air Namibia (1980 - 1988);
vise-president en mede-stigter van die Private Sektor Stigting (1980 - 1998);
o voormalige president van die Sakekamer en het in 1987 'n toekenning as erelid vir vyftig jaar se diens ontvang. Was ook vir etlike jare die segspersson van die Sakekamer rakende geldsake en beleidsaangeleenthede;
o gewese president van die Instituut vir Ekonomiese Aangeleenthede se Windhoek-tak;
o voormalige president van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Ekonomiese Aangeleenthede van SWA/Namibië. Het ook die Sakeman van die Jaar-toekenning in 1986 losgeslaan;
o voormalige president van die SA Instituut vir Internasionale Aangeleenthede se Windhoek-tak;
o voormalige waarnemende president van die Namibiese Instituut vir Internasionale Aangeleenthede;
ogewese president van die Windhoek Hebreeuse Gemeente;
ovoormalige president van die SWA Amateur-swemvereniging;
o gewese rentmeester van die Windhoek Perdeklub.
Hoogtepunte uit die lang loopbaan van mnr. Pupkewitz sluit in:
o 'n lid van die Buitelandse Valutabeheerkomitee (1948 tot 1954);
o 'n lid van die Karakoelwolraad (1954);
o 'n lid van die Administrateur-generaal se adviesraad (1979);
o spreek die Universiteit van Kaapstad se besigheidskool toe oor die "ekonomiese toekoms van SWA/Namibië soos gesien deur die denkende sakeman" (1979);
o'n lid van die afvaardiging van die sakekamer na die sosio-ekonomiese ontwikkelingsberaad van die Administrateur-generaal (AG) (1982 en weer in 1984);
o word deur die Sakekamer afgevaardig na die AG se komitee om sy bydrae getitel "Strategy for the development of SWA/Namibia" en ander hoofstukke in 'n dokument oor handel en nywerheid te skryf (1984 - 85);
o word 'n lid van die Presidentskommissie oor Onderwys (1990);
o skryf 'n dokument getitel "Proposals for the Future Economic Order of Namibia" vir die Konrad Adenauer Stigting (1991);
o lewer 'n bydrae getitel "Free market Economy versus A Central Command Economy" by die Konrad Adenauer Stigting se simposium by Mokuti Lodge (1993);
o stel 'n dokument vry oor die private sektor se persepsie van die rol van vakbondunies (1995);
o maak 'n bydrae met "Perceptions and Performance of Government and Opposition in Namibia by 'n simposium van die Namibiese Instituut vir demokrasie (1996);
o lewer 'n toespraak met die titel "The State of Labour Relations in Namibia" by 'n byeenkoms wat deur die Friedrich Ebert Stiftung aangebied is (1997).
Sedertdien het hy verskeie artikels geskryf en deelgeneem aan radio- en televisieprogramme oor ekonomiese-, fiskale-, begrotings- en sosio-ekonomiese aangeleenthede.
Persoonlike hoogtepunte was:
o sy geslaagde aanbieding van Namibië se saak aan die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger om die land se buitelandse wisselkwota met 25 persent te verhoog (1948);
o ontmoet president Bill Clinton en lede van die Amerikaanse kongres as deel van President Sam Nujoma se afvaardiging na die VSA (1993);
o ontmoet al die eerste ministers van die Skandanawiese lande as deel van President Sam Nujoma se afvaardiging (1993);
o spreek 'n vergadering van die Verenigde Nasies se komitee op ontwikkeling toe oor ontwikkelingshulp aan Namibië (1994 -95);
o spreek die Wêreld Ekonomiese Forum in Windhoek toe oor "Entrenchment of the Rule of Law." (1998);
o ontvang die PMR goue-toekenning vir die beste ongelysde maatskappy in Namibië. (1999);
o ontvang die PMR diamant-toekenning as die mees gerespekteerde sakeman onder korporasies, die Regering en vakbondunies. (2001);
o ontvang die uitvoerende voorsitter se verdienstetoekenning van Toyota in Suid-Afrika (2002).

Soortgelyk

 

Hepatitis E woed landswyd voort

16 ure gelede | Ministeries

Henriette Lamprecht – Kort duskant ‘n jaar ná ‘n uitbreking van hepatitis E amptelik in Desember 2017 in Windhoek verklaar is, is byna 4...

Nuwe plan teen misdaad onthul

16 ure gelede | Misdaad

Denver KistingRooftogte, veral gewapende rooftogte, het in die afgelope ses jaar met 44% die hoogte in geskiet.Dié syfer is vervat in misdaadstatistieke van die afgelope...

Hittegolf rý Namibië

16 ure gelede | Weer

Ondangwa is vandag die heel warmste plek met ‘n verwagte maksimum temperatuur van 41°C. Boonop word geen verligting van snikhete temperature hierdie naweek verwag nie....

SOE’s: Direksies moet vir mislukkings pa staan

16 ure gelede | Ministeries

Ronelle Rademeyer - Voor staatsondernemings (SOE’s) nie prestasiegedrewe volgens goeie korporatiewe beginsels bestuur word nie, sal die ekonomie nie beter vaar nie.Daarom sal die vergoeding...

Weer, Vrydag 16 November 2018

16 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en bloedig warm in die Suide. Elders sal dit gedeeltelik bewolk en bloedig wees. Enkele donerbuie word in Otjozondjupa, Khomas en Omaheke verwag.KUS:...

Kalender 16 November

16 ure gelede | Kuns en vermaak

Nou aan die gang» Die Nasionale Kunsgalery van Namibië (NAGN) bied met trots die 2018 Unam Visuele Kunste-uitstalling aan, wat tans in die hoofgalery van...

Die misterie van poësie

16 ure gelede | Kuns en vermaak

Lloyd Zandberg Terwyl die meerderheid van die mensdom soggens teen die wekker stoei, kinders vir skool aantrek, die hewige verkeer aandurf en uiteindelik laat vir...

Ons is nie teen gays, sê Sioka

16 ure gelede | Ministeries

Denver Kisting – Die minister van geslagsgelykheid en kinderwelsyn, me. Doreen Sioka, sê die regering het niks teen gay mense nie.Sý veral diskrimineer nie teen...

Mense oor miltsiekte gewaarsku ná 2 uitbrekings

16 ure gelede | Gesondheid

Ronelle Rademeyer - ’n Bewegingsverbod vir diere is by Sesfontein en die Bwabwata Nasionale Park ingestel nadat uitbrekings van miltsiekte op 1 November in dié...