Haaie herrys uit die as teen Australiese Rebels
Die Haaie is die afgelope week in een van die dagblaaie daarvan beskuldig dat hulle “geestelik sag” is.
Marnus Kok
Dalk het die KwaZulu-Natallers dit gelees kort voordat hulle die Rebels Saterdag in hul Superrugby-wedstryd met 28-14 in Durban geklop het.
Maar moenie dink die Haaie het heeltemal die teendeel bewys en 80 minute lank uitgehaal en gewys nie. Inteendeel, in die eerste helfte sou 'n mens ondersteuners kon verskoon het as hulle by tye die vloeistof in die glas in hul hand met een teug weggesluk het. En 'n kragwoord agterna gegooi het.
Toe Dan du Preez vroeg in die wedstryd vir die Haaie oorgeduik het, het dit gelyk of die tuisspan daardie berig in die dagblad as motivering gesien het. Die tuisspan het lus gelyk om die Rebels fisiek te pak en 'n groot pak slae uit te deel. Maar toe raak hulle weer weg.
Die Haaie het veral in die tweede helfte meer konstant goed gespeel. Kort ná rustyd het die Rebels op hul doellyn geboer, maar deurkomkans was min. 'n Pluimpie vir die Haaie.
Die ding van die Haaie is egter dat hulle onstuitbaar sal wees as hulle daarin slaag om 80 minute lank briljante rugby te speel. Wanneer die Haaie op hul beste is, is die agtsteman, Dan du Preez, onstuitbaar, sy broer, Robert, 'n generaal en die vleuel Makazole Mapimpi propvol lopies.
Diegene wat daardie Australiese stoutseun Quade Cooper se kulkunsies met die bal in die hand ken, sou effens teleurgesteld gewees het dat hy nog nie (indien ooit weer) op sy beste is nie. Dis nie dat hy nie wil nie. Hy het immers gereeld opgeduik en nie weggeskram nie. Maar die wedstryd op sy kop gegooi? Stadig nou.
En sy direkte teenstander, Robert du Preez? Behalwe vir 'n direkte uitskop was hy uitstekend. Hy het die bal goed versprei en met 'n slim skoppie of twee gewys dat hy 'n wedstryd kan lees en nie net 'n robot is nie.
Akker van der Merwe, die Haaie se haker, was oudergewoonte 'n bielie met die bal in die hand, maar hy het weer 'n keer skeef ingegooi by 'n lynstaan. Maar is dit genoeg om hom te kruisig? Beslis nie, maar dit is 'n lastige fout wat sekerlik uitgestryk kan word.
En voordat die Haaie se lof te veel besing word, is dit onverskoonbaar dat Marius Louw laat in die wedstryd 'n geelkaart gekry het vir 'n gevaarlike duikslag. Dit het beteken dat Makazole Mapimpi se tweede “drie” nie toegeken is nie.
Puntemakers: Haaie 28 (16): Drieë: Dan du Preez, Robert du Preez, Makazole Mapimpi. Doelskoppe: Robert du Preez (2). Strafdoele: Robert du Preez (3). Rebels 14 (14): Drieë: Tom English, Jack Maddocks. Doelskoppe: Quade Cooper (2).

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie