Hagar ‘eintlik ons almal se storie’

10 August 2018 | Kuns en vermaak
Henriette Lamprecht - Sy’s ’n plaaskind wat op Keetmanshoop nes geskop het waar sy vakmanne by die Namibiese Instituut vir Mynbou en Tegnologie (NIMT) oplei, Engels gee en boonop die biblioteek op kampus behartig.

Martha Poller, “’n plaaskind diep uit die Namib”, is egter ook ’n skrywer wat onlangs met haar Bybelroman Hagar gedebuteer het.

“Ek kom van Maltahöhe af en in my hart sal ek maar altyd ‘n kind van die Namib bly,” gesels Martha per e-pos.

Hulle het op ’n plaas gebly en “daar was geen vermaak nie”.

Maar op ’n dag tydens ’n vakansie kry Martha die hele Saartjie-reeks as geskenk van haar ma, “die slimste ding wat sy ooit kon doen” – en haar onophoudende leesreis begin.

“Ek het later elke boek op my pa se boekrak gelees. Om te lees, plaas jou in ’n heel ander wêreld.”

Bedags het “ons kinders elkeen ons eie takies gehad”, maar snags was dit Martha en haar boek wat sy by ’n paraffienlampie gelees het.

As kind was sy baie in haarself gekeer, erken Martha. Sy het moeilik met mense gekommunikeer en het verkies om “liewer alleen te wees”.

Die stories in boeke was vir haar ‘n groot ontvlugting en ’n manier om te “oorleef in ‘n wêreld wat soms vir my baie bedreigend was”.

Self is sy ’n keer of wat deur die lewe ’n “paar klappe toegedien”, vandaar haar hart vir stukkende mense.

“Ek is lief vir mense, maar ek kan ook baie maklik in my hoekie gaan sit en met my eie gedagtes besig wees,” erken sy.

Haar man reken sy is ’n ewige optimis, omdat sy verkies om altyd die beste van ’n situasie te verwag. Sy het ’n ondersoekende gees, glo nie sommer ’n storie nie en sal altyd probeer om by die wortel van die saak te kom, vertel Martha.

“Dit is dalk die rede waarom ek uiteindelik Hagar geskryf het en soveel navorsing gedoen het. Navorsing wat toe glad nie soos werk gevoel het nie, maar eerder my nuuskierigheid bevredig het!”

Mense wat lees, vertel graag stories, sê sy en haar heel eerste “storie-uitdaging” was op laerskool. ’n Klasonderwyser het gevra elk van die leerlinge moet vir hom ’n storie skryf en hoewel sy baie opgewonde was, het sy nie tot skryf gekom nie.

“Die rede? Ek het nie geweet hoe moet die storie ‘lyk’ nie. Dit mag dalk vreemd klink, maar dit is ook die rede waarom ek eers op 63 my eerste boek gepubliseer het!”

Op hoërskool het sy saans in die koshuis ná “ligte uit” vir haar kamermaats stories vertel en nie sommer “nee” gesê wanneer sy vir vriende hul opstel moes skryf nie.

Mettertyd het sy met skryfsels op alles van papiertjies en die rekenaar tot in boeke begin.

“Oral was skryfseltjies, ek het voortdurend hierdie intense honger gehad om dit te kan publiseer.”

Omdat sy nie graag in die bondel kuier nie, is ’n een-tot-een gesprek vir haar “die lekkerste manier van kuier,” erken sy.

“Ek hou daarvan om mense te probeer ‘lees’, hoewel ek nooit sal erken dat ek dit doen nie. Dit gee dikwels vir my die onderwerp vir my volgende blog.”

Een woord, een gedagte wat ’n storie uitbroei, sê sy.

Keetmanshoop is al vir meer as drie dekades haar tuisdorp waar sy eens ’n onderwyser was. As voltydse dosent aan NIMT, is haar skryftyd maar meestal snags.

“Ek is ‘n regte nagwolf en die stilte van die nag verrig wondere vir ‘n skeppende gees.”

Dit was haar oudste dogter wat daarop aangedring het sy moet ’n blog begin.

“Sy skryf self ook en besef die waarde daarvan.”

’n Jaar terug deel Martha “so half sku” haar eerste blog-inskrywing op Facebook. Tot haar verbasing is daar ’n hele klompie van haar vriende wat dit lees en “selfs positiewe kommentaar gelewer het!”.

En net daar byt die gogga toe behoorlik! Sy het wel lank gelede by ’n skryfskool ingeskryf, maar “liederlik misluk”, erken sy.

