Gryp geleenthede aan wat jou pad kruis

Die eienaar van 'n kindergarten op Rosh Pinah wil die skooltjie uitbrei en sy is gretig om verder te leer.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Ek praat baie met jong meisies hier in my dorp, Rosh Pinah, en ek sê vir hulle: Sien julle my seun? Hy was nie 'n ongeluk nie. Hy was beplan. Ek en die pa het gaan sit, daaroor gesels en alles beplan.

“Hierdie waar julle nou iemand leer ken en vanaand saam met hom slaap en swanger word, werk nie. Dan is julle in sak en as en wil selfdood pleeg of die baba weggooi'.

“Wanneer ek met hulle praat, stem hulle almal saam, maar wanneer die naweek kom dan sien ek hoe hulle hulself wangedra,” het Esseline Gomaxas (30), die eienaar van die Tutungeni Day Care Pre-School op Rosh Pinah gesê.

Esseline is op Rehoboth gebore en het daar grootgeword en skoolgegaan. Sy wou deur Namcol verder studeer, maar weens finansiële redes kon sy nie en het besluit om vir haar tannie Louisa Eises op Rosh Pinah te gaan kuier.

Louisa het in 2015 met 'n baie klein kindergarten by haar huis begin en in 2016 het sy met die hulp van RoshSkor Township (Pty) LTD die kindergarten geskuif en uitgebrei.

“My tannie is in 2016 oorlede en ek het die kindergarten oorgeneem. Ek moet my tannie bedank, want sonder haar was ek nie vandag waar ek is nie.”

By die kindergarten wat in die Tutungeni- informele nedersetting geleë is, is tans 51 kinders tussen die ouderdom van een tot ses jaar. Hulle word deur drie onderwysers onderrig.

“Die gemeenskap het die kindergarten so begin noem. Dis eintlik as Louisa's Ark Day Care and Pre-school geregistreer. Ek wil die kindergarten uitbrei sodat ons in die toekoms ook graad 0 hier kan aanbied en dalk ook graad 1.”

Esseline wou al van kleins af 'n onderwyseres word; 'n droom wat bietjie later in haar lewe op Rehoboth versterk is.

“Ek het 'n kêrel gehad en ons wou trou. Ons het ons families ingelig en ons toekomsplanne was op dreef. Vir hom het dit 'n kind ingesluit; iets wat ek nie op daai tydperk vir hom kon gee nie. Ons planne het verander en ons is uitmekaar.

“Dit was nog 'n rede hoekom ek Rosh Pinah toe gegaan het. Die droom om 'n onderwyseres te word en kinders op te lei, is daardeur versterk, omdat ek gedink het ek kan nie kinders kry nie. Eers toe ek 27 jaar oud was en my seun beplan het, het ek swanger geraak.”

Sy wil in die toekoms deur langafstandonderrig nog steeds haar diploma as onderwyseres verwerf.

“Ek wil Engels en wiskunde vir preprimêre kinders gee.

“In die namiddae kom reeds talle van die kleintjies wat by die preprimêre skool van graad 0 en 1 skool gaan vir ekstra klasse. Dit maak my baie trots wanneer ek van die ouers terugvoering kry oor hoe goed hul kinders in die skool vaar.”

Esseline hoop om in die toekoms ook 'n sopkombuis by die skool te begin.

“Die kinders moet hul eie kos van die huis af bring, maar daar is baie wat sonder kos opdaag en honger ly. Die nood daar buite is groot en ek wil graag vir die kinders ietsie gee om te eet.”



RAAD

“Wanneer jy jonk is, het jy baie drome, maar jy moet fokus op wat jy kan bereik. Almal van ons het drome en soms kan hulle nie verwesenlik word nie, soos in my geval weens 'n gebrek aan finansies.

“Dan moet jy gryp wat oor jou pad kom. Ek het die geleentheid aangegryp om by my tannie se kindergarten te werk en kyk waar is ek vandag.

“Ek is in die posisie waar ek mense kan aanstel en waar ek hopelik verder kan gaan leer.”

Sy sê sy probeer veral om jong meisies die geleentheid te gee om by die kindergarten uit te help.

“Hulle kom werk vir twee of drie dae en dan bly hulle weg, want hulle kan skielik nie met kinders werk nie. Nou sit hulle by die huis en doen niks met hul lewe nie. Ek sien ook jong mense wat by die universiteit geleer het, dan doen hulle aansoek vir werk en gaan sit by die huis en hoop en bid dat die werk na hulle toe kom.

“Ek gebruik elke geleentheid om te leer; iets waarvoor 'n mense nooit te oud is nie. Wanneer die skool byvoorbeeld vra of ek kan kom uithelp, dan gaan help ek uit. Ek hoef nie betaling te kry nie, want ek leer iets nuuts; iets wat my dalk vorentoe in die lewe kan baat.

“Niks in die lewe kom maklik nie en jy kry nie altyd wat jy wil hê nie. Jy moet daarvoor werk.”

Kommentaar

Republikein 2024-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

LaLiga: Athletic Club 1 vs 1 Granada SerieA: Cagliari 2 vs 2 Juventus | Genoa 0 vs 1 SS Lazio Katima Mulilo: 16° | 35° Rundu: 16° | 34° Eenhana: 18° | 35° Oshakati: 20° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 18° | 33° Otjiwarongo: 17° | 31° Omaruru: 17° | 33° Windhoek: 16° | 30° Gobabis: 17° | 31° Henties Bay: 17° | 24° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 07:53, High tide: 14:09, Low Tide: 19:53, High tide: 02:00 Swakopmund: 17° | 21° Wind speed: 23km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:07, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Walvis Bay: 19° | 27° Wind speed: 30km/h, Wind direction: SW, Low tide: 07:51, High tide: 14:06, Low Tide: 19:51, High tide: 02:00 Rehoboth: 18° | 32° Mariental: 21° | 34° Keetmanshoop: 23° | 34° Aranos: 20° | 34° Lüderitz: 18° | 31° Ariamsvlei: 23° | 37° Oranjemund: 16° | 27° Luanda: 26° | 29° Gaborone: 20° | 33° Lubumbashi: 15° | 26° Mbabane: 16° | 30° Maseru: 13° | 27° Antananarivo: 13° | 27° Lilongwe: 15° | 27° Maputo: 19° | 32° Windhoek: 16° | 30° Cape Town: 17° | 26° Durban: 19° | 26° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 24° | 29° Lusaka: 17° | 28° Harare: 14° | 29° #REF! #REF!