“Ek kan nie ‘n storie ‘in opdrag’ skryf nie. Die storie word in my kop gebore en dan moet ek dit bloot op papier kry, so maklik soos dit.”

Om ‘n blog te skryf en om ’n roman te skryf, is wêrelde van mekaar verwyder, erken Martha. Sy het ook nog altyd nie geweet hoe haar storie moet “lyk” nie. Op ’n aand skraap sy genoeg moed en vrae bymekaar om by die bekende skrywer Annelie Botes te hoor of haar boek “sus” of “so” kan lyk.

Haar antwoord was kort en kragtig: “Dit is jóú boek en jy mag met hom maak nét wat jy wil.”

“Wat ‘n openbaring! Ek besef toe Annelie se boeke verskil ook so totaal van ander skrywers s’n en dit juis die rede is waarom ek so mal is oor haar boeke. Net daar is die aspirantskrywer Martha gebore!”

Haar eerste boek, Tuiskoms, is die pennevrug van inskrywings uit haar blog. Met verwysing na haar jongste boek vertel Martha sy het soos die meeste Afrikaanssprekendes in Namibië met die kerk, Sondagskool en Kinderkrans grootgeword.

“Daar is soveel vrouens in die Bybel, maar nie een van hul stories het my ooit so gepla soos dié van Hagar nie. Wanneer ek van haar gehoor of dit self gelees het, het ek so ‘n ongemaklike gevoel in my hart gekry. Sy het my gepla. Haar omstandighede het my gepla.”

Hoewel sy niks van daardie tyd se wette en gebruike geweet het nie, het Martha in haar hart gevoel sy het ’n baie moeilike lewe gehad.

“Is dit dalk omdat ek soveel empatie met ander mense het? Miskien, miskien nie.”

Toe sy van ‘n groot romankompetisie lees, besluit Martha om in te skryf en dat haar boek oor Hagar sou gaan.

“Ek besef nou ek was eintlik vreeslik vermetel om in te skryf en nog te glo ek het ‘n kans om te wen ook!”

Martha vertel Hagar was Sara en Abraham se Egiptiese slavin.

Sara was kinderloos en het besluit Abraham moes by Hagar ‘n baba hê.

“Hoewel God vir Abraham meer as een keer beloof het sy nageslag sou meer as die sterre aan die hemel wees, was hul geloof te klein om dit te glo.

“Abraham en Sara was al albei baie oud en hulle wou of kon nie langer wag nie.”

Die verhouding tussen Sara en Hagar is haglik en die swanger Hagar loop weg. Hagar sterf amper in die woestyn en God stuur haar terug na Sara, waar Hagar en Abraham se seun Ismael gebore word. Ismael word as sy pa se erfgenaam beskou, totdat Sara uiteindelik ook aan ’n seun, Isak, geboorte skenk.

“Ismael en Hagar is nie meer ‘nodig’ in hul huishouding nie en hulle word woestyn toe verjaag.”

Wat haar nog altyd gepla het, was die feit dat een mens ’n ander met soveel minagting kan behandel, erken Martha.

“Hagar was onder meer die slagoffer van mishandeling (deur Sara) en uitbuiting toe sy haar baba vir ander mense moes dra. Die oomblik toe sy haar doel gedien het, moes sy maar haar goedjies vat en loop. Dit is mos onmenslik, is dit nie?”

Hoewel die Bybel Sara en Abraham as voorbeeld van hul geloof noem, bly bogenoemde vir Martha ’n menslike fout waarby sy nie verby kon kyk nie. Sy erken ook dat dit ’n opinie is waaroor “die kerkmense my sal wil stenig!”.

Sy kon haar “geheel en al” met Hagar vereenselwig, sê Martha.

“Sy het voortdurend gesmag na erkenning, maar het dit nooit gekry nie. Sy het nooit geweet waar sy hoort en wie sy is nie. In die paleis het sy nie eers ‘n naam gehad nie, sy was slegs bekend as ‘die vrou’. Sy is verkoop (sommige bronne beweer sy was ‘n geskenk) aan Abraham. Watter waarde het ‘n slaaf gehad in daardie tyd?”

Eers ná ‘n tweede ontmoeting met God in die woestyn het Hagar besef sy is waardevol en dat Hy haar by die naam ken.

“Hoewel hierdie glad nie ‘n godsdienstige boek is nie, is die draad dwarsdeur die boek dat Hagar soekend is en uiteindelik dan tog by haarself (en God) uitgekom het.”

Dit is dan ook vanuit dié hoek wat Martha die boek probeer benader het - elkeen het waarde, elkeen se naam is aan God bekend, of jy dit nou wil glo of nie. God het selfs ook Ismael se naam vir hom uitgesoek.

Hoewel sy geglo het net vrouens sal die boek lees, kry sy ook goeie terugvoering van mans.

“Ek glo dit is omdat almal kan vereenselwig met die karakters in die boek. Op die oomblik word dit ook daagliks op Kanaal 7 voorgelees – iets wat ‘n ontsettende eer vir my is!”

Martha is tans met ’n “baie moeilike stuk werk” besig.

“‘n Vriendin is op 37 ná foutiewe behandeling by ’n tandarts met Parkinsons gediagnoseer. Ek dien slegs as ’n spookskrywer en hoop om met die geld wat ingesamel word, haar lewensstandaard te verhoog.”

Vir aspirantskrywers het sy net een ding te sê: Moenie wag nie, skryf!

“Daar is geen rede op aarde waarom jy nog nie begin skryf het nie. Hou ook net op om ‘fensie’ te probeer skryf. Mense hou daarvan om te lees soos jy praat. Vat nou maar ‘n woord soos ‘njammies’, wat ‘n lekker woord is dit nie! Wat sou Ismael byvoorbeeld verhoed het om vir sy ma te sê die dikmelk is njammies?”

Sy is al gevra wat sou sy op haar grafsteen in skrif wou hê die dag wanneer sy nie meer op die ondermaanse is nie. Dit is ‘n gedagte wat ‘n mens lank en diep kan laat dink, erken sy. En laat staan met “Sy het liefgehad”, want dan het sy vir seker haar doel op aarde bereik.





??Resensie deur Heleen Malherbe van Malherbe Uitgewers.

Jy sal sien dat ek my naam en van met kleinletters skryf. Dit is met opset so gedoen. Dit gaan hier vir my nie om myself nie, maar om die storie wat ek die wêreld in wil stuur.

Soortgelyk

 

Internasionale ruimtestasie vlieg oor Windhoek

2 ure gelede | Omgewing

Die internasionale ruimtestasie sal vanaand omstreeks 19:41 vir ‘n hele vier minute lank met die blote oog vanaf Windhoek sigbaar wees.Dit is nou ás weerstoestande...

Padveiligheid dié naweek hoog op polisie se agenda

3 ure gelede | Polisie

Met die skole wat Vrydag gesluit het en die Heldedag-langnaweek wat voorlê, het die polisie opnuut ‘n beroep op motoriste gedoen om veilig te bestuur...

Polisie ondersoek optrede van kerk in Katutura

5 ure gelede | Polisie

Augetto Graig - Die Namibiese polisie doen tans ondersoek by die kerk van die Fountain of Living Waters Ministries in Freedomland, Katutura, waar ten minste...

Polisie ondersoek optrede van kerk in Katutura

5 ure gelede | Polisie

Augetto Graig - Die Namibiese polisie doen tans ondersoek by die kerk van die Fountain of Living Waters Ministries in Freedomland, Katutura, waar ten minste...

25 jaar, al het Zenobia berou

17 ure gelede | Howe

Ronelle Rademeyer - Met haar hande wringend op haar skoot het die 34-jarige Zenobia Seas Vrydag in hofsaal E in die hoërhof in Windhoek geluister...

Geingob dek neutrale tafel

17 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting – Prof. Nico Horn, ’n regsdosent en politieke onleder, sê hy is nie verras oor hoe die afgelope beraad van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap...

Mans in Windhoek doodgesteek

17 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting Twee mans is in afsonderlike­ voorvalle die afgelope naweek in Windhoek met skerp voorwerpe dood­gesteek.Hiernaas is vier verdagtes op die toneel aangekeer toe...

Weer, Maandag 20 Augustus 2018

17 ure gelede | Weer

BINNELAND: Sonnig en matig in die Suide en sentrale gebiede. Elders sal dit sonnig en baie warm wees. Winderige toestande sal oor die binneland heers.KUS:...

Jakkals kom sy luiperd teë

17 ure gelede | Omgewing

Elvira Hattingh - Besoekers aan die Kgalagadi-oorgrenspark het onlangs die skaars voorreg gehad om te sien hoe ‘n luiperd ‘n jakkals vang en in ‘n...